NG Gemeente Townsview
WATSE SOORT OUER IS JY?
OUERSKAP
Ds. Christie van Zyl


"My seun, slaan ag op die wysheid wat ek jou leer,

luister na my goeie raad.

Dan sal jyself ook met oorleg kan optree

en met die nodige kennis praat."

- Spreuke 5:1,2 -

Dit is wonderlik om kinders te hê. Dit is netso wonderlik om 'n invloed in jongmense se lewens te kan uitoefen, ongeag of dit jou eie kinders is of nie. In 'n groot mate word mense se persoonlikhede en karakters gevorm deur die invloed wat hulle op mekaar het en veral waar dit kom by dié van volwassenes of ander rolmodelle op kinders en jongmense.

Ouers is egter die eerste linie van invloed. Dis nie net die genialogiese eienskappe wat hulle aan hul kinders oordra wat persoonlikheid vorm en gedrag beïnvloed nie, maar ook hul eie waardesisteme, persoonlikhede asook hul ouerskapstyle waarmee hulle hul kinders opvoed.

Hoe lyk jou ouerskapstyl ?

Diana Baumrind* , 'n opvoedkundige sielkundige onderskei op grond van haar navorsing drie soorte ouerskapstyle. Kyk of jy jouself in een van hierdie style kan identifiseer. Kyk ook of haar onderskeid jou kan help om 'n beter ouer vir jou kind te wees en daardeur 'n meer betekenisvolle en positiewe invloed op sy of haar lewe kan uitoefen.

(*Youth and Society, Vol 9, 3 /78)

1. DIE OUTORITÊRE OUER

'n Outoritêre persoon is iemand met onbuigsame opvattings oor wat reg of verkeerd is. Verder het hy die geneigdheid om sy eie oortuigings op ander af te dwing ongeag hul opinies of gevoelens. Weinig, indien enige gespreksvoering tuusen so-'n ouer en sy kinders vind ooit plaas. Tipiese uitlatings deur hom klink min of meer só :

"Sit dadelik jou radio sagter."

"Solank as wat jy in my huis woon, sal jy ...."

"Omdat ek so sê, dis hoekom ..."

"Wie het gebel ?"

"Jy is oud genoeg om van beter te weet."

Kinders (veral tieners) reageer gewoonlik só daarop :

Kla -         "Almal doen dit. Waarom mag ek nie ?"

Woede -     Hy klap die deur toe en skree op almal.

Kritiek -     "Ma is outyds - Pa is onregverdig."

Stilstuipe -  Sy sê niks en draai haar oë na die dak.

Isolasie -    Hy sluit homself in die kamer toe.

Outoritêre ouers ontneem hul kinders die geleentheid om self oplossings vir hul eie probleme te vind en word dan gewoonlik gekwel deur gevoelens van ontoereikendheid, minderwaardiheid en onsekerheid. Hulle ontwikkel gevolglik 'n onvolwasse afhanklikheid van ander en 'n onvermoë om verantwoordelikheid te aanvaar.

Ander kom weer in opstand wat ongesonde konflik en aggressie tot gevolg het. Op hulle beurt word hulle maklik ook dominerende persone.

'n Outoritêre ouer is nie noodwendig 'n slegte of liefdelose ouer nie. Dikwels is dit juis andersom. Hy beskik egter nie oor die nodige insig om te besef dat sy styl van ouerskap nadelige gevolge vir sy kind kan inhou nie.

2. DIE PERMISSIEWE OUER

Die permissiewe ouer laat in 'n groot mate sy kind toe om sy eie gang te gaan. Hy is dikwels fisies afwesig, maar ook emosioneel. Hy leef in sy eie wêreld en meen dat dit met sy kind ook so moet wees. Daar is nie 'n duidelike waardesisteem, huisreëls en huislike pligte nie. Elkeen kan dink en doen nes hy wil. Kommunikasie is gebrekkig.

Tipiese uitlatings deur die permissiewe ouer klink min of meer só :

"My kind is groot genoeg om vir homself te besluit."

"Ek wil nie in jou pad staan nie."

"Ek weet nie." (Gee ook nie om nie)

Kinders reageer gewoonlik só daarop :

          Kla -      "Hulle luister gladnie na my nie."

Woede - "Ek weet nie wanneer ek wat mag doen nie."

Kritiek -  "Julle verstaan my nie."

Isolasie -  Hy verdwyn in 'n wêreld van sy eie.

Gedragsprobleme - Sy raak betrokke by twyfelagtige vriende en praktyke.

Kinders uit sulke ouerhuise het dikwels die gevoel dat niemand hulle liefhet nie, met gevoelens van onveiligheid en onsekerheid. Wanneer sake vir hulle skeef loop, raak hulle verwytend teenoor hulle ouers omdat hulle voel dat hulle in die steek gelaat is. Sulke kinders het dikwels weinig repek vir hulle ouers en ander mense. Hulle vertrou ander mense nie maklik nie, veral nie ouer mense nie. Hulle raak ook maklik onbetrokke, onbetroubaar en agterdogtig en is materialisties ingestel.

'n Te besige lewenstyl laat ouers voor dié soort ouerskapstyl swig. Nie net 'n gebrek aan tyd nie, maar ook 'n oorvol program en te veel aandag op ander sake en plekke laat sommige ouers so word. Soms probeer hulle op ander maniere vergoed wat die toestand eintlik vererger.

3. DIE BEGRYPENDE OUER

Hierdie ouer het sy kind aanvaar soos wat hy is en probeer werklik om hom te verstaan voordat hy oordeel of straf. Daar is by hom 'n ernstige strewe om byvoorbeeld sy kind se hartseer, woede, ongelukkigheid of teleurstelling te peil voordat hy handel of met raad bedien. Die verhouding tussen hierdie ouer en kind is van so-'n aard dat eerlike gesprekke oor sake soos gedragskodes en waardes gevoer kan word. Die kind het die vrymoedigheid om persoonlike standpunte en gevoelens te stel omdat hy die sekerheid het dat hy gehoor, verstaan en gerespekteer word. Ouerskap word gebou op wedersydse respek en nie op mag nie.

Tipiese uitlatings deur 'n begrypende ouer klink min of meer so : 

"Kom ons sit eers 'n bietjie en gesels."

"Vertel my hoe was jou dag."

"Wat dink jy daarvan ?"

"Moet ons nie liewer ...."

"Miskien moet jy dit oorweeg om ..."

Navorsing toon dat kinders van begrypende ouers 'n volwasse oordeel het en goeie probeemoplossende gedrag openbaar. Hulle kom goed met ander mense oor die weg, is minder aggressief en vyandiggesind en beskik oor meer selfvertoue en spontaneïteit. Hulle is instaat tot beter prestasies omdat hulle in 'n groot mate vry is van die bindende en verlammende uitwerking van te hoë spannings- en angsvlakke.

KONKLUSIE

Kinders (veral tieners) het vryheid én grense nodig. Wat hulle egter netso nodig het, is die geleentheid om met die nodige leiding en begrip volgens Bybelse waarhede en beloftes tot volwassenes te ontwikkel. Dit wil voorkom asof dit nie net die 'dat' is wat belangrik is nie, maar ook die 'hoe' van ouerskap. Met die regte gesindheid en nodige insette is ouerskap 'n onskatbare vreugde.

KINDERS SE HOUDING OOR HUL OUERS

Ouderdom  4 jaar - "My ouers kan alles doen."

Ouderdom  8 jaar - "Daar is een of twee dinge wat hulle nie kan doen nie."

Ouderdom 12 jaar - "My ouers verstaan nie."

Ouderdom 14 jaar - "Ek het nooit geweet hoe vreeslik outyds hulle is nie."

Ouderdom 21 jaar - "Dit is te verstane dat hulle so voel. Hulle is heeltemal uit pas met die tyd."

Ouderdom 25 jaar - "Hulle het so nou en dan 'n goeie idee."

Ouderdom 30 jaar - "Ek wonder wat my ouers sou gedoen het."

Ouderdom 40 jaar - "Laat ons wag totdat ons dit met ons ouers bespreek het."

Ouderdom 60 jaar - "Wat sou my ouers hiervan gedink het ?"

Ouderdom 70 jaar - "Ek wens ek kon dit nog een maal met my ouers bespreek."

Ds Christie van Zyl

N G Gemeente Townsview