|
|
|
Sondag 3 Desember 2000 |
|
JESUS BRING VREDE |
|
Ds. Christie van Zyl |
|
|
| SKRIFLESING | ROM 15:1-13 |
|
BOODSKAP |
|
| ‘n Bekende strokiesprent
in koerante is dié van ‘Seppie’, die soldaat. Dit was veral gedurende
die tyd van die grensoorlog dat dit baie gewild was. Daar was Seppie, die
sersant en die generaal en Seppie was die dom troepie, maar wat gewoonlik
die treffervrae aan die sersant gevra het.
Eendag was hulle met ‘n skietoefening doenig toe Seppie die sersant vra waarom hulle dan moes oefen om te skiet. Gedurende die laaste 3000 jaar was daar maar vir ongeveer 300 jaar vrede in die wêreld – was die sersant se antwoord. Maar dan moet ons mos eerder oefen om vrede te maak as oorlog – was Seppie se mening. Dit kos nie 3000 jaar van lewe om agter te kom hoeveel oorlog en geweld daar in die wêreld is nie. Vredespogings in die Midde-Ooste kom netnie van die grond af nie en selfs tienerseuns skiet met outomatiese wapens op mekaar. Ons eie land het ‘n droewige oorlogsverhaal wat in episodes wat op mekaar volg oorvertel kan word. Die slothoofstuk is blykbaar nognie geskryf nie. Waar daar mense is, kom moeilikheid. Want mense se belange, verwagtinge, menings en ideale verskil van mekaar. Dit veroorsaak konflik en konflik kan so maklik oorgaan in onvrede en geweld. Dis nie net ‘n internasionale ding nie. Dis ook ‘n interpersoonlike ding. Dit kan selfs ‘n innerlik ding wees waar net ekself betrokke is – wanneer ek nie vrede met myself het nie. Hoeveel vrede is daar in u lewe – aan die einde van 2000 ? Miskien was hierdie jaar wat met soveel opwinding begin is, nie vir u ‘n goeie jaar nie. Dalk ‘n bietjie spanning by die werk of gesinsverhoudings wat verswak het. U het miskien ‘n draai in die hospitaal gemaak of die bankbestuurder is nie meer so vriendelik nie. Onsekerheid oor so baie dinge druk vir u vas. Die dood het dalk aan die deur geklop. ‘n Jarelange verhouding wat skipbreuk gely het …… Ag soveel dinge wat verkeerd kon gaan. En God ? Wat van God ? Het u vrede met Hom ? So maklik verwyt ons vir God. Of netso erg – vergeet ons van Hom. Het Hy vrede met my ? Is Hy gelukkig met my ? Met wat ek doen en hoe ek leef ? Vir Paulus gaan dit in Romeine 15 oor vrede. En dan is dit die vrede wat oor grense strek. In hierdie geval vrede met die mense wat nie deel van die gemeente was nie of selfs ook nie eens gelowige Christene was nie. Om Christus ontwil, sê Paulus – moet daar vrede met hierdie mense wees. Omdat Jesus Christus God se vrede vir mense is. Omdat Hy vrede tussen ons en God bewerkstellig. Dit is die rede vir sy koms. Ons eie vrede – waar dit kom by die oorloë van die wêreld of die onmin met kollegas en familie en dié in ons eie harte – begin by die verskil wat Jesus Christus in ons lewens moet maak. Vrede is ‘n saak van die hart. Dit moet hier binne-in ons begin. Wanneer God se Vrede, naamlik Jesus Christus in ons harte vasslaan, word vrede vir ons moontlik. Andersins nie. Dis tyd dat die wêreld se mense begin oefen aan vrede en nie aan oorlog nie. Daarin moet Christene hulle dit ver vooruit wees, want Jesus het ons dit kom leer. Kersfees is die regte vertrekpunt. Dis ‘n tyd van welwillendheid selfs onder die heidene. Maar deur Jesus se koms gevul met die welwillendheid van God. En dit begin by die wegneem van die sondes van die wêreld. So word dit vir ons ook moontlik om mekaar en onsself te vergewe – terwille van VREDE ! AMEN |
|
|
|
|