|
|
|
Sondag 10 Desember 2000 |
|
DEEL IN DIE BLYDSKAP VAN DIE HERE |
|
Ds. Christie van Zyl |
|
|
| SKRIFLESING | SEFANJA 3 |
|
BOODSKAP |
|
| Hoeveel sonde doen mens in
die bestek van ‘n jaar ? Hoeveel het u gedoen, en ek ? Is daar een onder ons wat die werklikheid van sonde in ons lewe sal ontken ? En tog is dit ook waar dat ons nie genoegsaam met sonde deel nie. Ons is nie altyd so bedag daarop nie en miskien besef ons ook nie die erns en die noodsaak daarvan nie. Die wêreld lag dit so maklik af en die verslapping in morele kodes en waardes van ons eie samelewing laat sonde amper in die niet verdwyn. Wanneer mens met God rekening hou en jy luister na sy stem, kom jy gou agter dat hierdie ‘n ernstige saak is ; dat sonde nie sommerso is nie. Dit is die euwel wat verwydering tussen God en sy skepping bring. Dit is ook die kanker wat verhoudings laat verbrokkel en die sondaar self vernietig. Sou dit die rede wees waarom die wêreld so verskriklik stukkend lê … Heeltyd is mense besig om hulleself ‘n rat voor die oë te draai en te vertel hoe wonderlik en kommervry alles is. Maar ons weet almal dis ‘n leuen. Elke huis het mos sy kruis ; elke familie sy seer ; elke land sy probleme. Oral is daar iets wat pla. Hoekom ? Het mense se sonde dalk iets daarmee te doen ? Ek wil amper ongekwalifiseerd sê : Ja, natuurlik. Ons weet dat die oorsaak-gevolg vraag nie so maklik beantwoord kan word nie. Maar dat sonde ‘n knellende greep op die wêreld het, is ongetwyfeld. Dit staan soos ‘n paal bo water. Jy kan eers werklik tot hierdie ontstellende gevolgtrekking kom, die dag wanneer jy vir God werklik leer ken en wanneer sy wil vir jou en sy skepping tot jou deurdring. Dan kom jy agter hoe ver die sonde jou van Hom af weggelei het. Dis hierteen dat soveel OT - profete die volk van die Here keer op keer gewaarsku het. En Sefanja is geen uitsondering nie. Tog kom hy met ‘n profesie wat selfs die edelste Jood aan die arm gryp. Want Sefanja is ondubbelsinning : nie net die vreemde volke nie, maar ook die Here se lieflingvolk sal op die dag van die Here op hulle neus kyk. Ook hulle sal aan die oordeel en straf van God nie ontkom nie. In soverre hulle hulle God vergeet het, in soverre sal sy gerig op hulle afkom. En daarvoor is ‘n dag bepaal : die dag van die Here, noem die profete dit. Maar deur die profesie gee God sy volk nog ‘n kans. Deur sy woord en genade kan hulle nederig en ootmoedig word ; Hom erken en sy vergiffenis ontvang. Dan word die dag van die Here ‘n reddingsdag. So-‘n dag is KERSDAG vir ons. Die dag toe God die wêreld in sy sondenood aangesien het en die Redder gestuur het sodat al ons sonde op Hom kan neerkom. Dié van sy kinders, maar ook dié van die wêreld. Is die geboortedag van Christus vir u so-‘n dag : Die dag van die Here se oordeel, maar ook van sy genade. ‘n Dag van die grootste feesvreugde – oor die werklike motief – dié van sondevergiffenis waarsonder geen mens vir God sal sien nie. Dan het Sefanja 3:17 betrekking op elkeen van ons : Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou. God, ons hemelse Vader jubel en juig oor ons vanweë ons aanvaarding van sy Seun as die versoening vir ons sondes. Dis ‘n hemelse gedagte, ‘n bevrydende wete. Dis oor as genoeg rede om saam met Hom bly te wees en dieselfde vreugde as Hy te ervaar. Dis ‘n gebeurtenis wat ons harte vervul met blydskap en vreugde. En dis die gees van kersfees. Dan kry elke blink gloeilampie en elke stukkie kerskoek nuwe betekenis. Want die vreugde behoort aan God en sy kinders. Dan word veelkleurige toegedraaide geskenke tekens van danksegging wanneer mense vir mekaar begin gee omdat God so baie vir ons gegee het. En lofliedere kry waarde, want dit verklank die waarheid : God se ingrype in ‘n verloregaande wêreld. Kersfees, die Christusfees is ‘n blydskapsfees ; dis ‘n vreugdefees. Met in die hoek van die oog ‘n sondetraan. Vee hom maar so-‘n bietjie weg, want God se Seun is die antwoord op ons sondevraag. Een van die dae is dit kersfees. AMEN |
|
|
|
|