NEDERDUITSE
GEREFORMEERDE KERK
DUTCH REFORMED CHURCH
Posbus/PO Box 13528
Hatfield 0028 SA
Tel +27 (0)12 342 0092 Fax +27 (0)12 342 0380
algemenesinode@ngkerk.org.za www.ngkerk.org.za
15 April 2010
Pastorale
skrywe aan lidmate van die NGK
Die 11 moderators van
die NGK in SA en Namibië het die afgelope week vir drie dae te Wildernis
vergader. Dit is ’n byeenkoms wat
reeds die afgelope 17 jaar plaasvind op uitnodiging van ’n lidmaat en sakeman
mnr. Anton le Roux. Die vergadering is van informele aard, maar daar word
indringend na van die werklikhede gekyk wat ons kerk en land in die gesig staar.
Ruim tyd word ook vir gebed en bestudering van die Woord ingerig.
Tydens die vergadering
is gevoel dat die moderators graag die volgende pastorale skrywe aan lidmate wil
rig:
1.
1.
As moderators het ons
die afgelope tyd deeglik bewus geword van intense
emosies wat in beide ons lidmate en mede-landgenote leef.
Dit sluit emosies van seer, onsekerheid, bitterheid en selfs woede in.
Genadiglik is ons ook bewus van hoop, die verlange na vrede en die
begeerte om ’n positiewe verskil in die land te maak.
Dit is ons innige gebed dat die kerk in hierdie dae al meer ’n
instrument sal wees wat hierdie emosies hoor, verstaan en op sensitiewe
wyse sal begelei ooreenkomstig die helende Evangelie van Jesus Christus.
Hier kan ons ’n verskil maak.
2.
Deeglik bewus van
die sensitiewe en broos tye waarin ons leef, roep ons lidmate op tot ’n gees
van verootmoediging en in die besonder ’n biddag op Sondag 9 Mei 2010 waar ons graag sal wil fokus op:
·
Die
opstandingshoop wat die Evangelie van Christus ons in hierdie dae bied
·
Gebede om vrede
·
`n Geleentheid om
weer na God te luister oor wat Hy van ons as kerk in die dae vra
·
Gebede dat God
werklik van die NGK ’n instrument van eenheid, geregtigheid en versoening in
ons land sal maak.
3.
3.
Intussen roep ons alle
lidmate op om juis in hierdie dae met konkrete dade van liefde en versoening na mede-landgenote uit te
reik.
4.
Ons wil lidmate
aanmoedig om opnuut die aangesig van God op te soek in die verwagting dat Hy
deur sy Heilige Gees aan ons innerlike
krag en sterkte sal gee. Dit is ons
oortuiging dat, terwyl die Heilige Gees nog altyd ’n sentrale deel van ons
gereformeerde teologie uitgemaak het, ’n nuwe seisoen van vernuwing en lewe
alleen moontlik is deur die genadige werking van die Heilige Gees in ons kerk en
persoonlike lewens. Mag ons dus in
hierdie dae opnuut op die Gees van Christus fokus.
5.
Ons meen dat
hierdie veral ’n tyd is om ook opnuut na mede-gelowiges in alle denominasies uit te reik.
Ons is oortuig daarvan dat eenheid onder Christen-gelowiges belangriker
is as ooit. Dit het natuurlik
ingrypende implikasies vir hoe ons teenoor mekaar optree en hoe ons oor mekaar
praat. Mag die liefde van Christus
in alle opsigte hier die heerskappy voer. Ons
glo onwrikbaar dat ons land in Christus ’n gelukkige toekoms het.
Hierdie hoop wil ons leef en verkondig.
6.
Graag bid ons
hiermee die seën en genade van onse Here Jesus Christus af op ons lidmate, maar
terselfdertyd ook op Afrika, die kontinent waar God ons geplaas het om te lewe
en Hom te dien.
Prof
Piet Strauss (Namens die Moderators van die11
sinodes van die NG Kerk)
Tel 082 557 3414
E-pos: straussp@ufs.ac.za