|
|
|
Sondag 15 Oktober 2000 |
|
DIE HERE ROEP JOU TOT 'N NUWE IDENTITEIT. GEBRUIK DIT EN VERHEERLIK HOM. |
|
Ds. Christie van Zyl |
|
|
| SKRIFLESING | 1 PETR 2:4-17 |
| BOODSKAP | |
|
In die Bybel lees ons van verskillende wonderwerke. Die Here Jesus het toe Hy op die aarde was, baie van hierdie wonderwerke gedoen. Benewens dié wat in die Bybel vir ons opgeteken is, het Hy nog baie ander ook gedoen. Selfs die apostels kon onder die werking van die Heilige Gees sulke buitengewone dinge vermag waardeur God die mense wou oortuig om in Hom te glo. Ons het egter vanaand hier ook met ‘n wonderwerk te doen en dit is die wonderwerk van die geloof. Om in God te kan glo, is nie iets wat vanself gebeur nie. ‘n Mens kan ook nie uit jou eie dit in jou of in enigiemand anders se lewe bewerkstellig nie. Dit is ‘n gawe wat deur God aan jou gegee moet
word. Paulus sê by 1 Kor 3:6 hy het die saad van die evangelie gesaai, Apollos, sy medewerker het natgegooi, maar dit is God wat die geloof in mense se lewens laat groei het. Daarom kan ons nie anders as om by ‘n geleentheid soos vanaand die Here te loof en te eer vir dit wat in die lewens van hierdie 27 jongmense gebeur nie ; dat hulle elkeen met oortuiging kan bely dat hulle in die Here glo ! Inderdaad is dit ‘n wonderwerk. Vir sommige het die Here dit dalk baie maklik gemaak ; asof hul geloof ‘n natuurlike uitvloeisel van hul opvoeding was. Vir ander was dit dalk ‘n stryd wat met struweling en twyfel gepaard gegaan het. Maar in elke geval ‘n wonderwerk. Want die geloof is dit. Dis ‘n gawe van God. Vanaand is dus ‘n baie besondere geleentheid waar ….
Dis ‘n hoogetepunt in jou jong lewe wat jy tog vir altyd moet onthou. Dis ‘n oorwinnings-geleentheid waar jy deel in die oorwinning wat Jesus vir jou aan die kruis op Golgota behaal het. En die oorwinning beteken dat jy nie ‘n slaaf van die sonde is nie ; dat jou skuld voor God versoen is ; dat jy ‘n nuwe mens is met ‘n nuwe identiteit. Jy’s Christen, kind van God, uitverkore, geroep om te deel in al God se seëninge. Maar dis ook ‘n andersoortige oorwinning. Een wat vreemd is aan die wêreld want dis ‘n oorwinning wat jy erf. Jy het dit nie self verwerf nie. Die Here het alles vir jou gedoen. Jy moet dit net aanvaar en vanaand vir eens en altyd vir jouself toeëien. En jy mag dit maar met vrymoedigheid doen, want God wil dit so hê. Hy het dit self so beskik dat jy vanaand hier sal wees om hierdie medalje te ontvang. Kom ons luister na wat die Bybel sê dié medalje vir jou beteken : Dit beteken dat elkeen van julle ‘n besondere mens is wat deur God raakgesien is en verkies is om anders te wees as baie ander mense. God het jou in sy genade aangesien en jou toegevoeg tot die mense wat reeds in sy heerlikheid deel. Jy het dus geloofsfamilie ; mense wat saam met jou vir God eer en vir Hom lewe. Jy heers saam met Jesus oor sonde. Dit hoef nie vir jou te oorrompel nie en jou telkens in skuld voor God te laat nie. En vir die duiwel hoef jy nie te vrees nie al probeer hy hoe hard om jou in sy greep vas te trek. Solank jy aan God behoort, kan hy geen houvas op jou kry nie. Dit is iemand wat in diens van die Here staan. En jy doen dit deur aan Hom offers van lof en aanbidding te bring. Jy is ‘n geestelike mens met ‘n geestelike lewe. Jy leef in hierdie wêreld, maar word nie so deel daarvan dat dit jou van jou Here af weglok nie. Jy is voortdurend besig om met woord en daad vir Hom te aanbid. Want God het jou opsy gesit vir Hom. Hy het jou sonde vanweë die dood en opstanding van Jesus weggeneem en jou regverdig verklaar. Hy laat daardeur die wêreld verstaan : hierdie is my oorwinningskind. Hy behoort aan my.Kyk net ! Hy begin reeds my eie gelaatstrekke toon. Hy word al hoe meer soos ek. Hy is my eiendom. Nou wil dit lyk asof die Here nie net vir julle elkeen vanaand ‘n goue medalje gee nie, maar asof Hy julle heeltemal toepak onder sy geloofsgeskenke. Jy het ‘n baie besondere identiteit waarmee jy die lewe wat op jou wag, kan gaan aandurf. En dit is nie sommer ‘n vrywillige keuse nie. Dit is God se noodsaak vir jou. Hy het elkeen van julle nodig en Hy wil vir julle in sy koninkryk gebruik. 2. DIE HERE SKAKEL JOU VANAAND IN SY GODDELIKE NETWERK IN Dis soos ‘n webstelsel op die internet wat interaktief met mekaar kommunikeer. God se kinders is besig in die wêreld. Ons lewe soos mense wat verlos is, wat uit die duisternis van sonde oorgeroep is na die ligglans van God se genade ; soos priesters en konings wat deur God self vir Hom uitgekies en afgesonder is. Maar met ‘n baie duidelike boodskap wat vertel van die verlossingsdade van ons Here Jesus en van sy koninkryk wat anders is as dié van die wêreld en wat aanhou tot in ewigheid. Dis mondwoorde en daadwoorde. En dit omsluit jou hele lewe. Jy is nou ‘n dienskneg of ‘n diensmaagd vir God ; ‘n dissipel wat in Jesus se voetspore trap deur sy navolger te wees. Daarom kan jy nie sommer leef soos jy wil nie. Jy leef soos God wil, want jy behoort aan Hom. Dit is mos wat jy nou-nou gaan bely. En omdat Hy die Begin en Einde van jou bestaan is, is alles wat tussen jou begin en jou einde gebeur, op Hom afgestem. Binnekort gaan julle beroepe kies en jullesself daarvoor voorberei. Julle gaan hegter vriendskappe smee en julleself in verhoudings bevind. Julle gaan ‘n lewenstyl ontwikkel en norme en standaarde vir julle lewe uitwerk en vestig. Julle gaan sukses behaal en teleurstellings beleef. Benader al hierdie dinge vanuit julle geloof in God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Moet niks sê of doen sonder dat julle Hom daarin geken en opreg sy
wil gesoek het nie. AMEN |
|
|
|
|