NG Gemeente Townsview
KERSFEES
CHRISTUSFEES!

Ds. Christie van Zyl



Met die viering van kersfees word die kerklike jaar geopen. Kersfees is 'n feestyd. Dit is dus nie tot een of twee dae beperk nie, maar is 'n siklus, 'n kring van dae. Die tyd van die voorbereiding heet Adventstyd en die nabetragting, Epifanie of verskyningstyd.

ADVENT

Advent kom van 'n Latynse woord adventus wat koms of aankoms beteken. In die ou tyd was dit gebruik om die aankoms van 'n koning of ander vername figuur mee aan te dui. So-'n besoek het die aandag van die mense en baie voorbereiding geverg. Dit was gewoonlik 'n tyd van opwinding en afwagting.

Die kerk het die woord adventus toegepas op die koms van die Koning, Jesus Christus. Die mense word dus daarmee opgeroep om hulle vir hierdie koms voor te berei. Dit het 'n tyd van inkeer en verlangende uitsien geword ; 'n tyd van blydskap en erns.

Die oorsprong van Adventstyd kan teruggevoer word na min of meer die vyfde eeu en wel in Spanje en Frankryk. Soos voor Paasfees, was daar 'n behoefte tot geestelike diepte en voorbereiding. By Advent is die algemene gees egter 'n gees van blydskap en opwinding in teenstelling met die medelye en hartseer van Pase.

Tydens die jare 1073 en 1085 nC het Gregoius VII die getal adventsondae op vier vasgestel.

Die boodskap van Advent lê klem op die vleeswording van die Woord in die persoon en koms van Jesus Christus. Die Here het gekom en Hy kom gedurig. Hy sal ook weer kom.

DIE OORSPRONG VAN KERSFEES

Aanvanklik het die vroeë Christene net een fees naas Sondag geken, naamlik Paasfees. Dit is dan ook net die fees genoem.

Keiser Konstantyn die Grote het in die besonder belang gestel in die plekke wat in die lewe van Jesus 'n rol gespeel het. Hy het gereël dat daar kerkgeboue oor al hierdie 'heilige plekke' gebou is sodat die gelowige pelgrims aanbiddingsgeriewe kan hê by al die plekke waar

daar tydens Jesus se lewe sekere dinge plaasgevind het. Dit sou sy geboorteplek, plekke waar Hy gely en gesterwe het en vanwaar Hy opgevaar het, insluit.

In 326 nC is begin gemaak met die bou van die basiliek in Betlehem bo die grot wat aangewys is as die mees waarskynlike geboorteplek van Jesus. In die 18e eeu is 'n silwerster oor die vloer daarvan aangebring met die volgende Latynse inskripsie :

 Hier is Jesus Christus uit die maagd Maria gebore.

Intussen is daar baie berekenings gemaak om die datum van Jesus se geboorte vas te stel, maar sonder sukses. Kersfees het ook nie soos paasfees en pinkster 'n teenhanger in die Ou Testament nie wat die bepaling van 'n datum nog moeiliker maak. In die ou tyd was mense se sterwensdae ook meer belangrik as hul geboortedae en daarom is daar meer aandag aan Jesus se sterfdag en opstandingsdag gegee as aan sy geboortedag. In die Bybel sowel as ander ou geskrifte is daar ook geen aanduiding van wanneer hierdie belangrike gebeurtenis plaasgevind het nie.

Eers in die vierde eeu het die kerk daartoe oorgegaan om 'n dag af te sonder as 'n feesdag.

Verskillende datums is in berekening gebring waarvan slegs twee genoem word : die Ooste het 6 Januarie en die Weste 25 Desember as dag van die epifanie (verskyning) aanvaar.

Wat die jaartal betref, het geleerdes uit sekere skrifgedeeltes probeer vasstel wanneer die geboorte min of meer geskied het.

Matteus sê dat Jesus gebore is in die dae van koning Herodes (2:1). Lukas meld dat die bevel tot inskrywing uitgegaan het van keiser Augustus in die tyd toe Sirenius goewerneur van Sirië was. Verder word die vyftiende jaar van keiser Tiberius en die name van ander vername persone in herinnering gebring. (Luk 2:1,2 ; 3:1,2) En Jesus was 30 jaar oud toe Hy begin het om die mense te leer.

Al hierdie Bybel-gegewens kan met mekaar in verband gebring word sonder om by 'n sekere dag en datum van Jesus se geboorte uit te kom.

Veel nader aan die waarskynlike, is die veronderstelling dat ons kersviering 'n heidense oorsprong het wat van die Mithras-godsdiens afkomstig is.

Mithras was die Persiese god van die lig wat sedert 70 nC bekendheid verwerf het en 'n gedugte mededinger van die Christendom was. Hy was ook die god van die sterrehemel en sedelike reinheid.

Daar was bepaalde ooreenkomste tussen die Christelike geloof en hierdie godsdiens : beide het die doop, 'n maaltyd (nagmaal) en die viering van 'n rusdag gehad, terwyl Mithras op 25 Desember gebore is. Christus en Mithras is beide gehuldig as die lig van die wêreld en laasgenoemde se grot is vergelyk met die grot van die geboorte in Betlehem.

Daar was natuurlik ook radikale verskille : vroue is nie in Mithras opgeneem nie ; Mithraisme is op mitologiese basis gefundeer en die Christendom op historiese basis.

Konstantyn die Grote, wat die Christendom aanvaar het en dit in sy ryk gepromoveer het, het die groot verskil vir die voortbestaan van die christendom en die verdwyning van die Mithras gemaak.

Teen hierdie agtergrond moet ons die besluit van die kerk van Rome in 330 nC verstaan, om teenoor die heidense winterfees en geboorte van Mithras op 25 Desember die fees van die herdenking van Christus se geboorte ook op dié datum vas te stel. Die kerk het dus hierdie populêre Ligdag oorgeneem en nuwe betekenis daaraan gegee.

KERSVADER

Santa Claus beklee 'n baie prominente plek in kersfeesvieringe wêreldwyd. Hierdie figuur word teruggevind in die persoon van Nicolaas van Myra (gebore 6/12/280 en gesterwe 345 nC).

Hy is as biskop aangestel in die Grieks-Katolieke Kerk en was gesien as die beskermheer van seelui en 'n geliefde onder kinders aan wie hy graag geskenke gegee het.

Kersvader het geen bybelse oorsprong nie en is bloot 'n legendariese persoon

DIE KERSBOOM

Reeds by die primitiewe mense kry ons 'n besondere waardering en verering van bome wat teken is van groei en lewe. Dit kom ook uit in verskeie godsdienste.

Die eerste kersboom het klaarblyklik in 733 nC ontstaan toe Bonifacius, 'n Engelse sendeling 'n groep Germane besoek het. Hulle het by geleentheid onder 'n groot eikeboom gesit en ter ere van hul god, Thor fees gevier. 'n Rukwind het die boom omgewaai en in die plek daarvan het daar 'n denneboom opgekom wat afgekap is en in die saal van die hoofman ingedra is. Rondom dié boom sou Bonifacius hulle van die liefde van Christus vertel. Vandaar dan die kersboom.

Martin Luther het na bewering elke jaar vir sy kinders 'n kersboom met brandende kerse opgerig. Die lig sou die teken wees van Christus, die Lig vir die wêreld.

Ook die kersboom vind geen gronde in die Bybel nie, maar het sodanig deel van kersfees geword dat ons ons geen kersfees sonder 'n boom kan voorstel nie.

KERSLIEDERE

Die sing van kersliedere het sekerlik ontstaan as gevolg van die sang van die engele met die geboorte aankondiging van die Kind. Dié lied, genaamd Gloria in excelsis is reeds gedurende die tweede eeu deur Christene gesing.

Verskeie persone het groot bydraes gelewer tot die dig en beryming van verskeie gewilde kersliedere. Sodanige persone was Franciskus van Asisi, Martin Luther, JS Bach, Joseph Mohr, Franz Gruber en vele andere. Uit eie geledere is daar persone soos Attie van der Colff, Izak de Villiers en Koos du Plessis met sy gepaste kerslied vir Afrika : Somerkersfees.

Ons kan ons nie 'n kersfees indink sonder kersliedere nie.

DIE BETEKENIS VAN KERSFEES

Vir die Christen mag hierdie fees niks anders as 'n Christusfees wees nie. God het sy Seun op 'n buitengewone, maar ook eg menslike wyse na die wêreld gestuur omdat Hy die mense liefhet.

Die geboorte van Jesus Christus in 'n stal in Betlehem is die wonder waarvan engele tereg gesing het :

Eer aan God in die hoogste hemel

en vrede op aarde

vir die mense in wie Hy 'n welbehae het !

Jesus Christus is die Verlosser waardeur God versoening vir elkeen wat in Hom glo, bewerk. Daarom vier ons uitbundig die Christusfees.

Ds Christie van Zyl   NG Gemeente Townsview