|
|
|
NG
Gemeente Townsview |
|
|
|
Met
die viering van kersfees word die kerklike jaar geopen. Kersfees is 'n
feestyd. Dit is dus nie tot een of twee dae beperk nie, maar is 'n siklus,
'n kring van dae. Die tyd van die voorbereiding heet Adventstyd en
die nabetragting, Epifanie of verskyningstyd. ADVENT Advent
kom van 'n Latynse woord adventus wat koms of
aankoms beteken. In die ou
tyd was dit gebruik om die aankoms van 'n koning of ander vername figuur
mee aan te dui. So-'n besoek het die aandag van die mense en baie
voorbereiding geverg. Dit was gewoonlik 'n tyd van opwinding en afwagting. Die kerk het die woord adventus toegepas op die koms van die
Koning, Jesus Christus. Die mense word dus daarmee opgeroep om hulle vir
hierdie koms voor te berei. Dit het 'n tyd van inkeer en verlangende
uitsien geword ; 'n tyd van blydskap en erns. Die
oorsprong van Adventstyd kan teruggevoer word na min of meer die vyfde eeu
en wel in Spanje en Frankryk. Soos voor Paasfees, was daar 'n behoefte tot
geestelike diepte en voorbereiding. By Advent is die algemene gees egter
'n gees van blydskap en opwinding in teenstelling met die medelye en
hartseer van Pase. Tydens
die jare 1073 en 1085 nC het Gregoius VII die getal adventsondae op vier
vasgestel. Die
boodskap van Advent lê klem op die vleeswording van die Woord in die
persoon en koms van Jesus Christus. Die Here het gekom en Hy kom gedurig.
Hy sal ook weer kom. DIE OORSPRONG VAN KERSFEES Aanvanklik
het die vroeë Christene net een fees naas Sondag geken, naamlik Paasfees.
Dit is dan ook net die fees genoem. Keiser
Konstantyn die Grote het in die besonder belang gestel in die plekke wat
in die lewe van Jesus 'n rol gespeel het. Hy het gereël dat daar
kerkgeboue oor al hierdie 'heilige plekke' gebou is sodat die gelowige
pelgrims aanbiddingsgeriewe kan hê by al die plekke waar daar
tydens Jesus se lewe sekere dinge plaasgevind het. Dit sou sy geboorteplek,
plekke waar Hy gely en gesterwe het en vanwaar Hy opgevaar het, insluit. In 326
nC is begin gemaak met die bou van die basiliek in Betlehem bo die grot
wat aangewys is as die mees waarskynlike geboorteplek van Jesus. In die
18e eeu is 'n silwerster oor die vloer daarvan aangebring met die volgende
Latynse inskripsie : Hier is Jesus Christus uit die maagd Maria gebore. Intussen
is daar baie berekenings gemaak om die datum van Jesus se geboorte vas te
stel, maar sonder sukses. Kersfees het ook nie soos paasfees en pinkster
'n teenhanger in die Ou Testament nie wat die bepaling van 'n datum nog
moeiliker maak. In die ou tyd was mense se sterwensdae ook meer belangrik
as hul geboortedae en daarom is daar meer aandag aan Jesus se sterfdag en
opstandingsdag gegee as aan sy geboortedag. In die Bybel sowel as ander ou
geskrifte is daar ook geen aanduiding van wanneer hierdie belangrike
gebeurtenis plaasgevind het nie. Eers
in die vierde eeu het die kerk daartoe oorgegaan om 'n dag af te sonder as
'n feesdag. Verskillende
datums is in berekening gebring waarvan slegs twee genoem word : die Ooste
het 6 Januarie en die Weste 25 Desember as dag van die epifanie (verskyning)
aanvaar. Wat
die jaartal betref, het geleerdes uit sekere skrifgedeeltes probeer
vasstel wanneer die geboorte min of meer geskied het. Matteus
sê dat Jesus gebore is in die dae van koning Herodes (2:1). Lukas meld
dat die bevel tot inskrywing uitgegaan het van keiser Augustus in die tyd
toe Sirenius goewerneur van Sirië was. Verder word die vyftiende jaar van
keiser Tiberius en die name van ander vername persone in herinnering
gebring. (Luk 2:1,2 ; 3:1,2) En Jesus was 30 jaar oud toe Hy begin het om
die mense te leer. Al
hierdie Bybel-gegewens kan met mekaar in verband gebring word sonder om by
'n sekere dag en datum van Jesus se geboorte uit te kom. Veel
nader aan die waarskynlike, is die veronderstelling dat ons kersviering 'n
heidense oorsprong het wat van die Mithras-godsdiens afkomstig is. Daar
was bepaalde ooreenkomste tussen die Christelike geloof en hierdie
godsdiens : beide het die doop, 'n maaltyd (nagmaal) en die viering van 'n
rusdag gehad, terwyl Mithras op 25 Desember gebore is. Christus en Mithras
is beide gehuldig as die lig van die wêreld en laasgenoemde se grot is
vergelyk met die grot van die geboorte in Betlehem. Daar
was natuurlik ook radikale verskille : vroue is nie in Mithras opgeneem
nie ; Mithraisme is op mitologiese basis gefundeer en die Christendom op
historiese basis. Konstantyn
die Grote, wat die Christendom aanvaar het en dit in sy ryk gepromoveer
het, het die groot verskil vir die voortbestaan van die christendom en die
verdwyning van die Mithras gemaak. Teen
hierdie agtergrond moet ons die besluit van die kerk van Rome in 330 nC
verstaan, om teenoor die heidense winterfees en geboorte van Mithras op 25
Desember die fees van die herdenking van Christus se geboorte ook op dié
datum vas te stel. Die kerk het dus hierdie populêre Ligdag oorgeneem en
nuwe betekenis daaraan gegee. KERSVADER Santa
Claus beklee 'n baie prominente plek in kersfeesvieringe wêreldwyd.
Hierdie figuur word teruggevind in die persoon van Nicolaas van Myra (gebore
6/12/280 en gesterwe 345 nC). Hy is
as biskop aangestel in die Grieks-Katolieke Kerk en was gesien as die
beskermheer van seelui en 'n geliefde onder kinders aan wie hy graag
geskenke gegee het. Kersvader
het geen bybelse oorsprong nie en is bloot 'n legendariese persoon DIE KERSBOOM Reeds
by die primitiewe mense kry ons 'n besondere waardering en verering van
bome wat teken is van groei en lewe. Dit kom ook uit in verskeie
godsdienste. Die
eerste kersboom het klaarblyklik in 733 nC ontstaan toe Bonifacius, 'n
Engelse sendeling 'n groep Germane besoek het. Hulle het by geleentheid
onder 'n groot eikeboom gesit en ter ere van hul god, Thor fees gevier. 'n
Rukwind het die boom omgewaai en in die plek daarvan het daar 'n denneboom
opgekom wat afgekap is en in die saal van die hoofman ingedra is. Rondom
dié boom sou Bonifacius hulle van die liefde van Christus vertel. Vandaar
dan die kersboom. Martin
Luther het na bewering elke jaar vir sy kinders 'n kersboom met brandende
kerse opgerig. Die lig sou die teken wees van Christus, die Lig vir die wêreld. Ook
die kersboom vind geen gronde in die Bybel nie, maar het sodanig deel van
kersfees geword dat ons ons geen kersfees sonder 'n boom kan voorstel nie. KERSLIEDERE Die
sing van kersliedere het sekerlik ontstaan as gevolg van die sang van die
engele met die geboorte aankondiging van die Kind. Dié lied, genaamd Gloria
in excelsis is reeds gedurende die tweede eeu deur Christene gesing. Verskeie
persone het groot bydraes gelewer tot die dig en beryming van verskeie
gewilde kersliedere. Sodanige persone was Franciskus van Asisi, Martin
Luther, JS Bach, Joseph Mohr, Franz Gruber en vele andere. Uit eie
geledere is daar persone soos Attie van der Colff, Izak de Villiers en
Koos du Plessis met sy gepaste kerslied vir Afrika : Somerkersfees. Ons
kan ons nie 'n kersfees indink sonder kersliedere nie. DIE BETEKENIS VAN KERSFEES Vir
die Christen mag hierdie fees niks anders as 'n Christusfees wees
nie. God het sy Seun op 'n buitengewone, maar ook eg menslike wyse na die
wêreld gestuur omdat Hy die mense liefhet. Die
geboorte van Jesus Christus in 'n stal in Betlehem is die wonder waarvan
engele tereg gesing het : Eer aan God in die hoogste
hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n
welbehae het ! Jesus
Christus is die Verlosser waardeur God versoening vir elkeen wat in Hom
glo, bewerk. Daarom vier ons uitbundig die Christusfees. Ds Christie van Zyl NG Gemeente Townsview |
|
|