Gemeenteblad van die NG Gemeente Townsview - November 2001

JY MOET HOM JESUS NOEM!
- Dr Christo van Rensburg

Die Kersverhaal bly maar ‘n verhaal wat ons almal aangryp. ‘n Verhaal wat kinders met sterre in die oë laat en menige grootmens ‘n knop in die keel gee. Want oral sien en hoor jy dit uitgebeeld: op Kerskaartjies, in die musiek, Kerstonele - die kind in die krip, Maria, die wyse manne en die helder ster - en dan die liggies, die Kersboom, Kersvader, geskenke en skitterblink tinsels.
Hiermee is sekerlik nie fout te vind nie, maar die vraag wat telkens by ‘n mens opkom, bly maar steeds: "Maar waaroor gaan dit tog eintlik met Kersfees?" Wat is die inhoud van hierdie feestyd en van Kersdag - want die gevaar bestaan dat dit waaroor dit eintlik gaan, gaandeweg besig is om uit die prentjie te verdwyn.

"Waaroor gaan dit eintlik met Kersfees?"

Eendag, lank-lank gelede, het dit begin! Die kinders van die Here het swaargekry. Hulle is aan ‘n verskriklike slawerny onderwerp. Om dinge te vererger, het die koning die bevel tot ‘n kindermoord gegee. Al die pasgebore seuntjies moes doodgemaak word.
Dit was dan ook juis in hierdie tyd dat die kind gebore is. Sy ma het hom weggesteek en skelmpies vir drie maande versorg, hom daarna in doeke toegedraai en in ‘n biesiemandjie tussen die riete op die Nyl-rivier geplaas. Daar het die koning se dogter hom gekry en onder haar sorg geneem en grootgemaak. En sy het hom Moses genoem.
Op ‘n dag het die Here God aan Moses verskyn en vir hom gesê:
"Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ’n goeie en uitgestrekte land, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Daarom stuur ek jou sodat jy my volk uit Egipte, die plek van slawerny, kan verlos." (Eksodus 3:7)
U ken hierdie Ou Testamentiese geskiedenis - God wat getrou Sy belofte nakom en die volk uit hulle slawerny verlos.
"Waaroor gaan dit eintlik met Kersfees?"
Nie so lank gelede nie, byna 2000 jaar gelede, is daar ook ‘n ander Kind gebore. En sy ma het hom ook in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê en sy het Hom Jesus genoem, want dieselfde God het vir haar gesê:
"Jy moet hom Jesus noem, want dit is Hy wat Sy volk van hulle verskriklike slawerny (die sonde) sal verlos!" (Matteus 1:21).
Daar was ook ‘n koning met die naam Herodes en ook hy het die opdrag tot ‘n kindermoord gegee. Maar weer het God die Kind beskerm en na Egipte gestuur:
"Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat Ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak."
Die Kind het grootgeword en - u ken die Nuwe Testamentiese geskiedenis. Om getrou te wees aan Sy naam as Verlosser van Sy volk, was Hy getrou tot aan die dood aan ‘n kruishout - is Hy begrawe, maar het Hy op die derde dag daaruit opgestaan om Sy volk die beloofde land binne te lei. (Ten opsigte van die beloofde land kan u gerus Openbaring 21 en 22 gaan lees.)
Dit is dan ook geen wonder dat Hebreërs 3 vir Jesus die Moses van die Nuwe Testament noem nie.
"Waaroor gaan dit eintlik met Kersfees?"
Iemand het by geleentheid ‘n groot plakker in ‘n stad aangebring en daarop het gestaan:
"Put Christ back into Christmas!"

Daaroor gaan dit met Kersfees!

Want sonder Christus in hierdie pragtige sprokiestoneel van Kersfees - sonder Christus in die middelpunt van Kersfees - en sonder die boodskap van wat Christus kom doen het, naamlik om ons te verlos van die verskriklike slawerny van die sonde en die uitlei na die beloofde land van melk en heuning - kan daar geen ware Kersfees wees nie.

Die Kersgety van 2001 vra van ons almal: sien tog dat die Kind in die krip Verlosser, Saligmaker, maar ook Herder is - jou Herder, wat vir jou wil sorg in alles wat jy nodig het, wat vir jou rus en vrede en nuwe krag wil gee, wat jou op die regte pad wil lei, selfs deur donker dieptes heen na waters waar daar rus is. In Sy hande, is jy veilig (Psalm 23).

Dat ons dit tog hierdie Kersfees sal verstaan!

- Dr Christo van Rensburg.

Ù


Dr Christo saam met 22 jongmense wat op 21 Oktober belydenis van geloof afgelê het. Hulle is die laaste groep wat deur hom as lidmate bevestig is. Dr Christo het in plaas van die gebruiklike boekie aan elke jongmens ‘n Bybel oorhandig.
Voor v.l.n.r: Renee Naudè, Ilze van der Westhuizen, Lizel Marais, Oudl Nico Marais, Dr Christo, Miranda Smith, Fay Honnibal, Charmaine Goosen

Middel: Melissa le Roux, Phillip van Dyke-Geyser, Edzard Verseput, Jurie Hayes, Jolandi de Lange, Nicolene Meade-Medlicott, Wynand Pretorius

Agter: Rikus Pretorius, Leandri de Kock, Lanè Coetzer, Jaco Esterhuize, Stephan Pretorius, Rudi de Ru; Nico Stickling, Casper van Vuuren, Quintus Thorpe


Besoek van bekende TV-ster - Lindie 
van Eeden – tydens ‘n Vrouediens-
byeenkoms op 9 September


Sonskyn Omgeegroep

Onder leiding van Tersia van Wyk het ‘n groepie dames verlede jaar saam koeksisters gebak om fondse vir die kerksaal se gordyne in te samel. Daar is so lekker saam gekuier in dié sessie dat die harde werk in ‘n fees omskep is. Later is besluit om die lekker kuier/werk voort te sit en is die "Sonskyn Omgeegroep" gebore met die doel om betrokke te raak deur werklik om te gee.
Tans lê die groep besoek af by vereensaamde bejaardes in die Renaissance Aftree-Oord en beoog hulle ook om na siekes uit te reik. Die uitdeel van dankofferkoeverte in die Renaissance Aftree-Oord word ook deur drie van die dames behartig.
Met ‘n eerste fondsinsameling kon daarin geslaag word om ‘n gesin in ‘n krisis behulpsaam te wees en gevolglik is dit ook ‘n mikpunt om bystand te verleen waar krisisse in die gemeente sou ontstaan. U bystand om sodanige gevalle, met diskresie, te identifiseer, sal waardeer word.
‘n Maandelikse fondsinsameling is geïmplimenteer en u ondersteuning met die koop van koeksisters was ‘n groot hupstoot. Kyk maar uit vir ons verrassings op die afkondigingsblaadjie. Dit is miskien ‘n klein begin, maar ons wil dit graag uitbrei.
Graag nooi ons alle belangstellendes uit om by ons in te skakel. Skakel gerus ons kontakpersoon, Annatjie Beyers, by 682-2285.

Onthou: DOEN AAN ANDERE SOOS WAT JY GRAAG AAN JOUSELF GEDOEN WIL Hê

- Annatjie Beyers: 682-2285

Ù


Inligting oor nuwe boeke is weer van Lux Verbi ontvang.

Hoe leer ons kinders glo? – Braam Hanekom

Dit is in die eerste plek op die ouers se skouers wat die taak rus om kinders te leer om te glo. Die skrywer wil ouers help om ernstig oor dié saak na te dink. Om ‘n kind te laat glo, is meer as om ‘n kind te leer dat daar ‘n God is. Hy/sy moet gelei word om God te aanvaar as ‘n lewende realiteit in sy/haar alledaagse lewe.


Help! my man het afgetree – Betsie Faulhaer

Dit is nie sommer net vir aftree nie. As jy nie voorbereid is nie, kan dit jou feitlik oornag in ‘n situasie dompel wat maklik in ‘n krisis kan ontaard. In hierdie boek gesels die skryfster met humor en patos uit die oogpunt van ‘n vrou en uit eie ervaring oor wat dit alles vir ‘n huishouding inhou. Op die pad wat sy geloop het, het sy ‘n paar slaggate geïdentifiseer. In elke hoofstuk gee sy praktiese wenke om die aanpassingsprobleme suksesvol te hanteer. Jy kan self kies om gelukkig te wees.


Want God is ons hoop – Dirkie Smit

‘n Boek vir denkende lesers en meningsvormers. Baie mense in ons land ervaar ons tyd as leeg en sinloos, sonder enigiets om nog na uit te sien, met min hoop vir vorentoe. Maar wanhoop is onnodig, want God is ons hoop. Hy hou die tyd en die toekoms in Sy hande… ‘n Ideale geskenkboek, veral vir mans.


Ù

Dopelinge

Die volgende kleingoed is sedert ons vorige uitgawe in die gemeente gedoop:

  • Chantè van mnr en mev R Gouws van Oakdene.
  • Rudolf Hendrik van mnr en mev W S van den Berg van Elandshaven.
  • Wessel en Willem van mnr en mev W J J Greeff van Forest Hill.
  • Hanneke van mnr en mev P K de Beer van Mondeor.

Baie geluk.

 


Onthou om te Onthou

  • 7 November Stillekrag Interdag-Kerssangdiens – Kroonrand: 10h00.
  • 14 November Afsluitingsete vir alle senior lidmate in die gemeente.
  • 21 November Stillekrag: 09h30.
  • 25 November Kerssangdiens: 18h30.
  • 25 Desember Kersdiens: 08h00.
  • 31 Desember Oujaarsdiens: 23h30.

Nuwe lidmate

Baie welkom aan die volgende nuwe lidmate wat by ons gemeente ingetrek het:

  • Mnr en mev N M R Gaio, Hillenstraat 4, Towerby.
  • Mnr en mev L B Lynch en mev B van Wyk, Palling Plek 9, Mulbarton.
  • Gerrie Rautenbach, Aquilla 52, Lynton Place, Oakdene.
  • Elsabè van der Merwe, Cromerweg 8, Mulbarton.

In memoriam

Mev Joey Berg van Cuylerweg 5, Towerby.
Ons innige meegevoel word aan haar naasbestaandes betuig.


Pretdag vir Ouer Persone

Op Saterdag, 18 Augustus, is die derde pretdag vir ouer persone by RAU aangebied. Prof Wim Hollander, Hoof van die Departement Sport en Bewegingskunde, personeel en studente het, in samewerking met mev Lorein Winter van die NG Barmhartigheidsdiens – Suid Transvaal, hierdie besondere dag vir seniors en hulle gesinne gereël.
Dit was ‘n volmaakte lentedag en die verskillende groepe het reeds van vroeg af opgedaag. Interessante name, baniere, eenderse kleredrag en rosette is met trots vertoon en gedra.
Na ‘n optog met baniere om die hokkieveld is daar litte losgemaak op maat van "Goeiemôre Suid-Afrika!". Vir die toeskouers was dit net soveel pret as vir die deelnemers.
Dit was ‘n vreugde om te sien hoe geesdriftig daar aan die verskillende spanaktiwiteite en kompetisies deelgeneem is. Ballonne met water gevul en kappieresies, blinddoek-aartappelresies en boontjiesakke-teikengooi, was onder andere deel van die groot pret. Die spanne het mekaar geesdriftig aangemoedig en as daar ‘n beker vir gees toegeken moes word, sou Eldopark en die MES-groep beslis gewen het.
Daar was heerlike tradisionele geregte teen billike pryse, deur verskillende groepe aan mede-seniors verkoop. Alles heerlik tuisgemaak soos net oupas en oumas kan!
Van die deelnemers was nog op en wakker, maar daar was ook ander waar die pyn en swaarkry van die lewe op gesigte en in die oë gewys het. Almal het egter hulle deeltjie vir hulle span gedoen. Soms was dit net om ‘n spanmaat se klere reg te trek, water aan te dra en dan luidkeels aan te moedig om die stram ou liggame te roer. Dit was egter duidelik dat almal dit geniet het om litte los te maak, saam te wees en saam te lag. Van die meer energiekes het ook lekker saam met die orkes, wat die hele dag vrolike boeremusiek gemaak het, gedans.
My kleinseun het eenmaal die opmerking gemaak ten opsigte van ‘n 92-jarige dame, wat nog haar hare kleur en vergaderings en partytjies bywoon: "Dit is so mooi om te sien dat sy nog haar lewe "GEBRUIK.".
By die pretdag was dit ook weereens duidelik dat ‘n mens nie noodwendig baie geld of selfs die wonderlikste gesindheid hoef te hê om nog jou lewe (al is dit steun-steun) te GEBRUIK of te GENIET nie.
Alle eer aan mev Winter, prof Hollander en sy span vir hierdie poging om bejaardes te betrek en te stimuleer. Ons hoop ons sien julle almal volgende jaar daar.

- Joey Cruywagen


Van die ouer persone hard aan die deelneem….


Ù

Uitkoms-Tehuis Pas Aan

Op 12 Augustus 2001 het Elmien Potgieter die Vrouediens kom toespreek en weer op hoogte gebring van wat hulle doen en beoog vir die toekoms.
Haar boodskap kortliks:
As daar oor Uitkoms-Tehuis vir Ongetroude Moeders gepraat word, is baie mense se eerste gedagte: "Maar is daar nog ‘n behoefte aan ‘n Tehuis vir ongetroude moeders in vandag se tyd met aborsie gewettig en geboortebeperking vrylik beskikbaar?"
‘n Prentjie van ontstelde, vooraanstaande ouers met ‘n swanger dogter by hulle, voor die Tehuis, waar hulle "die skande" wil kom wegsteek, duik nog by baie mense op.
Die realiteit vandag is dat 90% van die inwoners van Uitkoms-Tehuis deesdae sorgbehoewende dogters of hawelose swanger vroue is. Die Tehuis is herregistreer as Kinderhuis vir swanger, sorgbehoewende dogters en as ‘n Plek van Veiligheid vir verwaarloosde, verlate en mishandelde dogters ouer as veertien jaar oud. As ‘n bykomende diens aan die gemeenskap, word swanger vroue (dikwels haweloos) ouer as 18 jaar ook in die Tehuis opgeneem en word bekostigbare dagsorg aan 25 voorskoolse kinders gebied. Die Wieg lewer ‘n diens aan die gemeenskap, maar is ook bedags ‘n heenkome vir die inwoners se eie babas wanneer hulle moet terugkeer skooltoe of gaan werk. ‘n Werk- en opleidingsgeleentheid in die Wieg is vir sommige inwoners ‘n eerste tree terug na selfstandigheid en ‘n gestruktureerde lewe.
Praktiese aangeleenthede soos toerusting vir ‘n selfstandige, verantwoordelike lewe met die nodige bestaansmiddele en lewens- en ouerskapsvaardighede word in die Tehuis aangespreek. Daar word gehoop dat die inwoners met nuwe moed en gereed vir die nuwe uitdagings wat op hulle wag, na die gemeenskap sal terugkeer.

- Kleinkie Engelbrecht


Ù


TOTSIENS, MAAR NIE VAARWEL...

‘N GROOT EN OPREGTE "BAIE DANKIE"

Hiermee wil ons graag die Gemeente van Townsview baie opreg bedank vir die mooi afskeidsgeleentheid wat u vir ons aangebied het. Ons wou dit sommer net so stil laat verbygaan, maar nou besef ons dat dit tog wonderlik was om na meer as drie dekades so te kon afskeid neem. Dis die naaste wat ons ooit aan "CELEBRITIES" kon voel, want u as gemeente en kerkraad het dit vir ons so spesiaal gemaak dat ons later gewonder het, maar wie is hierdie wonderlike mense waarvan almal praat? Juis omdat ons so onwaardig voel om al die mooi woorde en die dank te ontvang, sê ons in die eerste plek dankie aan ons HEMELSE VADER wat aan ons die gesondheid en genade geskenk het om vir soveel jare in SY diens te kon staan - dat Hy ons gebruik het, ten spyte van, en juis met al ons tekortkominge.
Aan almal van u wat die diens bygewoon het en toe nog so gaaf was om te bly vir die redelike lang program, sê ons baie dankie. Dit was so heerlik om u daar te hê. Die blomme in die kerk en ook in die saal was so pragtig (blomme sê mos altyd baie meer as wat ‘n mens met ‘n duisend woorde kan sê). Aan Hester Gersbach vir die baie mooi ruiker voor in die kerk en aan Rachel Spies vir die groot ruiker in die voorportaal: Baie Dankie! Die blomme is aan ons geskenk en ons het nog vir baie dae groot plesier daaruit geput. Ansa Furstenburg en Alta Jacobs het die baie besonderse rangskikkings in die saal versorg en saam met die treffende kerse, wat deur Chrisna de Ru en Annie Veldsman gemaak is, en die mooi tafeldoeke, het dit ons ou saal omgetower in ‘n sprokiesland. Hierdie liefdesbewyse word baie waardeer.
Aan Mike van der Berg, wat ‘n baie groot aandeel aan al die reëlings gehad het: Baie Dankie, Mike. Mike het in ‘n pastorie grootgeword en dit lyk my hy het nog steeds baie empatie met die inwoners! Aan Theo Veldsman, wat as seremoniemeester opgetree het, en aan Nico Martins, wat as leierouderling namens die kerkraad en gemeente ‘n boodskap gebring het: baie dankie, want ons weet julle was ook baie gemoeid met die reëlings. Aan dr Gideon Kok - wat namens die Ring opgetree het - en Dominica sê ons ook baie dankie vir hul teenwoordigheid. Aan ds Christie van Zyl en Renè, ons innige dank vir jul groot aandeel aan die reëlings, asook die "Oorhandiging van die Demissie" en die Afskeidsadres en geskenk. Baie dankie aan die gemeente vir die afskeidsgeskenk. Ons gaan dit baie goed gebruik en oorweeg nog of ons ‘n mikrogolfoond of iets vir die houtwerk sal aankoop. (Raai wie wil wat hê?) Aan die soliste Hanlie Viljoen en Coert Grobbelaar, baie dankie vir die treffende wyse waarop julle Christo se lied Panus Angelicus gesing het. Ook aan Gawie en die koor vir die pragtige gebed wat julle gesing het. Watter mooier wens kan ‘n mens iemand toewens as dat God altyd met jou sal wees, waar jy ookal gaan. Julle is baie na aan ons harte - baie dankie!
Aan Martin Coetzee, Theo Pekelharing, Jimmy Harcus, Braam Coetzee en ‘n aantal lidmate wat op eie inisiatief aan ons ‘n geskenk oorhandig het: BAIE DUISENDE DANKIES! Julle weet net nie wat beteken dit vir ons nie en dit help soveel. Om dankie te sê, klink pateties. Ons sal dit nooit vergeet nie!
‘n Besondere woord van dank aan Naomi Stiglingh wat die pragtige AFSKEIDSADRES ontwerp, geskilder en in kalligrafie geskryf het - BAIE, BAIE DANKIE vir die adres, asook die mooi woorde wat deur Mike van der Berg opgestel is. Dis ‘n erfstuk en sal altyd ‘n ereplek in ons huis beklee. Aan Albert de Beer, baie dankie vir die opregte slotgebed - so uit die hart uit. Dit sal altyd by ons bly!
Aan Adèle Martin, baie dankie vir die uitnodigingskaartjies, asook die keurige pamflet wat by die deure uitgedeel is. Aan Chrisna de Ru, ons pragtige scriba, baie dankie vir al jou harde werk. Baie dankie ook aan Leon de Ru, die swartkop-leierdiaken (mooi bly maar mooi) dat hy bereid was om weer ‘n foto te neem om twee ouerwordendes te laat beter lyk. Wat ‘n taak - en hy het goed daarin geslaag ook. Baie dankie ook vir die neem van die foto’s by die funksie. Ek neem aan die kerkraad het jou gevra om dit te doen, maar ons sê ook baie dankie, want dit sal gaaf wees om ‘n aandenking van die dag te kan hê. Ek hoop net jou kamera werk nog na dese! Ook aan Jakkie van der Merwe, die mooi, stil man met die silwergrys hare, wat so puik met die kerk se finansies werk: baie dankie vir jou insette en dit wat jy so in stilte doen. Dis wonderlik om te weet dat ons kerk oor sulke bekwame amptenare soos Chrisna, Jakkie en Estelle beskik. Estelle en Richard is die ander twee mooi mense wat ons kosterspaar is. Baie dankie ook vir julle harde werk. Toe ons die middag daar weg is, het ek uit ondervinding gesien hier lê nog baie rugbreekwerk voor. Dankie vir julle onbaatsugtige diens aan ons gemeente. Gawie Stolz, ons orrelis, is natuurlik ook uiters bekwaam en net so mooi, veral met sy mooi dasse!
Ook aan Lina, wat hard gewerk het in die kombuis, en Daniël wat die motors opgepas het. Ons waardeer dit baie en sal julle ook altyd onthou. ‘n Mens se gedagtes het onwillekeurig teruggegaan na ou Elbin en Samuel wat soveel jare so getrou in ons kerk gewerk het. Hulle is nie meer met ons nie, maar sal altyd in ere gehou word in ons herinneringe.
Aan my gunstelinge, die kinders wat daar was: baie dankie dat julle sowaar meer as twee ure lank stilgesit het terwyl al die tannies en omies allerlei droë stories gepraat het. Dit was baie lekker om julle daar te sien. Die eetgoed na die tyd was darem seker lekker, want ek het gehoor dat tannie Annie- en tannie Renè-hulle vir julle spesiale eetgoed by die klein saaltjie gereël het. Hoop dit was lekker!
Laaste, en beslis nie die minste nie, baie dankie aan die Vrouediens, o.l.v. Annie Veldsman, vir die heerlike vingerete wat in die saal aangebied is. Ek glo Chrisna het ook ‘n groot aandeel hierin gehad en so ook die hele gemeente. Dit was so wonderlik om van Chrisna en Annie te hoor dat hulle so baie skenkings vir die ete gekry het en dat die mense vir wie hulle gevra het, ‘n baie mooi gesindheid geopenbaar het. Dit laat ‘n mens so nederig-dankbaar voel, want ons is almal bewus daarvan dat baie mense finansieel swaarkry. Baie dankie aan een en elk wat ‘n bydrae gemaak het. Weet net dat dit baie waardeer word en ons wens ons kon vir elkeen van u afsonderlik dankie sê. Annie, baie dankie, die kos was heerlik en die saal pragtig. Jou moeite en insette word hoog waardeer.
Ek begin nou klink soos ‘n plaat wat vasgehaak het, maar ek weet nie wat anders om te sê nie. My hart is so vol dankbaarheid, daarom is daar maar een woordjie en dit is: DANKIE!! Die Gemeente van Townsview het ons gedra, verduur (met al ons tekortkominge) en bederf. Dis vir ons wonderlik dat Christo deur middel van ‘n kontrak met die kerkraad (baie dankie daarvoor) as afgetredene nog in u midde kan werk en ons hoop dat die Here dit sal seën. Dat Hy u as gemeente en kerkraad saam met ds Christie en Renè sal lei en seën met die keur van Sy seëninge. Ons mooiste wense en gebede vergesel u.

- Christo en Elsabè van Rensburg

Dr Christo en Elsabè

Geniet hierdie nuwe lewensfase en onthou maar die woorde van Lucille Ball: "Die geheim van ewige jeug lê daarin om eerlik te leef, stadig te eet en te jok oor jou ouderdom!"

- Pekelharing-gesin

Dr Christo en Elsabè

Dr Christo sal ek altyd onthou as iemand wat bereid was om te luister, wat sy mening gegee het sonder om jou as mens te na te kom en dat die Woord van God vir hom belangrik was. As ons Bybelstudie gehad het, het hy altyd baie moeite gedoen. Die Bybelskool "Openbaring en Heilige Skrif" was vir my ‘n hoogtepunt gewees. Uit die kursus het ek baie geleer. Ek wens dr Christo en Elsabè alles van die beste toe. Mag God hulle seën op hul lewenspad.

- Lena Nel

Dr Christo en Elsabè

Henog het naby God geleef (Genesis 5:24). Dit is soos ons dr Christo en Elsabè sien. Hulle vriendelikheid, nederigheid en bedagsaamheid teenoor alle mense is vir ons die bewys daarvan. Mag die Here julle nog lank spaar en ryklik seën.

- Oom Larry en tannie Jeanette Viljoen

Dr Christo en tannie Elsabè

Danny Thomas het gesê: "Sukses is nie wat jy doen nie, of dit wat jy bereik het nie. Dit is wat jy vir ander beteken".
Ek kan NG Gemeente Townsview net nie indink sonder mev van Rensburg as my Kinderkrans-"tannie" nie. En die belydenisklas sou net nie dieselfde impak gehad het sonder dr. van Rensburg nie!
Afsonderlik het u albei vir my iets beteken en so saam sukses behaal.

Baie dankie!!

- Linda Nel


Ù

Vrouediens besoek Huis Bouwer en Maria Kloppers-Babasaal

As vooggemeente is die Vrouediens van Townsview steeds aktief betrokke by Huis Bouwer (Abraham Kriel) en by Maria Kloppers se babasaal.
Die Vrouediens bring groot dank aan al die gemeentelede wat skenkings maak en gewillig saamwerk om die minderbevoorregte kinders te help versorg.
Daar is ook op gereelde grondslag by ‘n skool in die Suide besoek afgelê met bydraes vir noodvoeding.
Genoemde instansies spreek op hulle beurt groot waardering uit teenoor Townsview-Gemeente vir besoeke en bydraes.

- Jeanette Viljoen – Vrouediens

Besoek aan Huis Bouwer (Abraham Kriel), Mei 2001

Estelle Crafford, Jeanette Viljoen, Louise Myburg
(huismoeder) en langs haar ‘n inwonende dogter,
Annatjie Beyers, Frances Steyn,
en voor, Virginia (huishulp).



Besoek Babasaal (Maria Kloppers), Junie 2001
Lida Viljoen, Annalize du Plooy (maatskaplike werker),
Betsie Adlem en Annatjie Beyers

 


Ù

Op Toer in Namibië

Dit was weer ‘n tyd vir "Nuutbegin" vir ons enkelgroep van Johannesburg-Alberton om te gaan vakansie hou!
Elf van ons lede is met die Bosveld-treinsafari na Namibië. Na ‘n besoek aan die Augrabies-waterval is ons Namibië binne. Ons eerste besoek was aan Luderitz, ‘n pragtige kusdorpie. Op die strandmeer was ‘n groot klomp flaminke. Met ons aankoms het hulle weggevlieg - dit was skouspelagtig!
Op pad terug is ons by Kollmanskop aan - ‘n verlate "spookdorpie" in die "Sperrgebiet". Ons het daar tussen die sandverweerde huisies geloop. In Windhoek het ons die Parlementsgebou en ‘n museum besoek. Later die aand het die trein koers gevat na Tsumeb. Die volgende dag is ons per bus na Etosha. Ons het op die pad, onder andere, koedoes, gemsbokke, swart- en blouwildebeeste, springbokke en kameelperde gesien. Ons verwagtinge is bekroon toe ons teen die middag omtrent vyftig olifante soos ‘n skoolpatrollie oor die pad sien loop het. Daar was olifante van alle groottes en selfs kalfies.
Ons is daarna na ‘n naburige watergat waar ons ‘n klomp van die ou "groot pote" sien afkoel het in die water tussen die riete. Met die terugkom is ons by die Otjikato-meer aan. Dit is eintlik ‘n diep watergrot waarin daar ‘n groot hoeveelheid geskiedenis lê en baie geheime versteek is.
Ons het by Walvisbaai aangedoen en toe op die stasie van Swakopmund gaan oorbly. Swakopmund is ‘n pragtige dorp met sy palmlane al langs die strand en ‘n pragtige marine-akwarium. Laat die middag is ons weer strand toe om ‘n sonsondergang op die see te kon sien, Die ete die aand by die stasie het bestaan uit vars snoek - op die kole gebraai.
Die volgende dag is Duin Sewe beproef! Seer voete en blase was daarna nie vreemd nie.
Die volgende uitstappie was om met die duinebesies op die sandduine te gaan ry. Die uitstappie het, soos te wagte, baie plesier verskaf. Swakopmund spog verder met ‘n casino en kafeetjies met heerlike kaaskoeke en koffie. Ons het ook na die versteende sandduine, die sogenaamde "maanlandskappe" en ‘n oase in die woestyn gaan kyk. Daarna het ons gaan kyk waar die welwitchias groei.
Met die terugreis het ons by die aangrypende Visrivier-"canyon" aangedoen - die tweede grootste vallei naas die een in die VSA. Elf dae later was die droom verby. Ons het by Johannesburg-stasie ingestoom, net baie spyt dat die potjies met koedoe- en beesvleis, ons piekniek-ete by Holoog, die koedoe- en skaapbraai op Tsumeb-stasie, die visbraai en die lekker kaaskoeke voorlopig verby is.

- Mineke du Plooy


Ù

Townsview-Dames in Simfonie van Hoop

Die NG Kerk het in 2000 die jaar 2001 as "Die Jaar van Hoop in Christus" verklaar. ‘n Versoek dat die ouer lidmate daarby betrek word, is deur die Bejaardesorg-kommissie en die Barmhartigheidsdiens in die Suidstreek goedgekeur.
Dit was die begin. Die vraag was: "Wat?" en "Hoe?". Dit was duidelik dat ‘n hoë mate van vindingrykheid en visie nodig was om ‘n aanbieding uit so ‘n groot gebied op die planke te bring.
As leidster van Stillekrag het Kobie Small die eerste beplanningsvergadering in Benoni bygewoon. Met haar kenmerkende geesdrif het Kobie kom vertel van die beplanning. As bydrae tot die Jaar van Hoop sou die Simfonie van Hoop, geskryf deur die bekende dr. Rykie Pienaar, in die Staatsteater aangebied word.
In die Simfonie van Hoop sou ‘n massakoor, ‘n spreekkoor, individuele woordkunstenaars, ‘n solosanger en dansers optree. Die massakoor van 189 lede is saamgestel uit die ouer lidmate van die streek.
Die koorlede het bladmusiek en kassette ontvang en weekliks in kleiner groepies geoefen. Dr. Rykie Pienaar het self die streke een keer per maand besoek om te verseker dat die vertolking korrek was. Twee kleedrepetisies in Pretoria was ook op die program… en uiteindelik drie opvoerings.
Vier van ons dames (foto hierby) het nie teruggedeins vir die eise wat deelname aan die massakoor sou stel nie en het enduit volgehou. So was hulle deel van hierdie grootse aanbieding en het hulle die ervaring gehad om met befaamde kunstenaars soos Carel Trichardt, Petru Wessels en Manuel Escorcio op dieselfde verhoog te verskyn.
Niks gebeur egter kosteloos nie. Daar was noodwendig uitgawes vir onder andere die koordrag en busvervoer. Dr. Rykie Pienaar, mev. Susan Goosen, mev. Lorein Winter en ons vier deelnemers betuig hulle groot dank en waardering vir finansiële steun deur ons kerkraad, die Vrouediens en Stillekrag.
Uit die Lied van Hoop het dié woorde in die Staatsteater weerklink:

"Hoop leef in ons hart...

Kom ons prys God en bring Hom al die eer."

- Jan Pretorius ; inligting verskaf deur Kobie Small

Kobie Small, Martie Craukamp, Lydia Campher, Ena Adriaanse


Ù

"Middernagtelike Diens"

As ‘n mens aan middernagdiens dink, gaan die gedagte onwillekeurig na Oujaarsdagaand. In dié geval was dit nie Oujaarsaand nie en ook nie ‘n bruid wat besluit het om om middernag in die huwelik te tree en sodoende hulle huwelik ‘n onvergeetlike gebeurtenis te maak nie. Soos die etiket van die huweliksbeplanning dit vereis, is dit die gewoonte dat die bruid altyd die orrelis sal skakel om hom/haar te herinner aan die troue die volgende dag - wat uiters belangrik is, omdat menige orrelis al opgedaag het by ‘n troue wat gekanselleer is. Heelwat orreliste, wat van die troue vergeet het, is al op ‘n Saterdag-middag van die tennisbaan gehaal, terwyl die bruid in spanning by die kerk wag. Soos gereël, het die bruid my dan ook die Vrydag-aand herinner aan die troue. Ek moes vroeg die volgende oggend van Johannesburg af vertrek, aangesien die troue sewe-uur die oggend in Pretoria sou plaasvind. Die Vrydag-middag het ek vir ‘n begrafnis by die Kerk gespeel en ‘n gulde geleentheid gehad om my musiekboeke te neem - wat ek egter nie gedoen het nie. Die Vrydag-aand het ek besef dat ek my boeke sou moes gaan haal. Dié aand was ek baie besig by die huis en om 23h30 klim ek toe in die bed. Net toe ek aan die slaap wou raak, besef ek met ‘n skok dat ek nie die boeke gaan haal het nie. Ek spring toe dadelik op, trek my kamerjapon aan, spring in die motor en ry kerk toe - wat aan die anderkant van die stad is. By die kerk aangekom, besluit ek toe om nie die ligte aan te skakel nie. In die donker sluit ek die kerk oop. Ek moes deur die donker konsistorie loop, deur die maanverligte kerk en dan op na die galery waar die orrel is. ‘n Doodse stilte het in die kerk geheers. Ek het gewonder wat die gemeente sou dink as hulle my in my naggewaad sou ontdek? In die portaal het daar nog steeds die swaar-belaaide reuk van blomme in die lug gehang na die middag se begrafnis. Die blomblare het nog gekraak toe ek daarop trap. Met my voet op die derde trappie, slaan die kerkhorlosie 12-uur. By die orrel aangekom, het ek my boeke begin inpak. Op daardie oomblik kraak ‘n bank naby die orrel en klink dit soos iemand wat nou net gaan sit het. Die volgende oomblik was dit asof die hele gemeente begin sitplek inneem soos die banke in die kerk kraak. Of hulle gewag het vir ‘n orreluitvoering of ‘n diens weet ek nie!
Ek kyk toe maar van die galery af en sê vir die "gemeente": "Julle maak ‘n baie groot fout, want daar is nie ‘n diens vanaand nie".

- Gawie Stoltz


Die volgende uitgawe van die Die Oproep verskyn DV einde Januarie 2002. Die sluitingsdatum vir skriftelike bydraes is 15 Januarie 2002. U kan Kleinkie skakel by 435 -8274 of e-pos : helpa@netactive.co.za.

Ù