|
|
|
NG
Gemeente Townsview |
|
|
|
Om
te glo, is om seker te wees van die dinge wat
ons hoop, om oortuig te wees van die dinge
wat ons nie sien nie. Hebr
11:1 ‘N
TEKEN VAN GROEI Geloof
is die mens se gehoorsame antwoord op God se handelinge met hom in Jesus
Christus. Dit vind plaas as gevolg van die werk van die Heilige Gees..
Sonder die drie-enige God is geloof nie moontlik nie. Ook nie sonder die
mens nie. Dit
is deur die Heilige Gees dat God jou roep. Dít is waar geloof begin. Jy
moet bewus word van God, jou eie sondigheid en verlorenheid, maar ook van
sy reddende genade vir jou. Dan maak Hy jou nuut deur die werk van Jesus Christus wat vir jou sonde aan die kruis gesterf het. Hierop
is geloof jou antwoord en die duidelike teken van geestelike groei is die
bewys dat dit alles met jou gebeur het. Dit
is asof jy ‘n plantjie is wat deur God in nuwe grond geplant word en nou
nuwe vrugte dra. ‘N
GAWE VAN DIE HEILIGE GEES Nadat
die Heilige Gees jou ‘n kind van God gemaak het, onttrek Hy Hom nie van
jou nie. Inteendeel, Hy gaan met sy werk voort en lei jou om dit wat met
jou gebeur het, te aanvaar. Inderwaarheid is elke mens geskape as iemand
wat op God gerig is, maar dit is deur die sonde verander. Sonde verduister
ons uitsig op God in so-‘n mate dat ons nie in Hom glo nie. Daarom ag
God dit nodig om ons deur die werk van die Gees en die soenverdienste van
Jesus Christus tot ons sinne te ruk. Hy maak ons oë oop sodat ons Hom kan
sien en Hom opnuut as God kan aanvaar en kan eer. God se eie goeie werk lê
dus die geloof ten grondslag. ‘N
DAAD VAN DIE MENS Die
Heilige Gees skenk ons wel die geloof, maar dit is nie die Gees wat glo
nie. Die mens glo. Daarom is geloof ‘n daad van die mens. Geloof is
terselfdertyd ‘n geskenk van die Gees én die aanvaarding deur die mens.
Dis soos die verjaardaggeskenk wat jou vriend vir jou gee. Hy gee dit
onvoorwaardelik, maar jy moet dit by hom neem en jou eie maak. Geloof
veronderstel dus ‘n menslike verantwoordelikheid tesame met die
goddelike gawe wat dit is. Die
Bybel is vol van God se genade en liefde, maar netso vol van die dringende
oproep om dit in die geloof aan te neem. (Mark 16:16 ; Joh 3:16 ; Jes 55:6
; Jer 3:22 ens) Geloof
veronderstel aksie van my kant. Ja, dit is so dat geloof sonder God
onmoontlik is. Maar sonder my is dit netso onmoontlik. Geloof beteken dat
ek na God gryp omdat Hy my gegryp het (Fil 3:12), dat ek Hom ken omdat Hy
my ken (1 Kor 13:12) , ek my laat oorhaal, omdat Hy my oorgehaal het .(Jer
20:7) DIS
‘N DAAD VAN DIE TOTALE NUWE MENS Geloof
is nie ‘n daad van die ou mens nie, maar van die nuwe wat deur Christus
nuut gemaak is. Die ou dinge het verbygegaan en alles het nuut geword. (2
Kor 5:17 ; Rom 6:6 ; Ef 4:22 ; Kol 3:9) Die ou mens glo wel in sekere
dinge, maar beslis nie in Christus nie. Dit is vir die nuwe mens beskore. Dit is ook nie net sekere dele, vermoëns of eienskappe van die mens wat glo nie. Die hele mens glo : verstand, gevoel en wil. Maar as ‘n eenheid, want ‘n mens is ‘n eenheid en jou totale menswees is deur geloof op God gerig. Deur die geloof is die ganse mens deur God vir Homself toegeëien. GELOOF
IS KENNIS EN VERTROUE Geloof
is die mens se antwoord op God se genadige handelinge. Dit impliseer
kennis van God en van sy handelinge en die bron daarvan is sy Woord.
Natuurlik veronderstel dit nie ‘n totale of volmaakte verstaan van God
nie. Dit is vanweë die mens se beperkte begrip
tog onmoontlik. Net so min verondertel geloof ‘n opskorting van
rasionele denke. Geloof
eis - en daarin is kennis en vertroue één – dat ek, wát ek ken en wat
geken kan word, ook as wáár en as betroubaar sal aanvaar. Die vaste
kennis van geloof sluit die hartlike vertroue in en juis dit gee ‘n
vrede en ‘n rus aan die hart, wat die verstand te bowe gaan. (Ps 9:11,
25:2, 119:42 ; 1 Kron 5:20 ; Fil 2:24) Vertroue
in God en oorgawe aan Hom veronderstel kennis oor Hom wat ons vind in sy
Woord. Maar ook omgekeerd : om God en sy genadebeloftes te ken, is om jou
volledig in alles op Hom te verlaat. Geloof
is nie ‘n sprong in die duister of ‘n greep op die absurde nie. Dit is
geborgenheid in die God wat ek ken en vertrou. In die wete dat Hy God is
en dit altyd sal wees. GELOOF
IS GEHOORSAAMHEID ‘n
Gelowige mens is ‘n luisterende mens – luisterend na die Woord van
God.. (Rom 10:8 e.v) Maar ook antwoordend op die Woord. Wanneer die
gelowige mens die waarde van die redding in Christus verstaan asook die
trefwydte daarvan, antwoord hy gewilliglik uit dankbaarheid en in
gehoorsaamheid. Hy erken die gesag van die Woord en reageer positief
daarop. Hy leef nou as ‘n nuwe mens in ‘n nuwe geloofsverbintenis met
God deur Christus wat dit moontlik maak. Daarom is sy ganse bestaan op God
gerig en op die wil van God. Gehoorsaamheid aan God word as ‘n vreugde
beleef en is vir hom geen las nie. Want dit gaan nie meer om homself nie,
maar om sy Redder, Jesus Christus. Ek moet minder word en Hy meer. GELOOF
IS SEKERHEID Die
bestaan van geloof is nie in die mens gesetel nie, maar in God. Omdat Hy
is, kan ons glo. Omdat dit Hy is wat geloof skenk, is dit vir my moontlik
om te glo. Hy doen dit immers deur die werk van die Heilige Gees wat self
God is. Nogtans
is dit die mens wat glo en nie God nie. Daarom kom daar tye wanneer die
geloof wankel en min word. Daar kom ook tye van die grootste twyfel. Dus
is dit nodig dat ek in sulke tye nie op myself sal fokus nie, maar juis
van myself af sal wegkyk en sal soek na Hom wat groter is. Dan word dit
vir my duidelik dat ek nie daarin kan slaag om myself te help nie. God
moet dit doen. In moeilike tye is dit juis Hy wat in my lewe ingryp en my
opnuut laat glo. Geloofsekerheid
is die seker-wees van Hom in wie geglo word ; is die sekerheid van
uitverkiesing en roeping (Rom 8:30) ; die sekerheid van die vaste belofte
(2 Petr 1:19) ; die sekerheid van ons kindskap van God (Rom 8:16) ; die
sekerheid van die bloed van Christus wat ons reinig en heilig (Hebr 10:22)
; die sekerheid van ‘n oorgang uit die dood in die lewe (1 Joh 3:14) ;
die sekerheid van ‘n verseëling en die ontvangs van die Heilige Gees (2
Kor 1:22). GELOOF
IS DIE VERHEERLIKING VAN GOD God
is die inhoud en die bron van ons geloof. Dit is op Hóm dat die gelowige
gerig is. In Hom lê die krag van ons geloof (Mat 15:28 ; 8:10 ; 9:22 ;
Luk 7:9 ; 1 Joh 5:14 ; Mark 2:5) Dáárdeur
word Hy geëer en verheerlik. Geloof
in God beteken dat ek my op Hom alleen verlaat ; dat ek uit myself tot min
instaat is ; myself nie kan red of verlos
nie ; in alles van Hom afhanklik is. Verheerliking
van God vanweë die geloof bring mee dat ek in alles wat ek sê en dink en
doen, sy Naam eer. Hy bepaal my doen en late. Vir Hom leef ek en loof ek.
Want Hy is God. Verheerlik
Hom deur jou eie unieke geloof wat Hy aan jou skenk. Ds
Christie van Zyl |
|
|