|
|
|
Sondag 10 September 2000 |
|
DIE DAG TOE DIE MENSE IN DIE STRAAT KERK GEHOU HET |
|
Ds. Christie van Zyl |
|
|
| SKRIFLESING | 2 SAM 6 |
| BOODSKAP | |
|
Die verbondsark was van Moses se tyd af die toonbeeld van die teenwoordigheid van God onder sy mense. Dit was rondom die ark waar hulle telkens bymekaar gekom het ; waar hulle God vereer het ; waar hulle Hom aanbid het ; vir Hom geoffer het en by Hom kom raad vra het. Die kere wanneer die ark van hulle af weggeneem is, was hulle ook sonder God. Of ten minste het hulle dit so ervaar. Wanneer die ark by hulle was, het dit goed gegaan. Dan het God hulle telkens geseën. Hy het hulle selfs hard aangespreek en hulle gestraf. Maar dit was vir hulle goed so, want hulle het geweet : God is met hulle. Die kere dat die ark nie daar was nie, was hulle verlore. Die oorloë waarin hulle betrokke was, het hulle verloor en dit het netnie goed gegaan nie. Tydens die laaste gedeelte van koning Saul se koningskap, het God Homself van hierdie liefling-koning van Hom onttrek, want Saul het boos en ontrou geraak. En toe is die ark ook deur die Filistyne weggevoer. Gou-gou het die ark vir die Filistyne groot teenspoed gebring en hulle het dit na die mense van Juda teruggestuur. Toe Dawid koning oor Israel word en in Jerusalem gaan woon, het hy die ark soontoe laat haal. Dit is die episode waarvan ons in 2 Sam 6 lees. Ons sou verwag dat dit ‘n geleentheid van die grootste feesvreugde sou wees. Inderdaad was dit, maar iets het verskriklik fout gegaan. Die osse wat die wa trek, struikel ; Ussa gryp om te keer en word deur God net daar en dan doodgeslaan. En Dawid wil nie meer die ark by hom hê nie. Later, toe hy verneem hoe goed dit met Obed-Edom gaan (waar die ark toe was), het hy teruggegaan en dit gaan haal. Hierdie keer ook met uitybundige feesvreugde, maar tog ook baie anders. Hierdie keer het dit nie meer om homself en sy ryk gegaan nie, maar om God. Die manier waarop die ark toe hanteer is, is die bewys van ‘n nuwe motief en gesindheid. Dawid en sy mense het hierdie keer in die straat rondom die ark van die Here as’t ware kerk gehou. Dit het nie meer om hulleself of enige ander bymotief gegaan nie, maar om die werklike teenwoordigheid van God self. Met sy kulties-godsdienstige handelinge het Dawid getoon dat hy as leier van Israel en Juda ook ‘n priester was. Hierdie aangrypende Ou Testamentiese gebeure het bepaald ‘n woord te sê vir ons eie aanbiddingswyse in ‘n Nuwe Testamentiese kerk vandag. Dit gaan vir ons ook om die werklike teenwoordigheid van die Here in ons kerk en erediens. Dat kerktoe kom nie maar bloot ‘n goeie christelike gebruik is nie, maar ‘n opregte erkenning van God en ook ‘n soeke na Hom ; aanbidding en lof aan die lewende Here wat ons in Christus so innig ontmoet en deur sy Gees ‘n intieme verhouding met elkeen van sy kinders sluit. Dis hier in die kerk waar ons krag ontvang om ook daar buite die aanslae van die duiwel af te weer. Elke erediens moet ‘n vreugdevolle gebeure wees, want dis hier waar God is ; waar sy Woord is en dié Woord verkondig word. Sonder dat ons ons aan Hom sal vergryp. Ons moet probeer verstaan wat Dawid ontdek het : God se teenwoordigheid is ‘n heilige een en mag nie die voertuig wees waarop ek my eie koninkrykie probeer dryf nie. Ons mag God dus nooit misbruik nie. Maar ons hoef oor Hom ook nie vreesbevange te wees nie. Want Hy is ons God wat met ons verbonde sluit en dit elke dag uitvoer. Hy is die God wat ons deur sy Gees ontmoet ; elke keer wanneer ons saamkom in sy naam. Hy neem ons sonde van ons af weg elke keer wanneer ons dit in opregtheid bely. Sodoende bring God sy kerk in ‘n ontspanne atmosfeer waarin ons Hom met oorgawe loof en prys. Dit is dus Hy wat hierdie geleenthede vir u skep. Gebruik dit ; uitbundig. Laat elke Sondag vir u ‘n geleentheid wees om God opnuut te ontdek ; raak verfris in sy teenwoordigheid, beleef Hom en groei al hoe nader aan Hom in die geloof. AMEN |
|
|
|
|