Gemeenteblad van die NG Gemeente Townsview - Augustus 2000

Jannie Pelser loof die Here

Met sy kenmerkende TV-voorkoms het die bekende ds. Jannie Pelser op 28 Mei ‘n lofprysingsdiens in ons kerk gelei: die hare ‘n vrye lengte; die baadjie ‘n nommer of wat groter as nommer pas. Was dit miskien om daardeur te sê: Ek kom nederig na julle soos my Meester Jesus Christus?
Jannie Pelser het reeds as kind die aandag getrek met sy sang. Na voltooiing van sy predikantstudie het hy ‘n tyd lank as leraar in die NG Gemeente Rant-en-Dal gedien. Hy het sy leraarspos neergelê om hom op voltydse musiekbediening toe te spits.
In sy lofprysingsdiens is sy sang afgewissel met geestelike gesprekke met die gemeente. Kinders is vernuftig by sy diens betrek.
Jannie wil hê Christene moet jubelend lewe. Ons moet uiting gee aan ons vreugde.
Hy het gesê ons spandeer so baie aan aardse versekering. Wat van versekering vir die ewigheid? Dit is gratis.
Van sy CD’s is te koop aangebied en het heelwat aftrek gekry.
Jannie Pelser se optrede was geestelik verrykend. Deur ‘n oop venster van hul vertrekkende motor het tant Nien van haar laat hoor: "Dit is waarvan ek hou!"


Jannie Pelser bring lof aan die Here


Jannie dra in sy sang Johan Adlem aan die Here op.


Hierdie twee patrone, Margot en Tienkie Viljoen, het die seniors by 'n byeenkoms te Kroonrand toegesing.


Sendingwerk is ook u werk

Die Sending- en evangelisasiekommissie van ons gemeente is goed op dreef en is ook aan die uitbrei. Ongelukkig het twee van die sleutelfigure, ds. en mev. Minnaar, ons verlaat omdat hulle na Potchefstroom verhuis het. Daarmee het ons ‘n belangrike skakel met die kerk in Mosambiek verloor. Ons bid egter vir hulle die Here se seën toe in hul nuwe omgewing en is saam met hulle bly dat hulle nou naby hul kinders kan woon. 


 

 

 

 

 


Ds. Christie van Zyl

 

Voortaan wil ons graag tydens die erediens elke Sondag die gemeente se aandag en voorbidding vestig op die een of ander sendingaktiwiteit en land waar daar evangelisasiewerk gedoen word. Ons wil ook die gemeente se betrokkenheid in ons eie gemeente en gemeenskap prikkel omdat ons daarvan oortuig is dat ons sendingopdrag plaaslik moet begin. Sendingwerk het egter ook materiële implikasies. Daarom word daar vanuit hierdie kommissie ‘n voedingsprojek in die Bellavista-omgewing geloods. Elke Maandagmiddag word kospakkies voorberei en aan behoeftige gesinne uitgedeel. Om hierby betrokke te wees, is ‘n verrykende ervaring en bring mens werklik in kontak met die nood op straatvlak. Persone wat belangstel om hiermee te help, kan die voorsitter, Dennis Leibach of ds. Christie kontak. Miskien het u die een of ander vorm van geestelike behoefte of nood geïdentifiseer en u is dalk aangespreek en deur die Here geroep om ‘n verskil te maak. Raak betrokke by ons sendingkommissie en deel u ervaring met ander gelowiges. Ons het u waardevolle inset, gebede en deelname nodig. ‘n Kerk wat uitreik, is ‘n kerk wat lewe.

- Ds. Christie van Zyl


Sendingakker in Rusland vrugbare grond

"As ‘n Rus die Here Jesus vind, verander sy lewe radikaal. Sy lewe word Christus. Hulle is honger vir die evangelie". Dit was die woorde van mnr. Johnny Bell toe hy ‘n groepie belangstellendes in die Oratorium toegespreek het.
Mnr. Bell het vertel hoe die Here hom "gekaap" het vir sendingwerk in Rusland. Hy het sy apteek in die Wes-Kaap verkoop en gehoor gegee aan die roepstem. Hy voel so sterk oor sendingwerk dat hy sê die kerk wat nie betrokke is by sending nie, het geen bestaansreg nie.
Vir sendingwerk in Rusland is daar ‘n komitee, bestaande uit predikante en ander geestelikes, wat optree as fasiliteerder. Vrywilligers bring 6 maande in Rusland deur en 6 maande in Suid-Afrika.
‘n Vrywillige werker gaan nie daar as ‘n individuele sendeling werk nie; die taal is te moeilik om baas te raak. Die doel is om ondersteuningswerk in plaaslike gemeentes aldaar te doen. Johnny doen 6 maande verkenningswerk in gemeentes daar en kom stel dan die behoeftes aan gemeentes in Suid-Afrika wat finansieel help en aanmoediging gee.
Die mense in Rusland smag ook na vrede en geluk. Daar is dierbare mense maar hulle lewe in armoede. Ellende en verval is oral sigbaar.
Johnny sê die vraag word dikwels gestel: "Wat gaan soek julle so ver in Rusland?" Die antwoord is: Dis oestyd in Rusland. Na 70 jaar het die Here verhoor en die rype tyd geskenk.
Heidendom het nie meer ‘n swart gesig nie maar ‘n wit gesig – blankes in Europa is die heidendom.
Johnny vra: Gooi jou gewig by die Here in. Stig ‘n groep en sluit aan by sy groep. Gaan dan vir ‘n week of twee na ‘n gemeente in Rusland om te gaan help.
Dis moeilik om weer weg te gaan, want hulle klou aan jou en jy ondergaan ‘n verandering. Hulle het bemoediging nodig. Gaan sit u voete fisies daar. Die Here sal jou pad begaanbaar maak.
Johnny het afgesluit: "Raak betrokke by sending. Dis die Here se wil en verwagting."
Johnny en Deleste Bell kan in Franschhoek gekontak word by telefoon/faks (021) 876-3519 en selfoon 083-491-6379; E-pos:
johnbell@nisza.



Inligting oor nuwe boeke is weer van Lux Verbi ontvang.

In DIE 4 X 4 – AVONTUUR VAN OUERSKAP vergelyk Ansie Kitching kindersgrootmaak met die avontuur om ‘n 4x4-voertuig op ongebaande roetes te bestuur. Die skryfster bied ‘n baie bruikbare roetekaart vir alle ma’s en pa’s, enkel- of dubbelouers, wat saam met hulle kind op pad is na die einddoelwit van volwasse menswees. Die praktiese wenke spreek van wysheid en deernis met kinders en kom van iemand met ervaring van ma-wees en ‘n deeglike akademiese agtergrond. Prys R44,95


JESUS EN EK bevat 31 dagstukke vir tieners en is geskryf deur Leon Ferreira en Cassie Carstens. Die boek vertel van Jesus as Koning, Beskermer, Leidsman, Bestuurder, Leermeester, Verlosser, Advokaat en nog meer. Ferreira is betrokke by interkerklike bediening deur sang en drama. Carstens het ‘n passie om jongmense te mobiliseer vir evangelisasie- en dienswerk. Die boek kos R26,95


Kinders moet vroeg leer om geld verantwoordelik te hanteer. Mary Hunt het in HELP JOU KIND OM MET GELD TE WERK’n eenvoudige plan om kinders finansiële kundigheid aan te leer. Sy waarsku teen skuldmaak. Prys R47,95


HIERDIE GOD … TELKENS WEER NUUT is ‘n 12-week Bybelstudiereeks deur Louis Jonker. Dit bevat riglyne omtrent al die aspekte van Bybelstudie. Hy neem ‘n paar groot temas uit die Bybel en toon aan hoe die Bybelse gelowiges hierdie temas in verskillende tye op verskillende maniere verstaan en vertolk het … om sin te maak vir hulle eie tyd en bestaan – soos wat ons ook geneig is om te doen. Prys R28,95


In NET JOLLIE GOEIE MENSE … skryf dr. Annes Nel net sulke mense kan ons land weer leefbaar maak. Die boodskap van Jesus se liefde, diens en versoening klink vir baie so goed dat hulle hulle graag daarmee vereenselwig. Maar wanneer dit kom by sakebesluite of die ekonomie, etiek en sosiale verhoudings besluit hulle teen die waardes wat eie is aan Christenskap. Wat is hierdie waardes? Kan dit ‘n samelewing verander? Kan die moord en die misdaad en die geweld en die korrupsie hokgeslaan word as almal weer volgens God se besluite lewe? Prys onbekend.

Die boeke is verkrygbaar by Lux Verbi of ander goeie boekwinkels.


Dopelinge

Die volgende kleingoed is sedert ons vorige uitgawe in die gemeente gedoop:

  • Douglas, van mnr. en mev. L.L. Breytenbach van Rosettenville
  • Xander, van mnr. en mev. D.F.J. Prinsloo van Glenanda
  • Kevin, van mnr. en mev. A. Jansen van Rensburg van Glenvista

Baie geluk.

 


Mylpale vir drie seniors

Tant Heila Hattingh vier DV op 10 September haar 88ste verjaarsdag. Tant Heila word gereeld by die eredienste en Stillekragbyeenkomste gesien. In Die Oproep van November 1998 het ‘n berig oor haar verskyn. Ons sal aan haar dink en ons gelukwense sal volg.

Oom Larry Viljoen het op 4 Julie sy 80ste verjaarsdag gevier. Oom Larry neem nog gereeld sy plek in die ouderlingsbank in en hy en tannie Jeanette is getroue Stillekraglede. Ons hartlike gelukwense aan oom Larry. Ons bid hom die seën van die Here toe. ‘n Berig oor oom Larry en tannie Jeanette het in Die Oproep van Augustus 1996 verskyn.

Ons hartlike gelukwense aan Tannie Alet Steyn wat ook op 4 Julie haar 80ste verjaarsdag gevier het. Tannie Alet is‘n getroue Stillekraglid en ‘n bekende gesig by die wyksbyeenkomste. Sy is ook ‘n gereelde pryswenner by die Intergroepdag.


Huweliksbevestiging

Faan en Esthea Conradie is op 15 April deur dr. Christo van Rensburg in die huwelik bevestig. Esthea is die dogter van dr. en mev. Carl van Jaarsveld van Glenvista. Esthea is in Townsview gedoop en het hier belydenis van geloof afgelê. Die egpaar woon tans in Weltevredenpark.

Nuwe lidmate

Denise du Plooy en Colett Hofstede het op 21 Junie belydenis van geloof afgelê en lidmate van ons gemeente geword.

Hulle word gelukgewens met die groot stap en as lidmate verwelkom.


Nuwe intrekkers

Hartlik welkom aan die volgende nuwe lidmate wat in ons gemeente ingetrek het:

  • Mnr. en mev. C. van der Westhuizen, Fatimahof 1, Veronastraat, Rosettenville
  • Mnr. P. van Dyke-Geyser, Feroxrylaan 47, Glenvista
  • Mnr. en mev. C. Willemse, Phillipstraat 61, Rosettenville
  • Mnr. en mev. J.D. Terblanche, Lanzeracplek 10, Mulbarton
  • Mnr. en mev. B. Jansen, Mount Pellanweg 235, Glenvista
  • Mnr. en mev. J.A. Noppé, Tarentaalstraat 11, Bassonia
  • Mnr. en mev. G.J. Bateman, Buffalohof 1, Ferreirastraat, Kenilworth

 

In memoriam

Sedert ons vorige uitgawe is mev. Stinie Pentz van Bergstraat 27 oorlede. Innige meegevoel word betuig met al haar familie en vriende.

 

Proe-oggend

By die tweede proe-oggend wat deur die susters gereël is, is hierdie groepie in gesellige luim aangetref: Aletta Buys, Santie Smit en Elsabé, Alretha en Marien Buys


Die paadjie van u dankoffers

U het dankofferkoevertjies van u kerkraadslid ontvang met u wyknommer en lidmaatnommer daarop. U het die koevertjie met u dankoffer daarin by die kerk in die bussie of kollektebord geplaas. Wat gebeur nou verder?
Twee lede van die Kantoorkommissie stempel die koevert, haal die bydrae uit en teken die bedrag aan volgens kontrolestelsel.
Die kassier reik ‘n kwitansie uit vir die ontvangs van die dankoffers. Die skriba bring die bedrag van die dankoffer by die lidmaatbesonderhede op rekenaar aan.
Die koevertjies word in die betrokke kerkraadslid se hokkie geplaas wat dit dan met die volgende huisbesoek aan die lidmaat as kwitansie gee.
So word die sirkel voltooi.


Onstellende syfers

In Die Kerkbode van 16 Junie 2000 lees ons dat die 21 000 NG lidmate in die Ring van Pretoria in 1982 nou gekrimp het tot minder as 4 000 in 2000. Waar daar 20 jaar gelede nog ongeveer 30 leraars in die Ring van Pretoria was, is daar nou ses leraars. Bekende gemeentename het verdwyn. Dié Ring beslaan die meer sentrale deel van Pretoria.
In Die Kerkbode van 26 November 1975 tel ons 37 leraars wat beroepe ontvang het en nog 11 in sendinggemeentes.
Vir beroepe bedank 24, beroepe aangeneem 7 en 9 predikante is in nuwe gemeentes bevestig.
Toe nog ‘n beeld van bedrywigheid, weliswaar landwyd.
Die syfers vorm ‘n prentjie van toe en nou wat elke NG lidmaat ontstel.


Vergewe my - asseblief
- Dr Christo van Rensburg
Om te erken dat jy skuldig is en ‘n fout begaan het, is seker een van die moeilikste dinge om te doen. Om verskoning te vra, is seker nog moeiliker. Daarom krop ons maar ons skuldgevoelens op of probeer dit ignoreer of ontken. Die gevolg is dat jy nie net jou gesondheid benadeel nie, maar jouself in ‘n toestand van sielsongelukkigheid dompel.
Hier het ons te doen met die vraagstuk van vergifnis! Dit gaan hier oor skuld – sondeskuld – belydenis – vergifnis! Ons weet almal wat skuld, sondeskuld is. Daardie sielelas of sielsvertwyfeling wat jy met jou saamdra omdat jy, óf nie jou sonde bely het nie, óf omdat jy nie wil aanvaar of glo dat God jou sondes vergewe het nie.
Skuld werk destruktief! Dit het verlammende krag! Die ding wat toegesmeer word, laat jou in die nag wakker word. Dit vorm alles vrugbare grond vir die angs om oor te neem. Skuldgevoelens kamp jou af en vereensaam jou bestaan.
Dis geen wonder dat Dawid in Psalm 32:3 kan bely: Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer – my krag het opgedroog soos water in somerhitte.
Maar dan gaan Dawid voort in vers 5: Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: "Voor die Here bely ek my opstandigheid;" en U het my skuld vergewe.
Om oor jou skuld te praat, bring verligting. Om met God daaroor te praat, bring ruimte om te lewe. Want as jy voor God kom staan het met jou lewensverhaal, dan het jy die ruimte van God se liefde binnegegaan. Daarom dan ook die uitnodiging van die Here Jesus self in Matteus 11:28: "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en ek sal julle rus gee." En die woorde van 1 Johannes 1:9: "Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid."
As ons ons sondes bely – dan moet ons sekerlik weet wat belydenis is!
  • Ten eerste is belydenis sekerlik om te erken dat jy verantwoordelik is vir wat jy gedoen het. Ek weet nie hoeveel skuld ‘n mens kan pak op die slegte gene en chromosome wat jy geërf het nie, maar iewers in hierdie verkeerde optrede van jou – iewers in jou gees en wil – het jy ‘n keuse gedoen waarvoor net jy verantwoordelik is. Jy het gekies – jy het opgetree – jy is aanspreeklik vir jou dade. Dit is nie my pa or my ma of my vriende se skuld nie. En ek kan nie bely as ek nie verantwoordelikheid aanvaar vir dit wat ek God en my naaste aangedoen het nie.
  • Belydenis is ook gedeelde pyn! Wanneer jy bely, dan sê jy in werklikheid: "die leed wat ek U aangedoen het – maak my nou ook seer. Ek voel die pyn wat ek U aangedoen het." Eers wanneer jy pyn kan deel – kan jy begin om te bely. Dan alleen kan jy die genesende woorde sê: "Ek is jammer!"
  • Maar om te bely, kan ook beteken dat jy met genade en vergifnis dobbel. Want hoe weet jy dat wanneer jy jou berouvolle siel in jou hande na hom/haar uithou – en om vergifnis pleit – hy/sy nie dalk die deur in jou gesig sal toeslaan nie? Dat hy/sy nie bereid sal wees om te vergewe nie?

Maar dit kan jy met sekerheid weet, as jy voor God kom staan het met jou berouvolle siel in jou hande, dan het jy die ruimte van God se liefde binnegegaan. En binne die ruimte van sy liefde, kan jy uitpraat en alles binne in jou blootlê. Hier is ‘n plek waar niemand hom sal verlustig in rou sere nie. Jy kan die verbande en pleisters maar afhaal – want in die liefde is daar genesing. Voor God kan jy maar uitpraat! Hy weet al lankal daarvan en sal daarom nie geskok wees om dit te hoor of daaroor gaan skinder nie. En as jy dit uitgesê het, sal die vergifnis jou lewe verander, want dit is wat God in sy Woord belowe:
"Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid."
Maar dan moet ons ook goed verstaan wat vergifnis is.

  • Vergifnis is nie maar net om te vergeet nie. Vergeet is nie moeilik nie. Jy het geen genade nodig om te vergeet nie. God vergeet nie – want as Hy kon vergeet, sou dit nie nodig gewees het vir Jesus Christus om aan ‘n kruishout te sterf nie. Vergifnis is nie vergeet nie – dit is onthou – en nogtans vergewe.
  • Vergifnis is nie om gedrag te verskoon nie. "Ag, Here – U moet tog verstaan – toe ek dit en dat gedoen het, was dit die omstandighede – en U sal verstaan!" God verskoon ons nie! Nêrens lees ek dat Jesus vir die mense gesê het: "Ek verskoon jou sondes". Nee – vergifnis is ‘n wonderwerk!

Die wonder van vergifnis is om ‘n nuwe begin te maak. Vergifnis neem nie altyd die pyn weg nie! Dit ontken nie dat daar wonde is nie. Vergifnis weier net om in die pad van ‘n nuwe begin te staan. Daarom is vergifnis Jesaja 1:18:
"Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak. Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrrooi, julle sal wit word soos wol."
God is getrou en regverdig om altyd te vergewe – om saam met my weer voor te begin! Hy kan en wil dit doen – want aan die kruishout het Jesus Christus al die verdriet wat ons God aangedoen het, bymekaar gemaak en dit daar saam met God gevoel. En as woordvoerder vir alle gelowiges, het Jesus in sy pyn gesê: "Ons is jammer, God!" Daarom sal God nooit die deur in ons gesig toemaak nie. Ons kan op Hom staatmaak! Hy is getrou en regverdig!
En wanneer jy jouself voor God oopgemaak het en die geheime van jou hart uitgepraat en vergifnis ontvang het – dan is dit soveel makliker om dieselfde teenoor jou medemens te doen. Want die belydenis teenoor jou naaste is die agerkant – die keerkant van jou belydenis voor God.
"Vergewe my, asseblief!"


Kinders gebruik eerste keer Nagmaal

21 Mei was ‘n geskiedkundige dag in ons gemeente toe kinders vir die eerste keer tot die Nagmaal toegelaat is.
Van ouers is vooraf verwag om hulle kinders te begelei en te onderrig in die betekenis van die Nagmaal. Vir hierdie doel is die waardevolle en praktiese boekie Kinders en die Nagmaal, geskryf deur dr. Christo van Rensburg, aan hulle verskaf.
Wat ‘n pragtige werk is die boekie nie. Dit is geskryf vir kinders en begrippe word so verduidelik dat hulle dit sal verstaan. Kinders word dikwels na hulle ouers verwys: "Pappa en Mamma kan vir jou lees … Vra vir jou pa of ma om … Jou ma sal vir jou mooi kan wys hoe …"
Die boekie begin by die Pasga, behandel die offers, sonde, die koms van Christus, die Nagmaal en die doop as nuwe tekens van die verbond.
Aan die einde van elke hoofstuk volg ‘n aantal vrae om insig te toets. Ook volwassenes sal verryk word deur die boekie.
Voor die aanvang van die Nagmaalsplegtigheid het ds. Christie van Zyl aangekondig dat kinders wat nie gereed voel om Nagmaal te gebruik nie, dit nie hoef te doen nie.
Voor my het ‘n seun van sowat elf plegtig ‘n glasie druiwesap geneem. Dit was ‘n nuwe gebruik in die NG Kerk.


Jona die instrument in God se hande

Tydens die Pinksterreeks vanaf 5 tot 8 Junie is die geskiedenis van Jona en Nineve deur ons leraars in oënskou geneem.
Na aanleiding van 2 Petrus 3:9 is ons daarop gewys dat God nie die vervulling van sy belofte uitstel nie. Hy is geduldig omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie; Hy wil hê almal moet hulle bekeer.
Met dié doel stuur Hy Jona na Nineve. Jona wil nie gaan nie. Nineve was nie die beste plek om te besoek nie. Hy vlug liewer.
Die Here stuur dikwels sy kerk en sy mense na plekke waar ons liewer draaie om loop. Deel ons in die passie vir verlore gaande siele? God roep ons ook sodat Hy ons kan uitstuur op soek na hulle wat verlore is.
Jona vlug eintlik vir God se genade. Die Here gryp in met die storm. Eindelik beland Jona in die maag van die groot vis. Daar bid Jona en toon hy berou; hy ontdek die Here opnuut.
Die Here beveel Jona ‘n tweede maal om na Nineve te gaan en hom aan te spreek met die boodskap wat Hy Jona sal gee.
‘n Kort boodskap volg: Nog net veertig dae en Nineve word verwoes. Die kort boodskap het ‘n reuse reaksie tot gevolg wat in Jona 3 beskryf word. Die koning sê daarop: "Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie".
Is God onveranderlik? Nee! God is nie ‘n koue marmerbeeld nie. God sal nie sy oordeel oor ‘n berouvolle sondaar voltrek nie. God is net onveranderlik in die opsig dat Hy nooit verander wat betref sy genade nie.
God sien af van die ramp wat hy oor hulle wou bring. Jona murmureer daaroor.
Ons moet uitgaan en die evangelie verkondig. Dan moet ons juig oor almal wat tot bekering kom. God moet ‘n stukkie van sy hart op ons oorplant. Ons moet onsself en ander deur God se oë sien. Laat ons dankbaar wees oor geleenthede om sy woord uit te dra.


Toer deur Israel ‘n belewenis

Toerlede met die klaagmuur agter.
L.n.r.: Ds. Christie, Joey Cruywagen, René van Zyl, Isobel Estment, Tokkie Ferreira,
Alta en Johnny Jacobs, Ansa en Leon Furstenburg en Rachel van Coller

 

Joey en Isobel by argeologiese uitgrawings op die berg Masada

Ds. Christie en René dobber op die Dooie See

Ons was ‘n opgewonde groepie wat Saterdag 6 Mei op die Johannesburg Internasionale Lughawe bymekaargekom het vir ons pelgrimstog na Israel. Wat ‘n vooruitsig – ons gaan sien waar Jesus gebly en gelewe het!
Ons het in Istanbul, Turkye op ‘n aansluitvlug na Tel Aviv vertrek en ons toer het begin. Met ‘n luukse toerbus is ons vervoer na al die plekke waarvan ons in die Bybel lees: Sesarea, die tuisdorp van Pontius Pilatus, die Berg Karmel en Nasaret. In Nasaret besoek ons die Kerk van Aankondiging, Maria se put en Josef se grot. Die Kerk van Aankondiging is gebou oor die huis waar Maria gewoon het toe die Engel Gabriel die geboorte van Jesus aangekondig het.
Ons het per boot oor die See van Galilea gevaar na die Kerk van Saligsprekinge waar die Bergpredikasie gelewer is. Dit was ‘n wonderlike ondervinding om daar te staan waar Jesus die brood en vis vermeerder het en om die klip te sien waar Hy self vis gebraai het. Ons was by die Jordaanrivier, by Megiddo se bouvalle en die watertonnel.
Vandaar na Jerigo en Masada waar ons per kabelspoor na die kruin gegaan het om die bouvalle van die paleis van Herodus te sien. By die Dooie See (die laagste plek op aarde) het ‘n paar van ons in die water gedryf. Dit word gesê dat die stede Sodom en Gomorra aan die suidpunt van die Dooie See gelê het. Langs die pad sien ons die woestyn aan die een kant, groen olyfbome, kibboetse en mense op kamele.
In Jerusalem is ons deur die Ou Stad. By die Olyfberg het ons in die tuin van Getsemane vir ‘n rukkie stil geraak. Die Tuingraf was ‘n ondervinding wat ons nooit sal vergeet nie. Op die rots was geskryf – Hy is nie hier nie, Hy het opgestaan. Nagmaal is daar aan ons bedien deur ds. Christie.
Die Olfyberg lê regoor die geblokkeerde Goue Poort waardeur die koms van die Messias voorspel is. Vir hierdie rede het baie Jode die Olyfberg gekies as begraafplaas, sodat hulle, wanneer die Messias kom, van die eerstes sal wees om Hom te volg. Ons is te voet deur die Via Dolorosa (die Lydensweg). Die Via Dolorosa is die pad wat Jesus moes loop om gekruisig te word. Hierdie plaveisel is tans van die min dinge in Jerusalem wat feitlik ongeskonde gevind is. Dit lê omtrent 2 meter onder die huidige straatvlak onder die vloer van ‘n klooster.
Ons was by die Klaagmuur, allerheiligste plek vir die Jode, wat vol stukkies papier en briefies was en waar baie Jode en ander mense gestaan en bid het. Ons het die Kerk van Opstanding besoek, en ook die Dome of the Rock, naas Mekka die heiligste plek vir die Moslems. Daarna is ons na Yad Vashem waar ‘n gedenkmuseum opgerig is ter nagedagtenis aan die 6 miljoen Jode wat tydens die Tweede Wêreldoorlog vermoor is.
In Bethlehem het ons die Kerk van die Skaapwagters besoek. Dit is waar die Engel die blye boodskap van Jesus se geboorte bekend gemaak het. Israel was ‘n wonderlike geesverrykende ondervinding. Ons het baie geleer en ons was bevoorreg om hierdie toer saam met ds. Christie en René te kon doen.
Ons is terug na Istanbul waar ons op ‘n toer deur die stad geneem is en die Choraklooster, die Blou Moskee, die Hippodrome, St. Sophia-museum en die Paleis van die Ottomansultans, Topkapi besoek het. Istanbul is geleë aan beide kante van die Bosphorus, die een helfte in Asië en die ander helfte in Europa.
‘n Lekker bootvaart op die Bosphorus (Poort van die Swartsee) is geniet en toe die besoek aan die Onderdakbasaar met sy meer as 4 000 winkels. Ons het ‘n vrolike en heerlike aandete geëet in ‘n tradisionele Turkse restaurant en helaas, moes toe lughawe toe vir ons vlug terug huis toe. Dit was ‘n onvergeetlike verrykende 7 dae wat ons altyd sal bybly en sal laat terugverlang na die wêreld van die Bybel.

- Alta Jacobs


Townsview voog van Huis Bouwer

Jeannette, oom Larry, Louise Myburgh (huismoeder),
Annatjie en Nannie Beyers saam met ‘n paar inwoners van Huis Bouwer

Met ‘n kombi het oom Larry en tant Jeanette Viljoen en Nannie en Annatjie Beyers op 21 Junie na Huis Bouwer vertrek om goedere weg te bring.
In die tehuis woon daar tans 17 kinders waarvan Townsview die vooggemeente is. By ‘n tehuis is daar gedurig behoeftes waarin ons vrouediens die dringendste uit hierdie jaar se begroting kon aanvul, naamlik 17 stelle lakens en slope.
Vanuit die gemeente was daar milde skenkings van klere wat by Abraham Kriel se stoorkamer afgelaai is vanwaar dit aan die verskillende huise uitgedeel word en met groot waardering ontvang word.
Ons dra ons innige dank oor aan almal wat gegee het. Baie dankie ook aan Richard en Estelle Crafford wat steeds by Huis Bouwer besoek aflê.
Ons gemeente moet asseblief kennis neem van die winkeltjie in tweedehandse ware by Abraham Kriel. Hier word ware verkoop en die opbrengs ten bate van die tehuis aangewend. Kinder- en volwasse klere, skoene, handsakke, linneware en gordyne word dringend gevra. Net klere wat nie vir die kinders gebruik kan word nie sal verkoop word.


Ons boekwinkel gevestig

V.l.n.r.: René van Zyl, Chrisna de Ru, Magda le Roux, Miems de Wet en Alta Nolan

As u nog nie die Oratorium besoek het nie, ken u nog net ‘n gedeelte van ons kerkgebou. Stap gerus af, gaan by die onderste deur in en ontdek die kompleks vertrekke daar.
Maak seker dat u ons netjies versorgde boekwinkel besoek. Tydens die beplanningsessie is die behoefte aan ‘n boekwinkel uitgespreek waar boeke en ander artikels uitgestal kan word. ‘n Vertrek wat reeds vir dié doel bestem was, is betrek.
Die vyf dames wat die opset beplan en ingerig het, verskyn op die foto hierby. Hulle sal Sondae beurtelings daar diens doen vir ‘n uur na die erediens asook met spesiale geleenthede om belangstellendes te ontvang.
Boeke word van Cum-boeke op kolportasiebasis verkry. Christo en Miems de Wet se onderneming verskaf geskenke, geskenkpapier en kaartjies. ‘n Verskeidenheid geskenkies van Christian Art is ook beskikbaar.
Uitleenfasiliteite word ook voorsien. Dit word deur Alta Nolan, ‘n gekwalifiseerde bibliotekaresse, hanteer. Skenkings van geestelike literatuur deur die gemeente word aangevra. Die plan is ook om later CD’s te koop aan te bied indien daar ‘n behoefte daarvoor is.

Maak gerus ‘n draai!


Christen en die snelheidsgrens

Betaam dit ‘n Christen om die snelheidsgrens te oorskry? Romeine 13 en Titus 3 sê tog dat mense hulle aan die owerheid en gesag moet onderwerp.
Dié gedagte het meermale by my opgekom in Comarostraat op pad na en van die Kerk.
Het die Bruinman dit nie mooi opgesom waar hy in die straat voor die Hervormde Kerk op Rustenburg gestaan het nie? Terwyl die motors opvallend vinnig die kerkterrein verlaat het, sommige wiele wippend oor die randsteen, het hy veelseggend opgemerk: "Hulle kom nou net by die kerk uit en kyk hoe ry hulle!"


Die volgende uitgawe van Die Oproep verskyn DV begin November. Lewer u bydraes asseblief nie later nie as 15 Oktober aan Jan Pretorius, tel. 682-1609.