|
|
|
Sondag 22 Oktober 2000 |
|
LAAT ONS SY OORWINNING VIER |
|
Ds. Christie van Zyl |
|
|
| SKRIFLESING | KOL 2:6-15 |
| GELEENTHEID | NAGMAAL |
| BOODSKAP | |
|
Die duiwel is darem ‘n slinkse kêrel. Op ‘n manier kry hy dit reg om altyd in die nuus te wees en hy beskik oor die vermoë om selfs Christene se lewens vir hulle goed om te krap. Sy werk is nie net sigbaar in die goddeloosheid rondom ons nie, maar hy slaag ook daarin om vertwyfeling, onsekerheid en angs in Christene se binniste te saai. Onlangs het ‘n dame my hoogs ontsteld gevra na die oosterse beeldjies in haar huis. Christenvriende het haar daaroor vermaan en wou hê sy moes hulle stukkend gooi, want dit sou vanweë hul herkoms ‘n duiwelse houvas op haar hê. Sy het my ook vertel van ‘n ander vriendin wat sover gegaan het dat sy haar persiese matte verbrand het toe sy tot die oortuiging gekom het. Die dame was baie verward en het nie geweet hoe sy hieroor moes dink nie. ‘n Klompie jare gelede het mense op hol geraak oor kredietkaarte en die geheime nommer wat daaraan verbind word. Dit sou die getal van die dier van Openb 13:18 wees, het hulle beweer. Nie baie lank gelede nie was daar ‘n hernude paniek rondom die halaal-merk waarmee sekere voedselprodukte gemerk word ter wille van Moslem-verbruikers. Christene het petisies opgetrek en kilometers ver gery om produkte in die hande te kry wat nie die merk op het nie. Vir sekere Christene is die internet van die bose. Dit streef een wêreldorde na wat alle grense tussen goed en kwaad sou wegvat. Wat moet ons met sulke dinge maak ? Hoe moet ons daaroor voel ? Wat leer die Bybel ons hieromtrent ? In die Kolossense-brief blyk dit dat in daardie gemeente ook ‘n aantal mense was wat in vrees vir bose dinge gelewe het. Hulle het hul medegelowiges die heeltyd vermaan om nie sekere soorte kos en drank te gebruik nie, want deur dit te doen sou hulle hulle oopstel vir die satan. Hulle sou God verloën en moes uit dwang sekere feesdae huldig. Die gemeente in Kolosse was in rep en roer. Baie verward en onseker. Ons moet ook onthou dat baie van die gemeentelede uit die heidendom kom waar sodanige gebruike en rituele die algemene godsdienstige praktyk was en hul vorige godsdiens op die vrese van mense geskoei was. Aan die gemeente gee die brief van Paulus raad : "Pas op dat niemand julle van Christus af wegvoer deur teorië en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorleweringe van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie." (Kol 2:8). En dan gaan die brief voort met ‘n baie konkrete beeld : Die bose waarvoor ‘n klomp van die mense so bang is, is soos ‘n vyandige leër wat teen God oorlog verklaar het. Toe het God sy Generaal, Jesus Christus gestuur om dié leër te oorwin, wat Hy toe ook gedoen het. En soos dit die gebruik van daardie tyd was, as krygsgevangenes saamgebring en geboei in kettings nakend deur die strate van die tuisstad in optog te laat loop, as teken van die oorwinning. "Hy het die bose magte ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as krygsgevangenes in die triomftog van Christus mee te voer." (Kol 2:15) Die ruimte waarin u en ek as God se mense lewe, is God se ruimte. En alles wat daardie ruimte bedreig, het Hy in Christus vernietig. Daarom hoef daar by ons geen vrees te wees nie. ‘n Christen is ‘n nuwe mens by wie God intrek geneem het. Dis iemand wat oor die krag van Christus beskik. Dis mos wat Mateus ook sê by Mat 28 wanneer hy ons verseker van Chistus se teenwoordigheid en mag. Om te vrees is om Christus gering te ag ; om Hom nie op sy woord te neem nie ; om sy mag te misken. Om beangs te leef en ‘n duiwel om elke draai te sien, is om nie vir Christus te sien nie. Om onsself te laat bind deur menslike godsdienstige reëls, is om nooit die vryheid te vind wat God ons gegee het nie. Nuwe mense se perspektief op die wêreld met alles wat daarop gebeur, begin by die oorwinning wat Jesus aan die kruis behaal het. Ons staan op die sypaadjies van die oorwinningstad en juig die Oorwinaar toe. Ons sien die vyand in kettings en weet hy’s vir goed gebind. Sy mag is gebreek ; die oorlog is verby ; die oorwinning is behaal. Daarom is ons nie soldate nie, maar verslaggewers ; getuies. Ons kan die verhaal oorvertel en oorvertel en nogmaals oorvertel. En dis wat ons vanaand doen wanneer ons die nagmaal gebruik. Dis die teken van die groot oorwinning, die seël, soos ‘n foto met ‘n nuusberig en ‘n byskrif. En dis uiters nuuswaardig. Ons kan dus nie aan die een kant getuies wees en aan die ander kant bly vrees nie. Dan weerspreek ons onsself. Ons kan nie Christene wees wat in God se mag en Jesus se uitnemende oorwinning twyfel nie. Ons moet die betekenis van die kruis op Golgota verstaan en oor die oop graf moet ons onophoudelik en uitbundig juig. Dis rede tot die grootste feesvreugde. Ons moet ons oorwinningsbaniere laat wapper sodat die wêreld kan sien en kan glo. En daarom hoef ons jongmense nie bang te wees vir die toekoms nie. Want Jesus het al die oë wat uit die duister onbekende loer, toegedruk. Hy het alle bose ongediertes verwilder en bied ons sy beskerming. Jesus het ons lewensruimte binnegetree en dit vir Homself kom opeis namens ons. Daarom moet ons perspektief op die wêreld vanuit Christus se triomftog wees met die oog op die finale oorwinning van die liefde. Dit het Hom sy lewe gekos. Dis ‘n duur prys. Maak dit dus die moeite werd en vertrou op Hom. AMEN
|
|