Gemeenteblad van die NG Gemeente Townsview - APRIL 2002

Stillekrag Stal Talent Uit

By die Intergroepdag op 6 Maart in Alberton het vier van ons gemeente se Stillekrag-lede puik presteer. Dié dag bied ‘n geleentheid aan senior lidmate van die Suidstreek om handwerk, naaldwerk en stokperdjies vir beoordeling uit te stal.
‘n Besoek aan die uitstalling laat ‘n mens verbaas oor die vaardighede waartoe die "ou hande" nog in staat is. Die Townsview–dames se foto’s verskyn hierby.

  • Jan Pretorius

Ena Adriaanse
Twee spesiale pryse, Een 1ste prys, Een 2de prys

Tannie Roos
Een spesiale prys, Een 1ste prys 

Enid Read 
Een 1ste prys, Een 2de prys

Alet Steyn
Drie 2de pryse, Een 3de prys

Hoe om jou Lig in Londen vir Jesus te Laat Skyn!

In Suid-Afrika het dit heel eenvoudig geklink om jou lig vir Jesus te laat skyn in ‘n vreemde land. Maar na ‘n week in Londen het ek gewonder of enige iemand hulle liggie daar suksesvol kan laat skyn as die son nie eens daar skyn nie. Die mense in Engeland is anders as ons opgevoed en my reg en verkeerd is nie altyd hulle reg en verkeerd nie. ‘n Voorbeeld is seks voor die huwelik. Hulle glo dat as jy nog nie voor 18 jou maagdelikheid verloor het nie, dan is jy ‘n "late bloomer". By die kantoor waar ek werk, het hulle die een man gevra wanneer hy gaan trou en sy antwoord was dat hy en sy meisie nog nie saam gebly het nie, hulle kan dus nog nie eens aan trou begin dink nie. Een van die meisies is 21 jaar oud en het ‘n klein seuntjie. Sy bly op die oomblik by die seuntjie se pa, want sy het nie genoeg geld om op haar eie te bly nie, maar sy is nie lief vir hom nie. ‘n Ander meisie glo nie aan die huwelik nie en sê sy sal eendag kinders hê, maar sal nooit trou nie, want dit is nie meer nodig nie.
Die meeste van die voorbeelde wat ek genoem het, kom ook in Suid-Afrika voor en is niks nuuts nie. Die verskil is hier is dit nie die norm nie en dit word ook nie deur almal aanvaar nie, al gebeur dit. In Engeland is dit hoe die mense lewe en is dit die norm.

Tog het elke donker wolk ‘n silwer randjie. In Engeland is die silwer randjie die Suid-Afrikaanse Gemeente in Kings Kross. Die een ou in ons huis het dit so goed gesê: By die huis moes sy ma hom dwing, martel, afpers en met hom baklei om op Sondae kerk toe te gaan, want hy het geen begeerte gehad om te gaan nie. Hier in Engeland wil hy graag kerk toe gaan. Ja, julle het reg gehoor, ons wil gaan. Op Sondae is dit nie eens ‘n kwessie of ons gaan of nie. Al waaroor ons besluit, is hoe laat, want almal weet ons mis dit vir niks. Die kerk begin gewoonlik met heerlike lofprysing en daarna word die kollekte opgeneem. Die dominee bring sy boodskap en na die diens is daar koffie en tee met koekies. Die tee en koekies is nie die rede waarom ons gaan nie. Dit is die absolute wonderlike boodskap en samekoms van mede-Christene wat ons soontoe trek. Die Gemeente lewer uitstekende dienste vir jongmense ver van die huis af. Hulle het selgroepe en sendingroepe. Hulle het ook kampe en gereelde gassprekers. Verlede week was ds. Stephan Joubert die gasspreker.
Nadat jy by die kerk was, weet jy dat in ‘n donker plek soos Engeland waar die son nie eens skyn nie, die Suid-Afrikaanse Gemeente dit tog regkry om hulle lig vir Jesus te laat skyn.

  • Linda Nel uit Londen

Karen Nel voor die Kerk in Londen

Kerkbybel: Maak dit jou kosbaarste besitting. Liedboek, Bybel, Formuliere en Belydensskrifte, alles-in-een. Duursaam, Luuks, Gerieflike formaat, Kostebesparing. Vir ‘n leeftyd.

NG Kerk 350. Die feesuitgawe met die 350ste herdenking van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Meer as 100 teoloë, historici en ander kundiges het saamgespan om die kerk oor die eeue te laat lewe. Vir die eerste keer is daar soveel feite, geskiedenis en verhale oor die kerk in een bundel saamgevat.



Dopeling

Ons kindjie is gedoop:

  • Elizma van Pieter en Elma Schöltz van Bassonia.

  •  Nike van Ferdi en Emmie de Lange van Alberton.

In Memoriam
  • Mev. Willemse van Turffonteinstraat 4, Kenilworth.
  • Tannie Trosee van Meyerton.
  • Tannie Burger, Prins Albertstraat 118, Linmeyer.
  • Oom Tielman Bronkhorst, Renaissance-Oord.
  • Mnr. H Engelbrecht, Jakkalsbessielaan 26, Bassonia.
  •  

 Ons innige meegevoel word betuig met hulle familie.

  Onthou om te Onthou

  • 9 Mei Hemelvaartdiens – 19:00

  • 12 Mei Vrouediensbyeenkoms met Rina Mulder as gasspreekster

  • 13 – 17 Mei Pinksterbiduur – 19:00 (Boeke sal beskikbaar wees.)

  • 1 Junie Basaar

  • 7 & 8 Junie Ringsvergadering - Townsview Gemeente is Gasheer

  • 9 Junie Ringskonferensie

  • 12 Junie Stillekrag-Interdag – Mondeor, 09:30

  • 17 Julie Stillekrag-byeenkoms – 09:30


Nuwe Intrekkers

Baie welkom aan die volgende nuwe lidmate:

  • Susan van Vuuren, Hantambergweg 33, Glenvista.

  • Suehet Lombaard, Wemmerpanweg 12, Regents Park.

  • Pieter en Beatrix Rossouw, Taxtedstraat 16, Mulbarton.

  • B D Hanekom, Andora Crescent, Tulisa Park.Audrey Nicolns, St Michaels Place 11, Townsview.

  • Andries Visagie, Mainstraat, Townsview.


Innie Skylte Vannie Jirre …… ‘n Ware Belewenis!

"KATTESTROFE" IN DIE KERK

Ons "Nuutbegin"-omgeegroep het vroeg in die jaar na Randall Wicomb se "Innie Skylte vannie Jirre" gaan kyk. Ek was totaal meegevoer.
Op die groot videoskerms is ‘n woestynlandskap geprojekteer, kompleet met sandduine en gemsbokke wat rustig met hulle lang, statige horings in die woestyn loop en wei.
Ek hoor toe ‘n vriendin langs my fluister: "Laat dit jou nie na Namibië verlang nie?" In daardie atmosfeer het Randall begin sing, in ‘n geknielde posisie: Die aarde issie Jirre s’n (Psalm 24).
Die woorde is ook groot geprojekteer teen die woestynagtergrond. ‘n Kitaarspeler en ‘n jong damestem het bygekom om meer volume te gee. Die sangeres het ook die bruid se rol gesing in die "Hooglied van Salomo". Die humor het die ernstigheid afgewissel met "Die Spreuke van Salomo" wat onder andere lui: "...‘n twistelike vrou is slegter asse pomp wat lek" en "...dan het ek ‘n raaslike parafienblik gestaat raak"(1 Kor 13).
Daar het ook later ‘n baie jong danseressie ingekom wat in die agtergrond danspassies saam met die rustige musiek uitgevoer het. Toe Randall die deel uit Habakuk 3 sing, het sy rats, gebukkend oor die vloerplanke beweeg, kompleet of die grond haar kaal voete brand, terwyl die gemsbokke in die woestynsand rustig voortbeweeg. Die koorgedeelte het telkens herhaal: "...hy gjee my voete vanne gemsbok die Kalari lê nou oop!".
ie volgende oggend het ek Habakuk 3:19 in Die NAV nageslaan. Dit lui: "Hy maak my voete soos die van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop".
Dit was voorwaar ‘n wonderlike belewenis. Ek dink in hierdie verwarde tye waarin ons lewe, moet ons die Here dank dat hy ook deur kunstenaars soos prof. Hans du Plessis en Randall Wicomb in ‘n ander idioom, so tipies Afrika, met ons as Afrikaanssprekendes praat!.

- Mineke du Plooy

Menige orrelis kan seker vertel of skryf van insidente tydens optredes in die kerk. As jong orrelis, so pas afstudeer, het ek my eerste orrelpos by die destydse NG Kerk in 8ste Laan, Mayfair, Johannesburg aanvaar. Ds. Sakkie van den Heever was destyds leraar van die gemeente gewees. Die kerkgebou is later aan die Blinde Werkers-Organisasie verkoop wat deesdae hulle braille-drukwerk daar doen. Die kerkgebou was baie interessant in dié opsig dat die kerksaal bo-op die kerkgebou was. Die orrel was in die middel van die kerk. Dus kon die gemeente ‘n goeie ogie op die orrelis se doen en late hou.
Die kerk was die spesifieke Sondag gepak gewees vir die Nagmaaldiens. Toe ek by die kerk arriveer, wag oom Croucamp, die koster, vir my. Sy woorde onthou ek nog so goed: "Ou Gawie, hier is vanoggend ‘n kat in die kerk en ek kan hom nêrens kry nie".
Nadat ek voor die orrel plaasgeneem het, die orrel verstel het en my boeke voor my reg geskuif het om te begin speel, skakel ek die orrel aan. ‘n Oorverdowende gil weergalm deur die kerk! Die volgende oomblik begin die orrel van self te speel toe kat se kind op die note, wat aan die binnekant van die orrel is, begin rondhardloop.
Om nie eens te praat van die aroma nie!!

 Teen dié tyd was die kinders al histeries aan die lag in die kerk! Op hierdie stadium het ek al onder by die voetnote rondgekruip om kietsie kat te roep - die gemeente al laggende om my!! Na heelwat probeerslae om ons katvriend uit die orrel te lok, is die hulp van die Kerkraad ingeroep.
Die Nagmaaldiens was toe al reeds tien minute laat. Ds. van den Heever met sy toga aan, onthou ek nog so goed, skroewedraaier in die hand, is met die bystand van die konvooi van kerksraadslede om die orrel ontplooi en toe word daar net losgedraai! Vreesbevange sit arme kietsie, grys van kleur, geskok in die hoek van die orrel naby aan die plek waar hy ingeklim het by die pedale. Gou was oom Croucamp, met sy bekende groot hande, by om ons katvriend te verwyder.
Die diens het twintig minute laat begin en ek het tot en met sy dood nooit by oom Croucamp gehoor wat van die kat geword het nie. Vir lank daarna moes besoekende gemeentelede seker gedink het dat dit ‘n regte laventelhaan is wat orrel speel, as gevolg van al die lekkerruikmiddels wat van die orrel se kant gekom het!

  • Gawie Stoltz

Ons Orrelis Verjaar

Gawie is die oggend van sy 60ste verjaarsdag deur koorlede, vir wie dit moontlik was, verras. Wat ‘n voorreg vir Ena, Lydia en Kobie om saam met Gawie in die vreugde van dié besondere dag te kon deel.

TURN THE TIDE 1 - 5 MEI 2002

Die verwagtinge en gebede vir Turn The Tide is besig om ‘n klimaks te bereik. Met net ‘n paar dae oor voordat hierdie ingrypende geleentheid in die "Dome" in Northgate aangebied word, word groot seën deur die Here op hierdie gebeurtenis beleef. Teen 18 April het daar reeds 15 000 mense vir die verskillende kursusse geregistreer. Daar word verwag dat net soveel in die laaste week sal registreer. Die hoofkurssuse wat aangebied word, is: "The Prayer of Jabez", "Vision of the Leader" en "Biblical Portrait of Marriage". Vir die tieners is daar Saterdagaand ‘n jeugfees – meer as 5 000 tieners het reeds kaartjies gekoop! Kaartjies vir die geleenthede is te koop by ds. Dirk Lourens, by WorldTeach, by CUM-boekwinkels, of by Computicket. Meer inligting is beskikbaar op die web by www.turnthetide.co.za.

Die "Nuwe Hervorming" en die opstanding.

- Ds. Christo van Rensburg

Die sogenaamde "nuwe Hervorming", volgens Die Beeld van 28 Maart 2002, het kortliks die volgende inhoud:
"God moet uit. Ook die skepping, die erfsonde, die maagdelike geboorte, al die wonderwerke, die bose magte, die betekenis van die kruis, die opstanding, die wederkoms van Christus, gebed en algemene etiese norme."

Ek het dit hierdie keer oor die Opstanding.
Nie soseer die opstanding van Jesus Christus uit die dood nie, maar die opstanding van die vlees - die opstanding van die liggaam van die gelowiges. Onnodig om te noem dat, as Jesus nie die dood oorwin het nie, daar geen opstanding van die vlees sou wees nie (lees 1 Korintiërs 15). Maar Jesus het die dood oorwin en Sy opstanding is my en jou waarborg dat ook ons uit die dood sal opstaan. Daarom staan dit ook in die Twaalf Artikels - ons geloofsbelydenis van elke Sondag.
Die Twaalf Artikels kan gesien word as ‘n kort samevatting van al die belangrikste dinge waarin die kerk glo. Natuurlik is daar talle ander belangrike dinge waarin ons glo, maar hierdie 12 geloofswaarhede vorm die kern van die dinge wat ons glo en bely.
Ons glo in God die Vader wat die skepper en onderhouer van hemel en aarde is. Ons glo in Jesus Christus wat gekruisig, gesterf, begrawe en op die derde dag uit die dood opgestaan het. Ons glo in die Heilige Gees en die vergewing van die sondes. Ons glo in die ewige lewe en die opstanding van die vlees.
Daarom dat die Heidelbergse Kategismus (57) kan vra: "Watter troos gee die opstanding van die vlees aan jou?" Die antwoord op hierdie vraag is baie belangrik. "Dat nie alleen my siel ná hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie, maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word."
Die Nederlandse Geloofsbelydenis stel dit so: "Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, hulle siele saamgevoeg en verenig, elkeen met sy eie liggaam waarin hy geleef het."
Daar was en is maar steeds mense wat die liggaam van die mens as iets nietigs beskou - ‘n dop, ‘n omhulsel, ‘n las. Dit was Franciskus van Assisi wat van die liggaam gepraat het as "broer esel". Daarmee wou hy te kenne gee dat die liggaam maar net daar is om die siel te vervoer - verder het dit geen betekenis of waarde nie.
Maar die boodskap van die Bybel is anders. Heel in die begin het God die mens uit die stof van die aarde gemaak. Treffend stel prof. Herman Bavink dit: "En God het nie gesê: Laat ons siele maak nie. Nee, Hy het gesê: Laat ons mense maak na ons beeld en ons gelykenis." En die mens is uit die stof van die aarde gemaak en in hom is ‘n lewende siel geblaas. Dit was dan ook hierdie mens met sy lewende siel wat God ongehoorsaam was en in die sonde geval het. Om die mens nou van sy sonde te verlos, moes Christus as mens gebore word, ly en aan ‘n kruishout sterf, begrawe word en op die derde dag uit die dood uit opstaan en die mag van die dood vernietig. Dis geen wonder dat die Heidelbergse Kategismus dit in die heel eerste vraag kan uitjubel: "Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe... , aan my verlosser Jesus Christus behoort. Hy het met Sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal..." Ja, ook my liggaam is vrygekoop van die straf van die sonde.
Dit is die duidelike boodskap van die Bybel - om net enkele teksgedeeltes te noem:

Johannes 6:39
: "En dit is die wil van Hom wat my gestuur het: dat ek van almal wat Hy my gee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan."
Johannes 5:28-29
: "Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ‘n tyd wanneer almal wat in die grafte is, Sy stem sal hoor en sal uitgaan. Die wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en die wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word."
Romeine 8:11
: "Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur Sy Gees wat in julle woon."
Hoe dit presies sal gebeur, vertel 1 Tessalonisense 4:16-18 vir ons: "Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees. Troos mekaar dan met hierdie woorde."
Die troos lê juis daarin dat die band wat my en my dierbares hier op aarde bind, miskien tydelik deur die dood verbreek word, maar dat daar tog in die nuwe hemel en op die nuwe aarde, ‘n heerlike liggaamlike weersiens van mekaar sal wees. Natuurlik sê die Bybel dat die aardse verhoudinge anders sal wees en Matteus 22:30 dat die mense nie meer sal trou nie. Prof. Grosheide stel dit so: "Die liggaam soos ons dit ken en geken het, is swak, verderflik en sterflik - maar dan sal dit kragtig, onsterflik en onverderflik wees. Kreupeles, blindes, verminktes, sieklikes, onaansienlikes en deur die sonde ontsierdes sal nie meer onder hulle aardse tekortkominge gebuk gaan nie." Dan, sê Openbaring 21, sal ons nuwe mense wees - want God het alles nuut gemaak.
Hoe die opstandingsliggaam presies gaan lyk, is vir God alleen te bepaal. Paulus beskrywe dit in 1 Korintiërs 15:53-55: "Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike." En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: "Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal." "Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?"
Kan jy jou dit vir ‘n oomblik indink: Geen opstanding uit die dood - net ‘n ewige nag van niks! Geen weersiens van dierbares - geen ewige lewe - geen nuwe hemel en nuwe aarde nie!
Wat is dan die sin van dit alles?
Niks!

1 Korintiërs 15:20
: "Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het." Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.

  • Dr van Rensburg

Date: 4 May Time: 17h00 - 21h00
Pre-program entertainment outside the Dome from 15h00 - 17h00.

R25 per person. 10 or more tickets, R20 per person. 20 or more tickets, R15 per person.

Get your Ticket and a Prayer of Jabez book for Teens for only R40 (only 5000 combos available).
Featuring:
MIC, Geoff Moore (USA), Margaret Mostage, Réana, YFC Drama Team, Joyful Noise Ministries, Vision Extreme, Keenan Smith and guest speaker, Bruce Wilkinson.
Keenan Smith is one of America's top motivational speakers. He is a world class power lifter who travels the world using his talents and time to challenge young people to "turn the tide" in their own lives. Used powerfully by God, Keenan is an ordained minister whose size and strength are matched by his total commitment to Christ and his deep love and compassion for young people.

  • Ds. Dirk Lourens

Dankie, Here

Ons dank die Here vir die groei en lewensverandering wat plaasvind as gevolg van die bediening van WorldTeach in Suidelike Afrika. In die suide van Afrika is daar teen einde 2001, 1 887 WorldTeachers opgelei. Die WorldTeachers het daarop gereageer deur 254 845 mense te bereik met 3 733 kursusse. Wêreldwyd is die doelgetalle oortref. Die doel was 50 lande, 12 000 WorldTeachers en 700 000 kursusgangers. Die beweging is deur God geseën deurdat daar reeds 53 lande bereik is met 17 000 opgeleide WorldTeachers en 1 060 000 mense het die kursusse bygewoon!
Daar is verder 466 050 mense in 2001 in Suidelike Afrika blootgestel aan "Walk Thru The Bible"-videokursusse sonder die bemiddeling van ‘n WorldTeacher. 10 000 Aids-videokursusse is versprei, 2 086 000 mense is blootgestel aan WorldTeach-kursusse deur televisie en nog 2 464 000 deur die radio. 300 000 van dr. Bruce Wilkinson se "Breakthrough Series"-boeke is in die streek verkoop.

Wêreldwyd is 8 000 000 van dr. Bruce se boekie "The Prayer of Jabez" en 3 000 000 "Secrets of the Vine" verkoop.
‘n Verdere deurbraak is die vertoning van ‘n WorldTeach-kursus "7 Stages of Spiritual Growth" wat vanaf Sondag, 14 April 2002, om 13:30 op TV2 vertoon word!
Indien u meer inligting omtrent WorldTeach, die kursusmateriaal en boeke verlang kan ds. Dirk Lourens by 082-421-3216 geskakel word. Dirk is sedert die ontstaan van WorldTeach in 1999 ‘n WorldTeacher en is sedert 2002 ‘n streeksverteenwoordiger van WorldTeach SA. Tans is hy verantwoordelik vir die opleiding en bediening aan WorldTeachers in die suid-oostelike Gauteng.

Stillekrag doen Lapverf

Die Stillekrag-lede is ‘n baie bedrywige groep. Op ‘n onlangse byeenkoms het Rachelle Spies lapverf demonstreer. Die dames het dit baie geniet en die taak het hulle volle aandag in beslag geneem.
Op die foto verskyn Lydia Campher, Leen Scheffer en Jeanette Viljoen met Rachelle Spies agter.



KOMMISSIE VIR GEMEENTESAMESYN

Ons hou Basaar op 1 Junie 2002.

Weens ‘n aantal redes is daar besluit om die datum van die basaar vanaf 1 Mei te verskuif na 1 Junie.
Hierdie jaar word die basaar beplan vir Saterdag, 1 Junie, te Townsview Primary School, net om die draai van die kerk af. Gelukkig is persone soos Fanie Vlok en Henning van Tonder aan die stuur van sake en word ‘n heel grootse geleentheid beplan. Die tema van hierdie jaar se basaar is van ‘n internasionale aard met 4 kontinente wat verteenwoordig word, naamlik Amerika, Afrika, Asië en Europa.
‘n Aantal ander vertonings en aktiwiteite word vir die dag gereël, onder andere ‘n meganiese bul wat gery kan word, asook ‘n vertoning deur Amerikaanse Pit Bull-honde wat hulle vaardighede ten toon sal stel.
Ek moet ook noem dat die huidige kampioenskut, Francois Gersbach, sekerlik gereed sal staan om sy titel met ywer te verdedig.
Baie dankie dan ook aan al die persone wat tot dusver behulpsaam was met die reëlings en daar word versoek dat almal met ywer ‘n bydrae sal lewer om ‘n reuse sukses te maak van 1 Junie.
Die Kommissie vir Gemeentesamesyn beplan ook verder vir hierdie jaar ‘n aantal ander interessante byeenkomste ter versterking van fondse, sowel as sosiale bymekaarkomgeleenthede.
Gelukkig is daar baie dames wat verbeeldingryk genoeg is om lekker samesyne te reël en so is daar onlangs vir die dames ‘n oggendtee gehou wat ‘n reuse sukses was.
Byeenkomste wat beplan word, behels onder andere:

  • Manne-ontbyt met spreker.
  • Wynveiling waar kenners op hierdie gebied verteenwoordig sal word.
  • Gholfdag.
  • Basaar.

Persone wat enige bydrae wil lewer, moet asseblief vir Edzard Verseput skakel by 011-682-2723.
Nevellin van Niekerk het die verantwoordelikheid op haar geneem om ons voorportaal elke Sondag mooi te versier. Baie dankie!!


Veranderde Bybelskoolprogram 2002

Kursus 1
Naam:
Ons stap deur die Pentateug/Walk Thru the Pentateuch.
Word tans deur 25 lidmate, jonk en oud, bygewoon.

Kursus 2
Naam:
Die Gebed van Jabez/The Prayer of Jabez.
Registrasie: Sondag, 19 Mei, net na die erediens.
Geleenthede: 4 Sondae.
Koste: R60 per persoon (met 1 werkboek) of R20 sonder ‘n werkboek.

Is jy gereed om die oorvloedige seën van die Here te beleef? Dr. Bruce breek 1 Kronieke 4:10 oop sodat ons na die voorbeeld van Jabez die merkwaardige krag van gebed kan leer ken en hoe dit God se guns, krag en beskerming vir ons ‘oopmaak’. Wanneer jy hierdie waarhede begin toepas, breek jy self deur na ‘n opwindende Christelike lewe soos wat God dit vir jou bedoel het.

Kursus 3
Naam:
Die 7 Stappe van Geestelike Groei Deel 1/The 7 Stages of Spiritual Growth Part 1.
Registrasie: Sondag, 21 Julie, net na die erediens.
Geleenthede: 11 Sondae (Stappe 1 - 3).
Koste: R60 per persoon (met 1 werkboek) of R20 sonder ‘n werkboek.

In hierdie revolusionêre nuwe kursus verduidelik dr. Bruce Wilkenson die 7 stappe van die Christen se geestelike reis. Ontdek daarby dat die 7 stappe voorspelbaar en dieselfde is vir alle Christene. Die kursus help jou verstaan in watter stap jou geestelike lewe tans is en wat jy moet doen om na die volgende stap in jou verhouding met die Here oor te kan gaan!

Die Kerk se Afkondingsblaadjie

Die drukkersduiwel is ‘n gevaarlike duiwel. Net één verkeerde woordjie, woordplasing of selfs net ‘n leesteken kan vir groot chaos en pret sorg…
Vir alle ma’s wat klein kindertjies het en dit nie weet nie – ons het ‘n moederskamer net langs die kerk.
Weight Watchers het weer vanaand hulle byeenkoms in die saal. Gebruik asseblief die dubbeldeure van die syingang.
Volgende week word die kerkraadsvergadering Woensdag om sewe-uur gehou, en die predikant van Sondag is in die konsistorie opgeplak.
Basaarafkondiging: Almal welkom! Kom gerus as jy niks aan het nie en kom deel in die pret.
Eerskomende Sondag sal daar ‘n spesiale kooruitvoering wees, waarna die kerk gesluit sal wees vir herstelwerk.
‘n Nuwe luidsprekersisteem is in die kerk geïnstalleer
. Dit is geskenk deur een van ons gemeentelede ter herinnering aan sy vrou…

- Uittreksel uit ‘n Fees van Vrolikheid van Nina Smit


Russel-Sangers Sing vir Seniors

‘n Groot groep uitgelate seniors uit die sewe ringsgemeentes het die saamtrek op 21 Februarie bygewoon – geen sprake van ‘n gedempte, swaarmoedige stemming nie.
Inteendeel, die saal is gevul met die dreun van stemme soos bekendes opgewonde gegroet en gesels het. ‘n Vrolike lag het kort-kort opgeklink. Daar was oomblikke van blye weersiens van lidmate wat vroeër in dieselfde gemeentes was en gretige vertellings van wat intussen gebeur het. ‘n Mens is getref deur die bruisende lewenslus van ons ouer lidmate.
Op die program was die Russel-sangers, ‘n groep aan die meeste van ons onbekend, maar na die program bemind. Die groep is 30 jaar gelede gestig deur Mavis Russel. Die lede is hoofsaaklik dames wat nie werk nie, dus meestal ouer dames, maar ook ‘n paar jonges.
Hulle oefen een keer per week in Norwood. Optredes is beperk tot voormiddae en tot Johannesburg.
Die uitvoering het bestaan uit groepsang onder leiding van Margaret Ballington, afgewissel met solo’s. Die items het groot byval gevind, want dit is gekies uit musikale blyspele vanaf vroeër jare.
Die onmisbare slotgedeelte van die byeenkoms was….. heerlike verversings!

  • Jan Pretorius

Die volgende uitgawe van Die Oproep verskyn DV 1 Augustus 2002. Die sluitingsdatum vir skriftelike bydraes is 15 Julie 2002. U kan Kleinkie skakel by 011-435-8274 of e-pos: helpa@netactive.co.za