|
|
|
NG
Gemeente Townsview |
|
|
|
Die
bron van kennis oor God is die heilige goddelike Woord wat ons die Bybel
noem. Daarin leer ons God ken soos wat Hy Homself aan ons openbaar. Om
die Bybel in die hand te neem, dit te lees en God daarin te ontdek, is 'n
uitnemende voorreg waarvan die waarde nie bereken kan word nie. Die God van die Bybel is 'n persoonlike God. Dit beteken meer as die feit dat Hy 'n persoonlikheid of bepaalde geaardheid het. Hy is nie 'n mag of krag nie ; nog minder is Hy 'n idee of geestelike grootheid. Hy is ook nie 'n beeld of 'n voorwerp nie. God
is 'n lewende wese met 'n besondere identiteit. Voordat
enigiets totstand gekom het, was Hy al daar. Hy is nie geskep nie, maar is
self die Skepper van alle dinge. In
die Bybel leer ons verder dat God uit drie persone
bestaan, maar dat Hy een wese is. Vandaar
die benaming : Drie-eenheid of Triniteit. Omdat
ons vanuit ons menslike bestaan en wêreldse ervaringsveld dink, is die
begrip Drie-eenheid vir ons vreemd en onverstaanbaar. Hoe kan
iemand een wees, maar terselfdertyd drie ? Dit maak net nie vir ons sin
nie. Daarom
dat wyle prof Johan Heyns hieroor soos volg geskryf het : "Hier
word die menslike beperkinge veral ten opsigte van insig en begrippe, só
oorweldigend, dat volkome swye die enigste juiste en passende reaksie skyn
te wees. En tog is ons geroep om ook hierdie heilige terrein van die aard
van God se persoonlike bestaan nadenkend en formulerend te betree." [Dogmatiek,
1978, p 47] Die
mens waag dit dus om vanuit die kennis van God volgens sy Woord, Hom te
beskryf, maar stotterend en bewend. Volgens
die klassieke definisie van die Drie-eenheid : God is één wese en
drie persone (una substantia tres personae) word nie een van die
twee sleutelwoorde, wese of persone in die Bybel ten opsigte
van God gebruik nie. Dit is dus menslike formuleringe oor die waarheid oor
God in sy Woord al word dit nie eksplisiet so uitgespel nie. Die kennis
oor die persoon en wese van God soos wat dit in die Bybel aan ons
geopenbaar word, noodsaak bepaalde terminologie ten einde uitdrukking aan
dié komplekse en misterieuse saak te verleen. Tereg
kan die vraag nou gevra word na die skrifbewyse wat 'n leerstuk
soos dié oor die goddelike Drie-eenheid sou ondersteun. Dit
is veral in die woorde van Jesus self dat hierdie saak duidelik aan die
orde kom. Jesus
sê by Mat 28:19 aan sy dissipels : "Doop hulle in die naam van die
Vader en die Seun en die Heilige Gees." Talle kere praat Hy van en
met die Vader (Mat 11:25-27, 16:17, Mark 13:32) en van die Gees (Mark
13:11, Luk 11:13, 12:12, Joh 12:27, 14:26, 15:26, 16:13) Maar
ook in die res van die Nuwe Testament lees ons van die Vader (Hand 2:33,
Rom 1:7, Ef 2:18, 1 Joh 1:2), die Seun (Mat 11:19, Mark 2:28, Joh 10:36,
11:4, Rom 1:4) en die Heilige Gees (Hand 1:2, 2:33, Rom 5:5, 1Kor 2:13,
Hebr 2:4) In
die hantering van die drie begrippe vind ons deurentyd 'n eenheid wat ook
direk ondersteun word deur gedeeltes soos Joh 10, 12, 16 en 17 waar dit oa
handel oor diebesondere verhouding tussen die Vader die Seun en die Gees. Hoewel
nie so duidelik uitgespel soos in die Nuwe Testament nie, vind ons in die
Ou Testamentiese hantering van die godsbegrip 'n veronderstelling van die
Drie-eenheid. Die meervoudsvorm wat reeds by die skeppingsverhaal
aangetref word, is 'n voorbeeld daarvan. Aan
elkeen van die drie goddelike Persone word 'n besondere handeling
verbind sonder dat die Ander daarvan uitgesluit word : Die
Vader is vir die skepping verantwoordelik,
maar die Seun en die Gees is ook daarby betrokke. (1
Kor 12:16, 8:6, Jes 64:8, Joh 6:32, Ps 104:30) Die
Seun is vir die verlossing verantwoordelik,
maar die Vader en die Gees is nie daarvan uitgesluit nie. (Joh
1:29, Rom 3:24, Joh 10:29, 25, 37, Luk 1:35) Die
Heilige Gees is vir die voleinding verantwoordelik,
maar saam met Hom ook die Vader en die Seun. (Gal
4:6, Ef 1:10, 13, 23, 1 Kor 1:30, Rom 8:23) Wat
God se wese betref, kan ons sê dat Hy enkelvoudig is en wat sy
persoon betref, Hy drievoudig is. Dit is nie 'n geval van een God
wat in drie verdeel word nie. Nog minder is daar sprake van een Persoon
wat ondergeskik aan 'n ander is. Elke Persoon van die Godheid het 'n
bepaalde plek en taak binne die eenheid. Verder
merk ons 'n verskeidenheid, gemeensaamheid en volkomenheid
binne die Drie-eenheid op. God is dus 'n 'Ons-God' eerder as 'n 'Ek-God'.
Tussen die drie Persone is
daar interaksie en harmonie wat telkens die eenheid ondersteun. Op 'n
drieledige wyse is God in die skepping werkend teenwoordig, maar altyd as
een. Wanneer
ons oor God dink en praat, is dit belangrik dat ons telkens by sy
drie-enige bestaanswyse sal begin. Indien ons dit nie doen nie, sal ons
die persoon en werk van elkeen van die goddelike Persone misverstaan en
dit sal 'n blatante verskraling van ons verstaan van God en sy werk teweeg
bring. In
die leer oor die Drie-eenheid klop die hart van die christelike godsdiens.
Want deur die liefde van die Vader, die genade van
die Seun en die gemeenskap van die Heilige Gees word die
openbaring van God tot verlossing van die mensheid moontlik gemaak. Voordat
ons dus iets oor God en sy werk kwyt raak, moet ons eers mooi dink. Ons
moet keer op keer Bybel toe gaan en die Gees bid om ons sodanig te lei dat
ons met ontsag en in verantwoordelikheid na Hom sal luister en kyk. Dan
sal ons elke keer iets nuuts en verrassends oor ons wonderlike God ontdek. O
diepte van die rykdom en wysheid
Rom
11:33 Ds
Christie van Zyl |
|
|