NG Gemeente Townsview
 DIE HERE ONS GOD IS DIE ENIGSTE HERE

1 + 1 + 1 = 1
Ds. Christie van Zyl



Die bron van kennis oor God is die heilige goddelike Woord wat ons die Bybel noem. Daarin leer ons God ken soos wat Hy Homself aan ons openbaar. Om die Bybel in die hand te neem, dit te lees en God daarin te ontdek, is 'n uitnemende voorreg waarvan die waarde nie bereken kan word nie. 

Die God van die Bybel is 'n persoonlike God. Dit beteken meer as die feit dat Hy 'n persoonlikheid of bepaalde geaardheid het. Hy is nie 'n mag of krag nie ; nog minder is Hy 'n idee of geestelike grootheid. Hy is ook nie 'n beeld of 'n voorwerp nie. 

God is 'n lewende wese met 'n besondere identiteit. Voordat enigiets totstand gekom het, was Hy al daar. Hy is nie geskep nie, maar is self die Skepper van alle dinge. 

In die Bybel leer ons verder dat God uit drie persone bestaan, maar dat Hy een wese is.

Vandaar die benaming : Drie-eenheid of Triniteit. 

Omdat ons vanuit ons menslike bestaan en wêreldse ervaringsveld dink, is die begrip Drie-eenheid vir ons vreemd en onverstaanbaar. Hoe kan iemand een wees, maar terselfdertyd drie ? Dit maak net nie vir ons sin nie.

Daarom dat wyle prof Johan Heyns hieroor soos volg geskryf het :

"Hier word die menslike beperkinge veral ten opsigte van insig en begrippe, só oorweldigend, dat volkome swye die enigste juiste en passende reaksie skyn te wees. En tog is ons geroep om ook hierdie heilige terrein van die aard van God se persoonlike bestaan nadenkend en formulerend te betree."  [Dogmatiek, 1978, p 47] 

Die mens waag dit dus om vanuit die kennis van God volgens sy Woord, Hom te beskryf, maar stotterend en bewend. 

Volgens die klassieke definisie van die Drie-eenheid : God is één wese en drie persone (una substantia tres personae) word nie een van die twee sleutelwoorde, wese of persone in die Bybel ten opsigte van God gebruik nie. Dit is dus menslike formuleringe oor die waarheid oor God in sy Woord al word dit nie eksplisiet so uitgespel nie. Die kennis oor die persoon en wese van God soos wat dit in die Bybel aan ons geopenbaar word, noodsaak bepaalde terminologie ten einde uitdrukking aan dié komplekse en misterieuse saak te verleen. 

Tereg kan die vraag nou gevra word na die skrifbewyse wat 'n leerstuk soos dié oor die goddelike Drie-eenheid sou ondersteun. 

Dit is veral in die woorde van Jesus self dat hierdie saak duidelik aan die orde kom. 

Jesus sê by Mat 28:19 aan sy dissipels : "Doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees." Talle kere praat Hy van en met die Vader (Mat 11:25-27, 16:17, Mark 13:32) en van die Gees (Mark 13:11, Luk 11:13, 12:12, Joh 12:27, 14:26, 15:26, 16:13) 

Maar ook in die res van die Nuwe Testament lees ons van die Vader (Hand 2:33, Rom 1:7, Ef 2:18, 1 Joh 1:2), die Seun (Mat 11:19, Mark 2:28, Joh 10:36, 11:4, Rom 1:4) en die Heilige Gees (Hand 1:2, 2:33, Rom 5:5, 1Kor 2:13, Hebr 2:4) 

In die hantering van die drie begrippe vind ons deurentyd 'n eenheid wat ook direk ondersteun word deur gedeeltes soos Joh 10, 12, 16 en 17 waar dit oa handel oor diebesondere verhouding tussen die Vader die Seun en die Gees.

Hoewel nie so duidelik uitgespel soos in die Nuwe Testament nie, vind ons in die Ou Testamentiese hantering van die godsbegrip 'n veronderstelling van die Drie-eenheid. Die meervoudsvorm wat reeds by die skeppingsverhaal aangetref word, is 'n voorbeeld daarvan. 

Aan elkeen van die drie goddelike Persone word 'n besondere handeling verbind sonder dat die Ander daarvan uitgesluit word : 

Die Vader is vir die skepping verantwoordelik, maar die Seun en die Gees is ook daarby betrokke.

(1 Kor 12:16, 8:6, Jes 64:8, Joh 6:32, Ps 104:30) 

Die Seun is vir die verlossing verantwoordelik, maar die Vader en die Gees is nie daarvan uitgesluit nie.

(Joh 1:29, Rom 3:24, Joh 10:29, 25, 37, Luk 1:35) 

Die Heilige Gees is vir die voleinding verantwoordelik, maar saam met Hom ook die Vader en die Seun.

(Gal 4:6, Ef 1:10, 13, 23, 1 Kor 1:30, Rom 8:23) 

Wat God se wese betref, kan ons sê dat Hy enkelvoudig is en wat sy persoon betref, Hy drievoudig is. Dit is nie 'n geval van een God wat in drie verdeel word nie. Nog minder is daar sprake van een Persoon wat ondergeskik aan 'n ander is. Elke Persoon van die Godheid het 'n bepaalde plek en taak binne die eenheid.  

Verder merk ons 'n verskeidenheid, gemeensaamheid en volkomenheid binne die Drie-eenheid op. God is dus 'n 'Ons-God' eerder as 'n 'Ek-God'. Tussen die drie Persone

is daar interaksie en harmonie wat telkens die eenheid ondersteun. Op 'n drieledige wyse is God in die skepping werkend teenwoordig, maar altyd as een. 

Wanneer ons oor God dink en praat, is dit belangrik dat ons telkens by sy drie-enige bestaanswyse sal begin. Indien ons dit nie doen nie, sal ons die persoon en werk van elkeen van die goddelike Persone misverstaan en dit sal 'n blatante verskraling van ons verstaan van God en sy werk teweeg bring. 

In die leer oor die Drie-eenheid klop die hart van die christelike godsdiens. Want deur die liefde van die Vader, die genade van die Seun en die gemeenskap van die Heilige Gees word die openbaring van God tot verlossing van die mensheid moontlik gemaak. 

Voordat ons dus iets oor God en sy werk kwyt raak, moet ons eers mooi dink. Ons moet keer op keer Bybel toe gaan en die Gees bid om ons sodanig te lei dat ons met ontsag en in verantwoordelikheid na Hom sal luister en kyk. 

Dan sal ons elke keer iets nuuts en verrassends oor ons wonderlike God ontdek. 

O diepte van die rykdom en wysheid
en kennis van God !
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,
hoe onnaspeurlik sy weë ! 

  Rom 11:33   

Ds Christie van Zyl