|
|
|
Sondag 6 Augustus 2000 |
|
Eer God in alles wat jy doen |
|
Ds. Christie van Zyl |
|
|
| SKRIFLESING | SPR 3 |
| BOODSKAP | |
|
Een van die mees invloedryke Christen-sielkundiges van ons eeu was Victor Frankl. Tydens sy gevangenskap in die Duitse konsentrasiekampe het hy werklik die lewe leer ken. Hy het vanuit sy kundigheid en ervaringe die mens bestudeer en sy gewaarwordinge en nalatenskap sal in hierdie eeu en in die eeue hierna nog hoog aangeslaan en met groot vrug gebruik word. Frankl het elke mens se lewe op aarde vergelyk met ‘n opgerolde persiese mat. Nou weet ons ‘n persiese mat is nie net pragtig en baie kosbaar nie. Dit bestaan uit veelkleurige patrone wat in blokke gerangskik is om ‘n lieflike geheel te vorm. Die patrone is ook nie heeltemal simmetries nie, want dit is met groot sorg met die hand geweef en daar is geen twee van dié matte wat dieselfde is nie. Verder het hulle elkeen ‘n kenmerkende tekstuur, want die wol waarvan dit gemaak is, is nie in ‘n fabriek verwerk nie, maar deur die bedoeïene mense in Persië se landelike gebiede. Dit is ‘n eeue oue kunsvorm wat van toeka se dae af regoor die wêreld tot vandag hoog aangeslaan en waardeer word. Frankl sê u en ek is soos die wewer van ‘n mat. En die mat is ons lewe. Dis opgerol en elke dag word dit ‘n klein bietjie afgerol sodat dit elke dag bietjie-vir-bietjie deur ons gevorm en ingekleur kan word. Aan die einde van ons lewe behoort die mat op die vloer uitgesprei te lê : pragtig voltooid. En elke blokkie of strepie verteenwoordig dan die een of ander episode of handeling van ons lewe. Die ideaal wat met so-‘n lewensproses nagestreef
word, is dat ons lewe vir God plesier en vreugde moet
verskaf. Dit is dan ook die doel van u en my lewe : dat ons vir God
vreugde en plesier sal verskaf. Wat ook meebring dat daar nie veel van ‘n verhouding met God bestaan nie. Daarom waarsku die Spreuke-boek ons dat ons nie op ons eie insigte moet staatmaak nie, want dan kan ons lewenspatroon so maklik krom en skeef verloop ; dan kan dit maklik gebeur dat daar oningevulde blokkies en patroontjies in ons lewensmosaïek ontstaan. En dit is juis wat ons, mense nie graag wil hoor nie,
want ons glo ons kan self in beheer van ons lewe wees. Leef ons nie in ‘n
tyd wat hom veral daartoe leen nie ? Waarin daar die wonderlikste
geleenthede vir mense bestaan. Ons moet liewer op die Here vertrou - sê die Bybel vir ons vandag. Nie dat ons menslike prestasies enigsins buite God se beskikking val nie, inteendeel dit is mos Hy wat alles vir ons moontlik maak. Die verskil bestaan egter daarin dat ons die illusie mag hê dat ons self in beheer van alles is, maar dit inderwaarheid nie is nie. Mense mag in die versoeking kom dat hulle dink hulle het God nie nodig nie. Hulle kan self regkom en self na eie goeddunke hul lewensmatjie vleg. Wie van ons is nie in ‘n mate reeds reeds daaraan
skuldig nie ; dat ons ons nie meer deur God wil laat leer nie. Deur die Bybel wil God ons leer dat ons Hom opnuut as die enigste lewensmoontlikheid sal ontdek. Dat ons vir God sal
as die Outeur van die lewe en Hom in ons lewe sal ERKEN. Ons kan dit nie net met ‘n geloofsbelydenis doen nie, maar ook met dade van gehoorsaamheid, van toewyding en van lof. Dus kan u en ek ons hele RUIMTE van bestaan aan Hom toevertrou. Hierdie drie woorde : EIEN, ERKEN en RUIMTE spel die klein woordjie EER. Daartoe wil die Spreuke-digter ons begelei. Dat ons sal leer om in 2000 vir God te eer. Om maw van die begin tot aan die einde van ons bestaan onder sy beskikking aan Hom toegewyd te lewe. Op ‘n manier wat aan Hom vreugde sal verskaf. Hierdie ontdekking is dus ‘n nuwe manier van dink. Oor God en oor jouself. Oor hoedat jy jou lewensmat elke dag bietjie-vir-bietjie voor jou ooprol en hoedat jy betekenis aan elke blokkie gee. Met God - of sonder Hom. Met God - is wys Wat is jou keuse ? AMEN SLOTSANG LIED 45:1-3 [SOM]
|
|