Sondag 20 Augustus 2000

Jesus verander tekens van dood in tekens van lewe

Ds. Christie van Zyl


SKRIFLESING HEBR 12:1-6,12
BOODSKAP
 

Die graad 6 juffrou het op die laaste dag van die kwartaal vir die kinders in haar klas ‘n werkopdrag vir die vakansie gegee. Elke leerling moet op die eerste dag van die nuwe kwartaal met enige projek by die skool opdaag. Daar sou ‘n lekker prys vir die wenner wees. Party kinders het so lekker vakansie gehou dat hulle daarvan vergeet het. Ander was baie vindingryk. Daar was ‘n waterwiel en ‘n papierboot, soutkristalle en ‘n taak oor die luiperd en nog baie meer.

Die stilste en skaamste dogter in die klas het met ‘n skoenedoos vol gate opgedaag. En toe dit haar beurt was om te verduidelik het sy vertel van die duifie wat teen die vensterruit vasgevlieg en sy vlerk beseer het. En sy het dit haar projek gemaak. Elke dag het sy die hokkie skoongemaak, vars water en kos ingesit en seker gemaak die vlerk is nog reg gespalk.

Sy stap toe na die oop venster van die klaskamer, haal die duifie uit en laat hom vry.
Haar projek was voltooid.
Die klas het saam besluit om aan haar die eerste prys toe te ken.

Hierdie is geen uitsonderlike verhaaltjie nie, want kinders doen nogal sulke dinge soos om na siek diertjies om te sien. Maar dit wil ons tog vandag aanspreek. Veral omdat die beseerde duifie ons aan onsself herinner.

Elkeen van ons is in die woorde van die doopformulier ‘in sonde ontvang en gebore’. Dit beteken dat ons nog voordat ons tot enigiets instaat was al werklike sondaars was. Dis deel van menswees. Dis iets waaraan ons niks kan doen nie. Dis soos ‘n geneties oorgeërfde siekte.

Verder leef ons ook nog in ongeregtigheid. Langs die lewenspad het die satan sy hand op ons kom sit en poog hy gedurig om beslag op ons te lê. Ons dra almal die littekens van die sonde en dikwels lê die wond nog baie rou. Soms lê dit sommer op die oppervlak van ons menswees. Ander kere steek ons dit diep weg. Ons maak presies maar soos Adam en Eva. Ons vind gou-gou ‘n vyeblaar. Dis maar moeilik vir ‘n mens om aan God gehoorsaam te wees. Ons kry dit partykeer reg. Maar gou-gou gaan die bose met ons op loop. Ons konformeer maklik. Die vloed van welvaart en aardse ideale word versoekings om ons weg te lei van God. En dikwels gee ons toe.
Dis nie moeilik om raak te sien hoe christelike waardes en norme uit ons gemeenskap en selfs ons huise verdwyn nie.

U en ek dra die letsels van ons eie geestelike kortsigtigheid. Die wedloop is vir ons te straf. Ons sukkel om vol te hou. Uiteindelik kom ons tot by die oer-oue besef :

Ons kan onsself nie red nie !
Ons ontdek opnuut wat christene lank voor ons ook ontdek het :

Net Jesus kan ons red. En Hy doen dit graag. Hy kon vermag wat u en ek nie kan nie. Hy het dit gedoen deur die dood aan die kruis te oorwin. In ons plek ; vir ons ; namens ons.

En deur dit te gedoen het, maak hy dit vir ieder en elk van sy kinders moontlik om te volhard ; om die wedloop met sukses te hardloop.
In sy wonde sit daar vir ons genesingskrag. Dit versterk ons en open nuwe moontlikhede. Dit maak elke tree van ons eie lewe betekenisvol - nie net die einde nie. Daarom is elke dag nodig - elke oorwinning - elke oomblik van versoening.

Ons lewens is gelaai met betekenis - solank Hy die middelpunt daarvan is. Dan is die onvermoë waartoe sonde ons bring, ook nie meer ‘n probleem nie. Want dit is oorwin - en in Christus leef ons die nuwe lewe - die oorwinningslewe.

Dis nie net iets vir ‘eendag’ nie. Dis ook vir nou.

En daarom kan ons nou in Hom vreugde vind. So word die tekens van die nagmaal oorwinningstekens.
Dit wat aanvanklik dui op dood, verander in die teendeel. Liggaam wat gebreek word en bloed wat vergiet word, verander in geesteskos. Dit versterk en bring nuwe lewe. Dit gee krag en les ons dors.

Jesus het gesê : ‘Ek is die brood van die lewe. Neem, drink en eet - dit is my liggaam en bloed - dit is vir julle’.

Wanneer dit vir u uitegedeel word, neem dit en gebruik dit tot verheerliking van God wat in Christus vir u laat oorwin.
Hy het reeds aan u die lewe gegee - en vandag gaan Hy voort met die versorging van sy kinders. Daarom is hierdie nagmaalsfees ‘n vreugdefees.

AMEN

FORMULIER & BEDIENING

SANG LIED 16:1

OFFERGAWES

SLOTSANG LIED 35:1

SEEN