Gemeenteblad van die NG Gemeente Townsview - November 2000


Belydenis van geloof lei tot nuwe identiteit

Voor: Heidi Henning, Anneke Goosen, Bella Swart, ds. Christie van Zyl, oudl. Nico Martins, Linda Taylor, Natassia de Beer, Andries Greeff
Middel: Topaz Fleischer, Talita van Zyl, Antoinette Gersbach, Leandra Maree, Tanya Ihlenfeldt,
Fleur Bezuidenhout, Talita Veldsman, Odelia Martins, Astrid Nel
Agter: Fanie Ferreira, André Loock, Rita Swart, Nicolaas van der Walt, Rayno Bezuidenhout,
Louise de Wet, André van der Westhuizen, Johan du Preez, Lenus Swanepoel, Stephanie Jansen, Gerhard Rabie

 

"Ons het vanaand met die wonderwerk van die geloof te doen", het ds. Christie van Zyl gesê by die belydenisaflegging van 27 katkisante op 15 Oktober. Ds. Van Zyl het die boodskap gebring na aanleiding van 1 Petrus 2:9.
Om te glo, gebeur nie vanself nie; ‘n mens kan dit ook nie bewerkstellig nie. Dis ‘n gawe van God en ‘n oortuiging van die Heilige Gees. Daarom loof ons die Here vir wat in die lewens van die 27 jongmense gebeur – dat hulle elkeen hulle geloof in die Here bely!
Die aand is vir hulle ‘n besondere geleentheid waar die Here vir elkeen ‘n goue medalje om die nek kom hang. Dis ‘n hoogtepunt; ‘n oorwinningsgeleentheid waar hulle deel in die oorwinning wat Jesus vir hulle aan die kruis behaal het. Hulle is dus nie slawe van die sonde nie. Hulle is nuwe mense met ‘n nuwe identiteit: Christen, kind van God, uitverkore.
Dis egter ‘n oorwinning wat hulle erf en nie self verwerf nie. Die Here het alles gedoen. Hulle moet dit net aanvaar en toe-eien.

Die Bybel sê die medalje beteken:

  • Hulle is deel van ‘n uitverkore volk. Elkeen is deur God raakgesien en uitgekies om anders te wees; deel van ‘n geloofsfamilie.
  • Elkeen is ‘n koninkie of koninginnetjie omdat hulle saam met Jesus heers oor die sonde.
  • Elkeen is ‘n priestertjie – iemand wat in diens van die Here staan.
  • Hulle is heilig, wat beteken dat God hulle vir Hom afgesonder het.

Die goue medalje is die merk van die Here wat die wêreld laat verstaan: hierdie is my oorwinningskind.
Die Here skakel hulle in sy netwerk in. God se kinders is besig in die wêreld. Hulle lewe soos mense wat verlos is; met ‘n boodskap wat vertel van sy verlossingsdade – dissipels wat in Jesus se voetspore trap.
Daarom moet hulle leef soos God wil want hulle behoort aan Hom. Hulle lewenstyl moet getuig van norme en standaarde ooreenkomstig God se wil.
Ds. Van Zyl het afgesluit: "Gaan uit julle pad om vir die Here te leef met toewyding. Wees oorvloedig in julle diens in sy kerk en koninkryk en God sal elkeen wonderlik seën".
Twee van die nuwe lidmate, Odelia Martins en Talita Veldsman, het die gemeente toegesing.
Die gemeentekoor het gevolg met Heer, ek wil ‘n Christen wees.
Na afloop van die diens het almal verversings in die saal geniet.


Sondagbeplanning: Ontgin die dag vir die Here

 

U het seker al by dié tyd verneem dat die kerkraad beoog om gedurende die jaar 2001 die aantal dienste op Sondae na twee te vermeerder. U mag ook gehoor het dat die kerkraad beoog om ander aktiwiteite ook op Sondae te reël, soos ‘n Bybelskool, bidure, groepbesprekings en kommissievergaderings.
‘n Mens se eerste reaksie is: "Wat maak die kerk nou weer – dit is onprakties", of "Ek sal maar kyk hoe die kerkraad sy kop stamp."
Hierdie is natuurlike reaksies! Maar kom ons kyk waar kom al die gedagtes vandaan. U sal onthou dat ons in Oktober 1999 ‘n gemeentekonferensie gehou het, wat deur 80 gemeentelede bygewoon is en gedurende Junie 1998 ‘n gemeentevraelys gedurende die diens deur 129 gesinne laat invul het.
Beide die twee opnames het onder meer aangetoon dat die gemeente van Townsview ‘n diverse gemeente met diverse behoeftes is, dat gemeentelede meer betrokke wil wees, dat daar meer buigsaamheid in die eredienste moet wees, dat ‘n verskeidenheid van geestelike behoeftes aangespreek moet word en dat lidmaatverlies teengewerk moet word.
Met al dié en ander behoeftes en voorstelle het die Eredienskommissie besonder baie tyd spandeer om te poog om al die behoeftes te akkommodeer. Die uiteinde is die model wat vier sessies op ‘n Sondag insluit. Die sessies is:

8h00 – 9h00 - Erediens (nie tydens Nagmaal)

    • Kinderdiens

9h00 – 10h00 - Kategese

    • Bybelskool
    • Biduur
    • Jeug selgroep
    • Tee

10h00 – 11h00 - Erediens (doop/Nagmaal)

11h00 – 12h00 - Uitreikaksies

    • Groepbesprekings
    • Vrouediens
    • Kommissievergaderings

18h30 – 19h30 - Toerusting / Kursusse

    • Wyksbyeenkomste
    • Kerkraadsvergaderings

U sal ook merk dat daar gepoog word om soveel as moontlik gemeentelede se behoeftes aan variasie met die Sondagindeling te akkommodeer. Die indeling skep ook die geleentheid om aksies by te voeg of weg te laat. Die Eredienskommissie se leuse is dan ook: ONTGIN DIE DAG VIR DIE HERE deur middel van:

Waar pas u in die indeling in? Hou die kerkalmanak, afkondigings en bord in die portaal dop. U sal verras wees oor die nuwe geleenthede om uself geestelik op te bou en betrokke te raak. Kom deel in ons nuwe Sondag!
Wat vra die kerkraad van ons elkeen?

  • voorbidding
  • betrokkenheid
  • geduld
  • meelewing

Lees 2 Samuel 6 as u weer wil kennis neem hoe die volk van God, God geloof en prys het, wat die voorloper was van die eredienste van vandag.

- Nico Martins: Eredienskommissie



Enkele boeke wat interessante en waardevolle leesstof sal wees, word hier bekend gestel.
Die boeke het by Lux Verbi.BM verskyn en kan tolvry by 0800 231 231 bestel word of by ander goeie boekwinkels verkry word.

HIERDIE JESUS is ‘n Bybelse dagboek deur die bekende Solly Ozrovech. Dit bevat 366 dagstukke oor Jesus: sy Persoon, sy Name, sy lewe, lyding en sterwe, gelykenisse, leringe en eise; ook sy invloed op die lewe van sy volgelinge, sy wederkoms en heerlikheid.

Hy sit aan die regterhand van God om vir ons in te tree. Hy berei vir ons ‘n plek voor by die Vader, maar Hy is ook nou en hier by ons deur sy Heilige Gees. Prys R79,95


HOE OM SUKSESVOL TE LEWE is deur ‘n bekende in die radiowese en musiekwêreld, Francois van Heyningen, geskryf. Dit is nie ‘n sielkundig-wetenskaplike referaat nie maar ‘n praktiese boek wat ‘n gewone mens met die eerste simptome van stres, spanning en bekommernis kan help. In onsekere tye met soveel bedreiginge is dié simptome algemeen. Prys R37,95


In LEPELS VOL SONSKYN wil Jannie le Roux die boodskap oordra: Sien God se plan in die dinge wat met jou gebeur. 30 Bybelverhale word verrassend nuut oorvertel – asof dit in die 21ste eeu afspeel. Die verhale wil help om in die hier-en-nou te ontdek hoe God ‘n pad met jou loop en noodwendig sekere dinge toelaat om te gebeur omdat sy liefdesverhaal met jou nooit ophou nie. Kyk wat jy daaruit kan leer.

Prys R44,95


SEER IN JOU LEWE is ‘n boek in die Toptemas vir tieners-reeks. Die skrywers is Johan Smith en Cassie Carstens. Dit behandel verskeie seermaak-ervarings in die lewe van jongmense en wys op die rol van Jesus in die heelmaakproses. Prys onbekend.


LEWENSVREUGDE deur Leon Steenkamp bevat 13 sleutels – aan die hand van Filippense 4:4 – 20 - om ‘n nuwe lewe vol blydskap oop te sluit. Dit bied oplossings op die vraag: Hoe kan ek lewensvreugde ervaar as ek so alleen is met soveel sorge in sulke slegte omstandighede?

Solank jy die regte beginsels toepas, groei jy tog – in die wortels – dis die voorbereiding. Prys R49,95


Dopelinge

Die volgende babas is sedert ons vorige uitgawe in die gemeente gedoop:

  • Lorraine, van mnr. en mev. D. Wolfaardt van Oakdene
  • Juan, van mnr. en mev. H. du Plooy van Mulbarton
  • Kiara Lauren, van mnr. en mev. P. Hedger van Bassonia

Mag die ouers die wysheid en geestelike toerusting ontvang om hulle doopbelofte getrou na te kom. 


In memoriam

Sedert ons vorige uitgawe is mnr. Hannes van Rooyen van Renaissance 165 oorlede.

Ons betuig ons innige meegevoel met sy eggenote Rina en die familie.

Nuwe intrekkers

Hartlik welkom aan die volgende nuwe lidmate wat in ons gemeente ingetrek het:

  • Mnr. en mev. M. Wolfaardt, Michelle en Mitchell, Roxystraat 3, Mulbarton
  • Mev. Y. Erasmus, Gleneaglewoonstelle 16, Joubertstraat, Glenanda
  • Mnr. en mev. J. Swanepoel, Therese Court 1, Rosettenville
  • Mnr. en mev. R. de Beer, Great Britainstraat 119, Kenilworth

Dankbetuigings

Marais

Baie dankie vir al die belangstelling, telefoonoproepe, kaartjies en besoeke tydens my operasie op 27 Julie. Dankie dat julle ons nie in julle gebede vergeet het nie. Die operasie was ‘n sukses. Seënwense.

- Anna (Nien) Marais

Craffords

Net nadat dit bekend geword het dat ons motor in ‘n ongeluk afgeskryf was, het Alwyn du Preez sonder aarseling ‘n motor aangebied vir ‘n onbepaalde tyd. Dankie Alwyn; jy het ons weer eens geleer dat ons nie net hoorders moet wees nie maar ook daders en jou medemens in nood moet help.

- Richard en Estelle

Vrouediens

Al die dames wil graag vir tannie Roos baie dankie sê vir die fraai, mooi kleedkamergordyn wat sy met liefde gemaak en geskenk het.

- Vrouediens

Waarderende lidmaat

‘n Vriendelike dankie aan Chrisna wat so getrou besielende gedagtes vir die week aan ons deurgee. Daar is altyd iets om die gees te bemoedig.

- ‘n Waarderende lidmaat


Nuus van Stillekrag

Op 20 September is die koms van die lente gevier met ‘n talentoggend. Lede van Mondeor het besoek afgelê en verskeie items is gelewer wat groot byval gevind het. Heerlike verversings het die oggend afgesluit.

Voor: Alet Steyn, Larry Viljoen, Heila Hattingh
Agter: Aggie van Niekerk en Chris Trossee

 

 

Tant Babs en oom Paul Naudé was onder dié wat opgetree het.

Afsluiting

Stillekrag het die jaar op 18 Oktober afgesluit met ‘n gesamentlike ete by Leeway’s Kwekery.
Dié foto van die 80+ jariges is by dié geleentheid geneem.

 


Tant Aggie het op 1 Oktober en oom Chris op 23 September 80 jaar oud geword. Ons hartlike gelukwense aan hulle.


‘n Groot geleentheid vir pastoriegesin …

Ds. Christie van Zyl het die belydenisaflegging van sy dogter Talita waargeneem.
Op die foto verskyn René, Talita en ds. Christie.


Tiende maand dankoffer

Elke jaar kry lidmate die geleentheid om ons dankbaarheid te toon vir soveel seën wat ons uit die hand van die Here ontvang het.
Saam met Die Oproep ontvang u hierdie maand ‘n koevertjie vir u spesiale dankoffer. Bring dit asseblief na die kerk na ernstige oorweging en help dat ons begroting klop. Ps. 116:17 "Ek wil U loof met ‘n dankoffer."


Werkklasse gestaak

Dit is ‘n jammerte dat die werkklasse vir huiswerkers vanjaar gestaak moes word vanweë min belangstelling.
Die werkklasse het ‘n behoefte vervul om huiswerkers naaldwerktegnieke aan te leer en vaardigheid te ontwikkel vir die maak van artikels. Daarby is ook voorsiening gemaak vir geestelike verryking en sosiale verkeer rondom verversings.
Groot dank word uitgespreek teenoor staatmakers Tersia van Wyk, Frances Steyn, Jeanette Viljoen, Leen Scheffer, Lida Viljoen asook Lydia Campher wat die finansies behartig het en die tee en verversings georganiseer het.
Die masjiene is nog beskikbaar en daar gaan in 2001 ‘n poging aangewend word om die klasse weer aan die gang te kry. Skakel Frances Steyn (tel. 432-0414) as u huiswerker die klasse sal bywoon.


Jesus het regtig alles vernuwe
- Ds Christie van Zyl

Die grootste revolusionêr van alle tye is sekerlik Jesus Christus. Hy het die Jode van sy tyd se godsdienstige kaarte behoorlik deurmekaar gekrap. Dit was Hy wat hul gemaakte vroomheid en geestelike bybedoelings in die openbaar ontmasker het. Hulle het probeer om Hom as godslasteraar en ketter uit te maak, maar telkens was dit Hy wat hulle baie vindingryk op die neus laat kyk het. Want vir Hom het dit gegaan oor die waarheid van God. Hy was onverskrokke en reguit in sy prediking, maar tog ook sensitief en medemenslik.

Die belangrikste van alles is egter dat Jesus met ‘n nuwe, vars boodskap na die wêreld toe gekom het. Hy het die koninkryk van God op ‘n unieke nuwe wyse na ons toe gebring. Daarvoor het Hy Homself gebruik. Hy was die menslike gestalte van God se genade en in Hom het al die beloftes van ons hemelse Vader waar geword. Jesus was die meesterkunstenaar wat die skepping helder ingekleur het met ‘n goddelike nuutheid. Hy het nie net die sonde vir goed vernietig nie, maar ook vir ons kom leer hoe om op hierdie nuwe manier mens te wees en hoe om Hom voortdurend te ontdek as die God wat ons telkens verras. Wanneer ons aan die einde van 2000 Kersfees gaan vier, moet ons dit onthou. Dis nie ‘n ou fees wat slegs maar die gebeure van so om en by 2000 jaar gelede wil gedenk nie. Dit moet vir ons ‘n nuwe verruklike fees word waar ons keer op keer die goedheid en wonderlike liefde van God herontdek, van nuuts af waardeer en telkens in ons lewens toepas.

Eintlik het ‘n nuwe kyk na Jesus nie net ons Kersfeesvieringe aan die einde van die jaar in die oog nie, maar ons hele Christelike geloofslewe wat ons kerkwees en gemeentewees insluit. Ons is mense wat tydens die opbloei van tegnologie en nuwe eietydse denke leef. Dit skep gevare en uitdagings vir die Christendom. Maar dit maak ook nuwe moontlikhede oop en stel eietydse uitdagings. Die kerk moet dus met sy eeue oue universele boodskap van God se bestaan, heerskappy en reddingswerk tydig wees. Die teenwoordigheid en ingrype van God moet duidelik raakgesien en baie effektief aan alle mense verkondig word. Die inhoud van die heilsboodskap moet in nuwe verpakkings by die deure van mense se harte afgelewer word.

U en ek moet dus kan ruimte maak vir die wonder van ‘n maagdelike geboorte in ‘n landelike omgewing en toelaat dat dit ons nie net aanspreek nie, maar ook ons lewens op ‘n goddelike manier beïnvloed. Die trefkrag van Jesus se koms na die wêreld mag nie iewers agterbly nie. Dit moet in die woorde en wysies van splinternuwe liedere weerklink en op kerke se webblaaie en van kansels af moet die boodskap steeds verder kring. Ons moet God soek en vind in ons eie lewensdae, want Hy is mos deur sy Seun ook vandag teenwoordig en in beheer.

Verder moet ons uitvind hoedat God elkeen van ons wil aanwend om sy liefde en betrokkenheid in ons wêreld te toon. Dis nie verniet dat Hy ons juis in hierdie tyd in hierdie land laat woon en werk nie. Ons word geroep om hier en nou ‘n verskil te maak, maar dié verskil hang nie van onsself af nie. Dit is God se werk in ons. En ons moet sy medewerkers wees.

Townsview Gemeente moet dus ‘n tydige gemeente wees wat eietyds deurgaans bewus is van die nuutheid en die varsheid van God se teenwoordigheid, sy versoeningswerk asook van al die seëninge en gawes wat Hy gee. Ons wil raaksien dat ons lidmate bepaalde omstandighede en behoeftes het asook gawes en bereidwilligheid. Ons wil begrip vir ons kinders en jongmense se vrae, vrese, vermoëns en geleenthede hê. Ons wil brûe na God en na mekaar bou sodat ons kan sien en kan ervaar hoedat God ons telkens vernuwe en saambind as sy eiendom. Ons wil toelaat dat God ons harte en denke nuut maak soos wat die Bybel ons oproep by Romeine 12. Dan sal ons ook die sin en waarde ontdek van al die planne van die gemeente vir 2001.

Die gemeente is ‘n op-weg-wees gemeente na die dag wanneer God alles ten volle gaan nuut maak [Openbaringe 21:5]. Maar eintlik het Hy in Jesus Christus reeds daarmee begin. Hy doen dit dag vir dag in ons harte en lewens. Loof en prys Hom daarvoor.

- Ds. Christie van Zyl


‘n Kleuterskool by die kerk?

Die kerkraad is deur die maatskappy Smiley Kids genader om ‘n gedeelte van die kerkgeboue aan hulle teen ‘n maandelikse huur beskikbaar te stel om ‘n kleuterskool en naskoolsentrum te bedryf. Aanvanklik het almal die wenkbroue gelig en gewonder of so iets kan werk en of ons onsself daarin moet begeef. Die dagbestuur is getaak om die saak te ondersoek en daar is met die aansoekers begin onderhandel. Nadat kontak gemaak is met gemeentes waar dit reeds plaasvind, die kontrak onder hande geneem en aangepas is en van verskeie kante insette ingewin is, het die saak lewensvatbaar begin lyk. Toe die gemeente se finansiële posisie van ‘n R30 000 tekort op hierdie stadium van die finansiële jaar in ag geneem is, moes almal instem dat dit vir die gemeente tot groot voordeel kan wees. Dit hou egter ook verdere voordele soos die volgende in:
  • Omdat die kerk gedurende die week toegesluit staan, is dit ‘n groot risiko vir misdaad en skade en dit kom toenemend voor. Beter sekuriteitsmaatreëls en menslike beweging by die kerk behoort hierdie probleem aan te spreek.
  • Ons beskik oor goeie fasiliteite wat vir die gemeenskap tot diens kan wees. Neem egter kennis dat slegs die Oratorium-gedeelte en moontlik die klaskamers gebruik gaan word en dat die kerk, saal en kombuis gladnie betrokke is nie.
  • Indirek werk die kerk mee aan werkskepping wat uiters noodsaaklik is in ons land en omgewing.
  • Die kleuterskool gaan sekere verbeterings soos omheining aanbring wat verbeterings aan ons perseel is.
  • Ons eie lidmate kan gebruik maak van ‘n professionele diens in ‘n bekende omgewing.
  • Die gemeente kry groter blootstelling.
  • Ons eie kinderkerk en kategeseskool sal die kleuterskool se geriewe mag benut.

Nadele kan daar ook wees soos skade aan eiendom en perseel. Kontraktueel is die kleuterskool egter daarvoor verantwoordelik en behoort sodanige en ander probleme met die nodige kommunikasie, begrip en goeie gesindheid opgelos te kan word. Per slot van sake het Jesus mos gesê dat die koninkryk aan die kinders behoort. Moet ons nie ook na hulle omsien nie?

Indien die beplanning reg verloop, behoort Smiley Kids op 1 Desember met hul diens te begin. Persone wat meer inligting verlang of voel dat hulle ‘n mening wil lug, is welkom om met enige lid van die dagbestuur te praat. Die kontrak is ook beskikbaar vir gemeentelede se insae.

- Ds. Christie van Zyl


Hoërskool Fakkel se koor by erediens

Die koor van Hoërskool Fakkel wat onder leiding van mev. Hardie van der Westhuizen luister verleen het aan ons erediens op 8 Oktober


Dankie

Ek wonder hoeveel mense onthou nog die bekende liedjie Dankie wat in die laat jare ’60 deur Lance James geskryf is. Dit is dikwels deur die bekende Groep 2 gesing.
Lance het destyds aan my gesê dat dit heel toevallig geskryf is en hy het nie verwag dat dit so gewild sou word nie.
Koos du Plessis se liedjie Eenvoud laat ‘n mens ook weer dink aan die eenvoud van die lewe. Is dit nie vir ons as gelowiges die beste bewys met die geboorte van Christus in ‘n stal nie?
Ons as gemeente het soveel om dankie te sê vir die afgelope jaar vir al die wonderlike seën ontvang van die Here. Dankie vir die voorreg om te kon sing tot sy eer in elke erediens.
Martin Luther het by geleentheid gesê een lied tot eer van die Here gesing, het die waarde van sewe gebede.
Kom ons maak van 2001 ‘n singende jaar waar ons met volle oorgawe die Here gaan prys met sang en musiek.
Aan al ons gemeentelede wens ons ‘n geseënde Kersseisoen en ‘n singende 2001 met volle oorgawe aan God toe.

- Gawie Stoltz: orrelis

Nagmaal "anders" gevier

Die Nagmaalviering op Sondagaand 22 Oktober was verrassend anders as waaraan ons gewoond is.
Nagmaalgangers is na die saal waar tafels gerangskik was met kerse en die brood en wyn daarop uitgestal. Stoele is so gerangskik dat groepies agter elke tafel plaasgeneem het.
Een persoon per tafel het dan ‘n broodrol geneem en dis van hand tot hand aangegee terwyl elkeen ‘n stukkie afgebreek het. Die wyn is ook so versprei in elke groepie. Groter gemeensaamheid is so ervaar.
Dié wyse van bediening het groot tydsbesparing meegebring en die diens was na ‘n uur verby.
Ds. Van Zyl het die mening uitgespreek dat dit vir die nuwe lidmate betekenis gehad het en dat die metode paslik is vir ‘n aandgeleentheid. Dit is ook geskik vir ‘n gesinsopset.


Sondagskoolgroepie in "die kombuis"

Hierdie vriendelike gr. 5-groepie is in ‘n syvertrek van die oratorium aangetref.
Voor: Elize en Minette
Middel: Kategete Leonie du Preez en Rachelle Spies
Agter: Callie, Rheino, Etienne, Liaan, Bianca, Werner, Lenel, Sandra en Daleen


Gemeente revue bied lekker luisterstof

"Die kêrel het vir sy nooientjie gesê: ‘Kom ons gaan blomme pluk in die vlei’. Toe hulle daar kom, was daar ander mense ook en toe moes hulle maar blomme pluk". Met hierdie staaltjie het oom Larry Viljoen die gaste by die gemeente revue laat skaterlag. Daarna het hy die bekende melodie op sy mondfluitjie gespeel.
Dit was ‘n program wat aangename vermaak gebied het. Die verskeidenheid het ingesluit sang, koorsang deur die gemeentekoor, voordrag, individuele musiekitems en duetsang. Die stemming het gstrek van die komiese tot die ernstige en die deelnemers van jonk tot nie so jonk nie.
So ‘n program verdien ‘n groter opkoms.


Hulle het by die revue opgetree …


Gemeentekoor en Elkan Butler


Alet Steyn


Miranda Smith


Elkan Butler


Larry Viljoen


Gawie Stoltz


Lydia Campher

 


André van der Westhuizen


Agatha Erasmus


Richard Crafford


Hannelie Viljoen en Hantie de Beer


Odelia Martins


Rita Swart


Elsabé van Rensburg


Alwyn en Frikkie du Preez


Afrikaners is plesierig

"My Sarie Marais is so ver van my af en ek hoop om haar weer te sien". So het die storie begin wat op 28 Julie in die oratorium vertel is deur sang (Hannelie Viljoen), bekfluitjie (Richard Crafford) en voorlesing (Adéle Calitz).
‘n Storie oor volbloed Afrikaner wees, ‘n storie oor ons Afrikanerwortels "want trots is ons om die naam te dra van kinders van Suid-Afrika".
Natuurlik het oom Jan sy welverdiende erkenning gekry, want "jy’s ‘n artist Van Riebeeck, truly, soewaar, ‘n master of colours, finish en klaar".
Ook die storie oor hartseer, verlange en pyn is weer beleef wat soveel jare gelede ook deel was van dié Afrikanervolk – oorlog, die afsterwe van ‘n geliefde, verskeurde dorpe …
Die bobbejane wat die boere tog so vererg het, het ook ‘n draai kom gooi, MAAR as die Alibama oor die see kom, is dit tyd vir makietie hou terwyl die rooies hulle koppe laat swaai en draai.
En watter Afrikaner het nog nooit dolsmoor harstogtelik verlief geraak nie, en blindelings erken dat "jy is die lig van my lewe, jy is die twak in my pyp; as ek jou nie het nie, is my lewe doodgeryp". En dan heel logies sal die opsitkers (flikker-flikker) heel spontaan volg vir ‘n heel gewillige boerklong, want "’n meisie wat nie kekkel nie, se bekkie soen nie lekker nie".
En so het ons aan die einde gekom van ons Afrikaanse storie, maar wat tog bly voortleef, en vir jare sal bly voortbestaan. En ons as nederige Afrikaanse volk vra ons God, wat ook die God van oom Jan en sy Afrikaners was, "Gee ons liefdevolle hande Heer, en sny U self aan die belemmerde kleed dat daar nie onnodig bloed verspil nie, en deel U self die lootjies uit".

" " = uitreksels uit gedigte en prosastukke in Kabaret.

- Adéle Calitz


Musiek – taal sonder grense

Na aanleiding van ‘n versoek om voorbidding vir die wyke in Renaissance het daar heelwat positiewe reaksie vanuit die gemeente gekom. Verskeie dames het aangebied om eensame bejaardes te besoek. Richard en sy musiekspan was dadelik ook weer bereid om die seniors met musiek en sang te kom vermaak. Adéle Martins het namens die jongmense hulp aangebied.
Al die bejaardes in die gemeente, asook die res van die inwoners van Renaissance, is genooi om op 14 Oktober in die pret te deel en saam te sing.
Die reaksie het alle verwagtinge oortref. In ’n volgepakte saal het persone van verskillende denominasies en taalgroepe heerlik saamgesing. Dit was vir ons as NG lidmate ook ‘n wonderlike "uitreik-geleentheid". Daar was groot waardering vir die jongmense van ons kerk en heelwat positiewe navrae oor die gemeente en ons koor.
Dié geleentheid het weer eens bewys dat die taal van musiek universeel en sonder grense is. RENAISSANCE beteken HERLEWING. Ons bede is dat aksies soos hierdie ook ‘n herlewing en nuwe belangstelling in die lewe van ons bejaardes sal bring.
Baie dankie aan almal wat meegehelp het om die dag so ‘n reuse sukses te maak.

- Joey Cruywagen


Kinderhuise verdien ons steun

Dat Townsview ‘n vooggemeente van Huis Bouwer en Maria Kloppers se babasaal is, plaas ‘n groot verantwoordelikheid op ons skouers. Ons moet daadwerklik meehelp dat die lot van minder bevoorregte kinders verlig word.
Daarom is ons so dankbaar vir lidmate van ons gemeente wat voortdurend betrokke is en help waar hulle kan. Onlangs het drie kranige ondersteuners van die babasaal van Maria Kloppers daar besoek afgelê.
Lida Viljoen maak elke winter sweetpakkies en Sandra en Yvette Kruger (ma en dogter) brei reeds ‘n dekade lank elke winter truitjies en kombersies.
Die vrouediens bring groot dank aan hulle. Die babasaal het die besoek en bydrae baie waardeer.

Lida Viljoen, Yvette en Sandra Kruger by inwonertjies van die tehuis


Stap-vakansietjie verkwikkend

Die verkeer na die noorde op ‘n langnaweek-Vrydagmiddag is skrikwekkend. Dit is wat Fanie Vlok en Riana Coetzer die naweek van 22 – 25 September uitgevind het. Hulle was die laatkommers by Madikela Wildsplaas waar ‘n groepie van ons gemeente gaan stap het.

‘n Mens kry natuurlik stap en stap. Party ouens hou van swaar rugsakke, hoë berge, diep riviere en waterblase aan hulle voete. En hoewel daar stappers van hierdie formaat in die groep was, het niemand verontreg gevoel toe die staptoer geriefliker in die kategorie van ‘n rustige bosveldnaweek ingepas is nie. Daar was selfs warm water, sagte matrasse, ‘n yskas en spoelgeriewe!

Nie dat daar nie gestap is nie. Natuurlik! Dis mos waarvoor ons soontoe gegaan het. Ons het selfs oor rotse geklim, wild bekruip en deur dik sand gesukkel. Maar ook seker gemaak dat ons elke keer terug is by die kamp voordat ons onsself te veel sou ooreis. Net om lekker in die lapa of langs die swembad ‘n bietjie te vergeet van die stad waar ons onsself so maklik verloor.

Dit was ‘n rustige naweek sonder inspanning, programme en gepraat. En tog ‘n luukse tydjie waar ons die handewerke van ons God kon geniet en in die stilte ‘n bietjie nader aan Hom kon kom.

O ja! Ons het geëet ook! Te lekker en miskien ‘n bietjie te veel.

Die stappers … vars en lus vir die roete

 

Die volgende uitgawe van Die Oproep verskyn DV begin Februarie 2001. Sluitingsdatum vir bydraes: 14 Januarie 2001.

Jan Pretorius, tel. 682-1609.