Sondag 22 Oktober 2000

WANNEER JESUS BY JOU KOM INTREK NEEM

Ds. Christie van Zyl


OGGENDDIENS
SKRIFLESING 1 JOH 1:1 – 2:6
BOODSKAP

So ‘n tyd gelede kon u op televisie die proses volg van ‘n jong olifantjie wat by ‘n trop ingeskakel moes word. Dit was ‘n hans olifantjie wat natuurlik nie vir altyd by sy mens-maats kon bly nie. Maar die inskakelingsproses was ook nie maklik nie. Daarom is dit oor ‘n hele aantal episodes gebeeldsend sodat u begrip kon kry van die moeite waarmee so ‘n projek gepaard gaan. Met baie kundigheid en opofferings is die projek fyn beplan en geïmplementeer. Maar dit was eintlik geduld wat nodig was. Want die trop wat die nuweling moes ontvang, moes daartoe oortuig word. Hulle het verskillende vorme van gedrag geopenbaar ; eers weggehardloop, die nuweling geïgnoreer, bestorm en alles probeer om vir hom te wys dat hy nie by hulle welkom is nie.

Ek dink Jesus voel dikwels soos hierdie olifantjie.

God het Hom na die wêreld toe gestuur, maar die wêreld wil Hom nie ontvang nie. Nie tydens sy menswording nie – en ook nie nou nie.

God het Hom na die wêreld toe gestuur met ‘n bepaalde missie ; om die mens te vergewe van sy sonde, maar die mens, wil dit voorkom, leef in daardie sonde voort. En wil nie vir Jesus toelaat om hom daarvan vry te maak nie.

En dis nie net ‘n teoretiese stelling nie. Dis ons samelewing wat op ‘n snelle vernietigingsvaart in momentum toeneem – elke dag.

Dit verg geen doemprofeet om die mag van sonde te ontsyfer nie. Ons elkeen kan dit doen en doen dit daagliks ook.
Die tekens van sonde lê oop en bloot.
Ons herken die effek daarvan in die gruwelike morele verval ; die feit dat baie mense niks van God of Christus wil weet nie. Hy is vir hulle geen faktor nie. Hulle leef asof Hy nie bestaan nie ; nie in sy genade nie en ook nie in sy oordele nie.

Dis sulke mense wat in bybelbeeldtaal in die duisternis is; verlorenes noem die Christene hulle; mense wat die bus verpas het ; wat hoe wreed dit ookal klink, op pad is na die hel ; wat hoor van God maar van Hom niks wil hoor nie. Duisternis-mense. Objekte vir die sending ; moderne heidene wat tussen ons woon en werk. Bekendes wat op vele terreine leiers en presteerders is, maar wat die gees betref, leeg en koud is.

En laat ons geen illusies oor hulle hê nie ; dis ook vir hulle dat Jesus gekom het en sy lewe gegee het.

Dis vir hulle wat Hy wil red van sonde. Nie net van enkele klein sondige dade wat God en mens hulle sien doen nie, maar van Sonde wat ons met ‘n hoofletter kan spel. Dit is die toestand van verlorenheid ; die mag van die bose ; die greep wat satan op mense het ; die mislyding van dwaalleer en ongeloof ; die aanbidding van vals gode ; die vergoddeliking van die mens.
Maar daar is ook diegene wat in die lig is ; wat deur God uit die duisternis geroep is.

Dis mense wie se sondes vergewe is ; wat deur God se genade ‘ja’ gesê het vir die genade.
Johannes sê : "Ek skrywe vir julle, liewe kinders omdat julle sonde vergewe is ; omdat julle Jesus ken ; omdat julle die bose oorwin het ; omdat julle ook die Vader ken ; omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly."

Hy skryf nog mooier en groter dinge : "Ons is nou reeds kinders van God ; iemand wat in Christus bly, doen nie meer sonde nie, want die Gees van God woon in hom."
En die Christene sê : "Wow, is dit moontlik ?"

Ja, dit is moontlik, maar mits. Mits die vakuum wat deur vergiffenis gelaat is, met liefde gevul word.

En dis waarom Jesus dikwels in die geselskap van die kerk, van gelowige mense steeds soos die olifantjie voel. Onwelkom, uitgesluit, vreemd, want die liefde het nog nie ingekom nie ; of dit het vanweë gedurige stuikeling uitgesluip.

Want ‘n mens wat in die lig is, is ‘n mens wat nogtans kan struikel en jy sal ook struikel al kan die sonde vanweë Christus vir jou nooit weer in die duisternis laat nie.

Johannes het dit raakgesien die dag daar langs die see toe Petrus vir Jesus drie maal verloën. (Joh 21). En Jesus vir hom keer op keer vra : Simon, seun van Jona, het jy my lief ?

Agterna sou Johannes aan ons skryf : "Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is : iemand wat nie regverdig lewe nie, en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie."

Vergiffenis en liefde het alles met mekaar te doen.

En liefde is net moontlik wanneer Jesus by jou kom intrek neem. In ons harte, in ons huise en hier in ons gemeente. Maar ons moet vir Hom ruimte maak om ons lewens te vul ; en dit vind plaas deur sy vergiffenis.

En so word dit ook vir ons moontlik om mekaar te vergewe en van voor af lief te hê.

Mans en vrouens wat met mekaar getroud is moet dit voortdurend met mekaar doen – vergewe en liefhê.
Ouers en kinders moet dit oor en weer doen. Vriende. Familielede. Landsgenote. En vyande, het Jesus beveel. Ja, ook vyande. Al is dit ook hoe swaar.

As jy op pad is kerk toe, nagmaal toe en dit val jou by iemand het ‘n aksie teen jou, moet jy omdraai en dit eers met hom gaan regmaak.

Mense wat uit die duisternis die lig in geroep is, is mense wat vanweë God se vergiffenis liefde in hulle harte omdra. En hierdie liefde is netsoos God se liefde. Dit vra nie vrae nie en stel geen voorwaardes nie. Dit vra geen beloning nie en hou boek van niks nie. Dis onvoorwaardelik, vry en onbeangs.

En dis die soort van liefde wat God hier onder ons in sy gemeente wil sien gedy. Tussen die mense wat uit die duisternis na die lig geroep is.

AMEN