|
|
|
NG
Gemeente Townsview |
|
|
|
Op
die vraag : Wat is die doel van die mens ?
- is daar seker baie antwoorde. Een van hulle (wat beslis een van die
belangrikste is) is waarskynlik die oortuiging dat die doel van die mens
sou wees om op God en sy woord te reageer.
Dit is presies wat die eerste mense, Adam en Eva moes doen en in
werklikheid ook gedoen het ; hulle het op God en sy woord gereageer. Oor
die manier waarop hulle dit gedoen het, kan ons 'n bepaalde opinie hê en
selfs baie kritiek en verwyte slinger, maar dis nie waaroor dit hier gaan
nie. Dit gaan hier oor God, die Ewige en Almagtige wat voor alle dinge
daar was en toe die mens gemaak het om op Hom en sy woord te reageer. Dit
is presies wat alle mense as sy skepsels elke dag van hulle lewens besig
is om te doen of hulle dit nou wil weet of nie ; of hulle dit nou wil
erken of nie. Maar hoe doen ons dit ? Eintlik is dit baie eenvoudig. 'n
Mens reageer op God deur twee dinge : GELOOF
en GOEIE
WERKE ! En
hierdie twee dinge staan in 'n bepaalde verhouding met mekaar. Hulle is
inderwaarheid ineengevleg, maar laasgenoemde vloei uit eersgenoemde voort
; omdat jy glo, doen jy die dinge wat by die geloof pas en dit is goeie
werke. 1.
Kom ons kyk eers na GELOOF. Alle
mense het 'n ingeboude behoefte om te glo. God het ons so gemaak. Maar
waarin glo ons ? God
wil hê dat ons in Hom sal glo. Daarom openbaar Hy Homself aan ons deur sy
Woord en Gees. Hy wil hê dat ons Hom sal leer ken vir wie Hy werklik is
en Hom dan deur die geloof sal aanvaar. Maar natuurlik glo alle mense nie
in God nie. Sommiges glo wel in 'n god, maar 'n ander een as die Een wat
die Bybel aan ons voorstel. Hier
gaan dit egter oor geloof in die Drie-enige God wat ons in die Bybel leer
ken.
Geloof
in God veronderstel 'n vooraf kennis
oor Hom. 'n Mens kan tog nie in iemand of iets glo as jy nie daarvan weet
nie. Daarom is dit vir Christene so wonderlik dat God Homself aan ons
bekend maak. Ons noem dit sy openbaring. Die lewe van 'n Christen is dus
niks anders nie as 'n opwindende ontdekkingsreis waar hy stap-vir-stap die
Here al hoe beter leer ken. Maar
dit is nog nie geloof nie. Daar kom iets kort. Omdat
God 'n persoonlike God is, wil Hy in 'n verhouding met die mens staan. Dit
is die rede waarom Hy met die mens sekere ooreenkomste aangaan en aan hom
sekere beloftes maak wat almal in die teken van trou staan. God wil deur
die mens vertrou word. Daarom kan ons sê dat die tweede element van
geloof juis vertroue
is.
Vertroue is die aard van die verhouding wat die Christen met God het.
Daardeur sê jy dat jy nie net oor 'n bepaalde kennis oor God beskik nie,
maar dat jy jouself aan sy genade, liefde en beskikking oorgee en selfs
ook aan sy mag, straf en oordeel. s
Ons
kan dus sê dat geloof in God die korrekte aanwending van die ingeboude
geloofsdrang van die mens is. s
Of
ons kan sê dat geloof in God die verbondsgemeenskap tussen die skepsel en
sy Skepper is. s
Daar
bestaan ook nog baie ander definisies van geloof en elke gelowige kan
sekerlik sy eie weergawe op grond van sy eie unieke geloofsverhouding met
God gee. Die
Bybel self het ook baie dinge ten opsigte van geloof te sê. Een hiervan
is die wonderlike waarheid dat 'n mens slegs deur jou geloof in God van
die sonde en dood gered word. (Joh 3:16, Rom 3:28, Gal 2:15,16, Fil 3:9,
Heb 11 ) Maar
dan leer dieselfde Bybel dat niemand vrygespreek sal word wie se dade nie
goed was nie. (Mat 16:27, 25:31-46, Rom 2:6, 2 Kor 5:10, Gal 6:7-9, Jak
2:24, Op 20:13) Dit wil voorkom asof ons hier met 'n teenstrydigheid te doen het. Hoe kan die Here in dieselfde Bybel op een plek sê ons word deur geloof alleen gered en op 'n ander plek dat geloof sonder dade niks beteken nie ? Erger nog : dat daar vir hulle wat nie goed doen nie, geen redding is nie. Waar
pas GOEIE
WERKE
dan in ? Prof
Adrio König bied die volgende verklaring : Die
saak word duideliker as ons onderskei tussen twee soorte werke : wetswerke
en geloofswerke.
Elke keer wanneer Paulus werke teenoor geloof stel, bedoel hy wetswerke.
Dis die werke wat iemand doen om die guns van God te verdien (Rom
3:28, Gal 2:16, Fil 3:9). Die probleem met wetswerke is dat iemand nie op
Christus wil vertrou nie, maar self wil regkom (Rom
2:21). Maar
geloofswerke of goeie werke is iets anders. Hierdie werke word nooit
teenoor geloof gestel nie. Dit vloei juis uit die geloof voort. Paulus
praat van die geloof wat in dade oorgaan (Gal 5:6). Dit is die werke
waarvan Jakobus praat en wat in die oordeel beloon word. Dit is die
vervulling van die wet. Hierdie vervulling het die Here van die begin af
bedoel as die gestalte wat die volk se geloof moet aanneem. Die vervulling
van die wet is dan ook niks anders as om soos God en soos Christus te leef
nie. Dis die doel van God wat Christus deur die Gees in ons bereik. Dit is
dan ook net 'n ander naam vir die vrug van die Gees. *
(Fokus op die 300 geloofsvrae, p 318, Lux Verbi BM, 2001) 'n
Redenasie oor geloof en goeie werke mag dus nooit by die werke begin nie,
maar by die geloof. Meer nog : dit moet by God begin wat die goeie reeds
deur Jesus Christus in ons lewens totstand gebring het. Dáárop moet die
werke volg. Dit moet 'n natuurlike uitvloeisel wees van Gód se goeie
werke wat deur die geloof reeds in ons lewens plaasgevind het. Mense
se goeie dade is dus hoogstens 'n antwoord (reaksie) op God
se reddingsaksie. Die oomblik wanneer dit 'n doel op sigself word soos om
deur eie verdienste in God se guns te probeer kom of watter ander rede
ookal, raak ons wettisisties. En dit is juis die gedrag van die Fariseërs
wat so sterk deur Jesus afgekeur is. Goeie werke mag nooit bepaalde eise
of standaarde word waaraan 'n Christen veronderstel is om aan te
beantwoord nie. Nou
verstaan ons ook sommer waarom Jesus gesê het, Hy nie die wet van God
totniet gemaak het nie, maar vervul het. (Mat 5:17-20) Die wet van God bly
steeds die norm waarvolgens God se kinders reageer op sy genade. En dit in
gehoorsaamheid uit dankbaarheid. Goeie werke is die vrug wat vrylik uit 'n
nuwe hart kom. Daarom
is dit nie gepas nie en selfs gevaarlik om heeltyd lysies van goeie werke
op te stel en jouself gedurig daaraan te toets. Goeie werke omvat jou hele
lewe. Dit is gedrag wat deur liefde in jou binneste gewek word en dan in
waarneembare en selfs nie-waarneembare dade realiseer. Die Here Jesus sê
immers dat jou regterhand nie hoef te weet wat jou linkerhand doen nie ;
jy het niks om op te roem nie, al is dit wat jy doen hoe goed. Hy sê God
wat in die geheim sien, sal jou in die openbaar vergoed. Die
doel van die mens is om in God te glo en om Hom met jou hele lewe
te verheerlik. Dit doen jy deur geloof en goeie werke uit 'n hart van
liefde. Geloof en goeie werke is dus veel, veel meer as 'n
belydenis en 'n klompie prysenswaardige daadjies. Dit
is 'n lewenswyse. "Gee
julleself aan God as lewende en heilige offers Rom 12:1,2 Ds
Christie van Zyl |
|
|