Sondag 12 November 2000

DIE HERE WIL INGAAN - GOD IN ONS MIDDE

Ds. Christie van Zyl


SKRIFLESING PS 24

BOODSKAP

In die jare tagtig het die owerheid ‘n geëlektrifiseerde heining tussen SA en Mosambiek opgerig. Die doel daarvan was om toegangsbeheer tussen die twee buurlande toe te pas. Op ‘n plek waar die heining sou deursny het daar egter ‘n inheemse stam gewoon wat onbewus daarvan was dat hulle onmiddelike woongebied in twee gesny sou word. Die heining sou meebring dat familielede wat daagliks by mekaar gekuier het, dit nou nie meer sou kon doen nie. Hulle sou in twee verskillende lande woon en burgers van twee verskillende lande wees met geen kontak met mekaar nie ; geskei deur ‘n elektriese heining met rolle en rolle lemmetjiesdraad tussen hulle. Gelukkig het die owerheid van die dag hierdie dilemma besef en met menslikheid en sensitiwiteit ‘n hek of poort in die heining aangebring wat deur die mense gebruik kon word. Vir ‘n hele paar jaar het dit goed gewerk en daar was geen probleme nie.

Tot op ‘n dag, nie baie lank gelede nie het die weermag wat die grens daagliks patrolleer, opdrag gekry om die hek permanent te sluit. Dit sou beteken dat die plaaslike mense 400 km ver moes reis, met die nodige paspoorte en permitte en die nodige koste daaraan verbonde deur twee grensposte moes gaan om vir ‘n koppie koffie by die familie oorkant die grens te gaan inloer. Met hulle karige bestaansvermoë was so ‘n oefening nie vir hulle moontlik nie en is hulle besig om van mekaar te vervreem. Dit gaan nie net oor die kuier oor en weer nie, maar oor die bestaan en toekoms van hulle stamkultuur wat vir hulle van groot belang is.

‘n Poort of grens het ‘n tweeledige doel :

  • Dit hou ongewenste elemente uit.
  • Dit verleen toegang vir mense wat daardeur mag gaan.

Vir Dawid wat Jerusalem opgebou het en wat ook ons tekspsalm geskryf het, was ‘n poort ‘n alledaagse en doodnatuurlike ding. Soos wat toegangsbeheer by geboue en parkeerterreine en selfs by ons huise ook al ‘n natuurlike ding is.

Dawid impliseer dat daar orals in ons lewens poorte is waardeur God wil gaan. God, wat die skepper van ons wêreld en ook van ons harte is, wil ingaan. Hy wil tuiskom in die midde van sy wêreld en tussen sy kinders. En omdat Hy God is, is dit nie met vyandigheid dat Hy die stad wil binnegaan nie, maar met goeie wil en betrokkenheid by die skepping wat Hy vir ons daar gestel het.

Daarom moet die poorte juig wanneer God voor hulle kom staan. Die gemeente moet bly wees en jubel om vir God in hul midde te ontvang. Die gesindheid van God se kinders moet ver by boergasvryheid verbygaan om Hom telkens te ontvang.

Ons moet nie net tot die besef kom dat God Immanuel – by ons – is nie, maar dat ons Hom as’t ware by ons teenwoordig moet maak deur Hom toe te laat en te ontvang.

Die Here volg die weg van menslike protokol :

Hy stuur sy Seun na die wêreld om self ‘n mens te word. En die Seun verklaar dit :

"Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe. " – Joh 14:6

"Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape." – Joh 10:11

"Ek staan by die deur van jou hart en ek klop daaraan. As jy oopmaak, sal ek ingaan en saam met jou maaltyd hou." – Openb 3:20

Maak ons dit vir God maklik of moeilik om in ons lewe in te kom ?

Watter aksie neem ons om Hom in ons hart te verwelkom en toe te laat dat Hyself deur sy Gees van ons besit sal neem ?

Hoe is dit gesteld in ons kerk – in ons gemeente – in ons erediens –

Is die kerk op ‘n Sondag vir ons ‘n ontmoetingsgeleentheid waar ons ons God in al sy grootheid en barmhartigheid ontvang en erken, loof en aanbid.

Die Here wil verseker dat die poorte hulleself sal vebly, want die magtige Koning wil ingaan. Die hedendaagse erediens moet ‘n plek en geleentheid wees waar die ewige God die hedendaagse mens ontmoet.

Maar ons moet vir Hom oopmaak. U en ek moet dit doen. Ons moet die stukkie tyd en die bietjie energie wat ons daarvoor nodig het, aanwend en uitbuit. Ons moet begin om entoesiasties te raak oor ‘n Sondag, want ons gaan kerk toe – na God toe, want ons maak ons deure vir Hom wyd oop en Hy is hier.

Ons moet onbevooroordeeld die Sondagviering met toewyding binnegaan en die erediens reg verstaan. Ons moet God daarin soek en Hom ook vind nadat ons vir Hom oopgemaak het.

En Hy sal saam met ons ‘n feesmaal hou.

"Verbly julle, poorte, wees bly, eeue-oue deure,
want die magtige Koning wil ingaan !

Wie is Hy, hierdie magtige Koning ?
Die Here, die Almagtige,
Hy is die magtige Koning." -
Psalm 24:9,10

GEBED