BYBELLEES

9 – 14 November 2009

Oorsig: Profete (Jesaja)

 

 

DAG 1:  Hand 17:22-25

Dink na: Die God wat ons aanbid is die enigste Here, daar is niemand soos Hy nie.  Ander gode word deur mense gemaak of is uitgedink deur mense en word dan in tempels gehuisves.  Ons God, die God van die Bybel, is veels te groot(s) daarvoor.

Gebed: Here, God van hemel en aarde, dankie dat ons U ken uit die Bybel.  Dankie, dat U nie so klein is dat u in ’n mensgemaakte plek kan inpas nie.  Ons aanbid U as ons enigste Here.

DAG 2:  Lees Jes.6:1-4

Dink na: Hoe ontsagwekkend is die Here nie!  Serafs (engele) dien Hom en as hulle van Sy heiligheid sing, rammel die deure in die tempel in hul kosyne.  Ontsagwekkend.  God is nie ons speelmaat nie.

Gebed: Here, dankie dat ons nie vir U hoef bang te wees nie, al is U so ontsagwekkend groot.  Dis so goed om te weet dat ons God so groot en sterk en magtig is!

DAG 3:  Lees Jes. 6:5-8

Dink na: Wat is die gepaste reaksie van ’n mens as hy/sy in die teenwoordigheid van so ’n ontsagwekkende koning verskyn?  Jy besef hoe onwaardig en klein jy is voor so ’n ontsagwekkende God.  Daarom sę jy dat jy nie waardig is om voor Hom te verskyn nie.  Dis wat ons Sondag in die erediens doen.  Nadat die Here ons gegroet het, bely ons dat ons sondig is, nie waardig om voor Hom te verskyn nie en bely ons ons sonde met die wete dat ons vergewe word, want God is ook genadig.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ons voor U mag verskyn en met U mag praat, al is ons sondaars en U is so groot en heilig.  Dankie, dat U ook genadig is en ons nie voor u wegklap met die agterkant van U hand nie.

DAG 4:  Lees Jes. 6:9-13

Dink na: So lank praat die Here al met sy kinders, maar hulle wil nie luister nie.  Hulle gaan net aan om te doen wat hulle wil.  Nou is dit tyd om iets te doen om hulle te laat hoor.  Gelukkig sal nie almal verwoes word nie – ’n deel (soos ’n boom wat afgesaag word en net die stomp in die grond oorbly) sal oorbly. 

Gebed: Here, dankie dat U ons nooit totaal uitwis oor ons sonde nie.  Jesus, dankie dat U – in ons plek - aan die kruis uitgewis is sodat ons kan lewe.

DAG 5:  Lees Jes. 11:1-5 & Matt. 1:5-6

Dink na: In Jes. 6:8 het ons gelees van die stomp wat sal oorbly.  Nou lees ons van ’n takkie wat sal groei uit die stomp van Isai.  Dit beteken dat uit die nageslag van Isai ’n nuwe koning gaan kom wat gehoorsaam sal wees aan God.  Isai was Dawid se pa en uit Dawid se nageslag is Jesus gebore – so het ons gelees in Matt. 1. 

Gebed: Here Jesus, dankie dat U die koning van my lewe is vir ewig en dat U ’n goeie koning is wat ons nooit in die steek laat of onregverdig optree nie.

1A_Panel