NG Gemeente Townsview

ENKELE VERKENNENDE GEDAGTES OOR DIE DOOD, OPSTANDING, HIERNAMAALS EN  DIE HEMEL

Ds. Christie van Zyl



 

Dikwels vra Christene vrae soos :

 

Wat gebeur wanneer 'n mens sterf ?

Wanneer gaan die wederkoms van Jesus plaasvind ?

Gaan ons liggame eendag regtig uit die graf opstaan ?

Indien wel, hoe gaan ons lyk ?

Sal ons mekaar in die hiernamaals herken ?

Waar is die hemel ?

Ongelukkig is die Bybel (ons enigste bron) nie baie duidelik oor hierdie sake nie. Telkens wanneer dit wel aan die orde kom, word beeldspraak gebruik wat die feitelike verstaan van die aangeleentheid moeilik maak. Dis al asof die Here, wanneer Hy oor dié dinge praat, ons so bietjie wil laat raai en laat wonder. Miskien is sy bedoeling dat ons die einde as 'n verrassing moet beleef soos wanneer jy 'n geskenk ontvang. Die geskenk is in papier toegedraai; jy kan dit sien, daaraan voel en ruik, maar jy mag dit nog nie oopmaak nie. Omdat dit 'n geskenk is en dus geen bedreiging vir jou inhou nie, maar eerder die belofte van 'n groot lekkerte is,  kan jy met opgewonde verwagting daarna uitsien. God wil tog net die beste vir sy kinders gee ! (Rom 8:18)

DIE MENSLIKE BESTAANSWYSE

Dit is 'n gegewe dat mense nadat hulle 'n tyd lank gelewe het, sterwe. Dit is immers die gevolg op die sondeval van die eerste mens, Adam. (1 Kor 15:21, 22). Daarmee is die ganse aardse skepping in 'n toestand van sonde geplaas en die loon op die sonde is die dood. (Rom 5:12). In die Bybel word daar ook 'n perk op mense se lewensjare gelê, naamlik 70 of 80 jaar. (Ps 90:10,  Job 5:26)

Beide die Ou en die Nuwe Testamente openbaar egter 'n verwagting op die ewige lewe oftewel die hiernamaals. Dit word die ewige koninkryk van God genoem en strek veel verder as die grense wat tyd en ruimte stel. Wanneer die fisiese aardse lewe verby is, wag daar vir die mens 'n voortsetting daarvan op 'n ander, nuwe wyse.

Kom ons noem die aantal jare wat 'n mens fisies leef, die eerste fase van lewe.

Die tweede fase van lewe begin met jou sterwe. Ons moet in gedagte hou dat 'n mens 'n fisiese en geestelike wese is. Wanneer jy fisies sterf, hou jy dus nie op om te bestaan nie. Jy bestaan op 'n ander manier voort. Ons noem hierdie tweede fase van lewe :

DIE TUSSENTOESTAND

Oor wat presies gebeur wanneer 'n mens fisies sterf, het ons nie volledige duidelikheid nie. Ons weet wel dat jou liggaamsfunksies ophou funksioneer en daar is bepaalde vereistes waaraan voldoen moet word alvorens 'n mens medies as dood gesertfiseer kan word. Die Bybel is egter ondubbelsinnig daaroor dat 'n mens ná die sterwensmoment geestelik voortbestaan. Vir dié staat van lewe gebruik die Bybel die term, sjeool (1 Sam 2:6, es 7:11, Ps 16:10), maar laat hom nie in besonderhede daaroor uit nie. Wat egter wel duidelik is, is die feit dat die omstandighede van die gelowiges radikaal verskil van dié van die ongelowiges.

Die gelowige se gemeenskap met God word nie beëindig nie, maar word in die voorportaal van die hemel (paradys soos Jesus dit noem) voortgesit.  Daar is nie meer sonde, versoekings of enige vorm van lyding nie. (Openb 7:9-17). Tog is daar steeds die afwagting op dit wat volledig en volmaak is. (Openb 6:9-11).

Die ongelowige se gebroke verhouding met God word ook voortgesit, maar in die voorportaal van die hel. (Vergelyk hier die gelykenis van Lasarus en die ryk man). Dit word ook genoem brandende oond (Mat 13:42), diepste duisternis (Mat 22:13), plek waar die wurms nie doodgaan nie en die vuur nie uitgeblus word nie. (Mark 9:48).

Saam met die tydelikheid wat die gelowiges in die tussentoestand of doderyk ervaar, verwag die ongelowiges ook nog 'n gebeure wat die oordeel tot volheid sal voer.

DIE OPSTANDING UIT DIE DOOD

Hiermee begin die derde fase van die mens se lewe en verskil van die eerste twee in die sin dat dit permanent is en aanhou tot in ewigheid. Daar kom dus geen einde aan nie. Inderwaarheid was dit waarskynlik God se bedoeling dat die eerste fase al so moes wees, maar dis deur die sonde verongeluk. Die mens moes sterf, maar vanweë God se genade word hy uit die dood opgewek en tot volledige sondelose lewe herstel. Die wyse waarop God hierdie herskeppingswerk verrig, verdien ons aandag, want daarsonder is die lewe by God nie moontlik nie. God doen dit deur sy Seun, Jesus Christus wat Hy na die wêreld stuur om namens die sondaarmense te sterwe. (Rom 5:8-10). Daardeur verwerf Hy vir die ganse menslike geslag die ewige lewe. Ons noem dit die evangelie, die goeie nuus en dit is vir jou beskore deur die geloof in Jesus Christus. Jesus se oorwinning word behaal waar Hy in die plek van die mense aan die kruis sterwe en begrawe word en self uit die dood opstaan. Sy opstanding is die bewys en teken van ons eie opstanding uit die dood. (1 Kor 15:12-19). Daarom huldig die kerk op grond van Bybelse getuienis die opstanding van die gestorwenes se liggame uit die grafte. Die tussentoestand is dan verby en die nuwe lewe in die nuwe Jerusalem begin. Dit is die hemel. Ongelowiges sal ook liggaamlik opstaan, maar hulle sal die oordeel en strafgerig van God erf. Dit noem die Bybel die hel.

DIE WEDERKOMS VAN JESUS EN DIE EINDOORDEEL

Die opstanding van die dooies gaan plaasvind tydens die tweede koms van Christus. (1 Tess 4:13-18). Dan vind die eindoordeel plaas waar almal, soos in 'n regsgeding aangekla en skuldig bevind sal word. Diegene wat in Christus verlossing gevind het en hul lewens volgens sy wil geleef het, sal vrygespreek word. Diegene wat dit nie gedoen het nie, sal die ewige straf ontvang. (Mat 25:31-46).
Niemand weet egter wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie. (Mat 25:36-44),

DIE OPSTANDINGSLIGGAAM

In 1 Kor 15 dui die Bybel 'n kontinuïteit en diskontinuïteit tussen die aardse liggaam en die opstandingsliggaam aan. Dieselfde mens wat gesterf het, staan uit die dood op, maar vertoon nou anders. Sy nuwe bestaanswyse is nie meer gebonde aan aardse beperkings soos sonde, siekte, smart, pyn, honger en dood nie. Daar sal ook nie meer huwelike aanggaan en voortgeplant word nie. (Mat 22:30). Die nuwe liggaam is geestelik en nie gebonde aan tyd en ruimte nie. Dit is deel van en leef in 'n ander dimensie wat vir ons nog onbekend en vreemd is. Die feit dat Jesus fisies uit die dood opgestaan het en dit vir ons as bewys en voorbeeld dien, wil tog hê dat die fisiese liggaam uit die graf sal verreis en deel van die nuwe mens sal uitmaak. (Mat 28:1-10 ; Joh 20:1-30). Diegene wat tydens die wederkoms steeds gaan leef, sal nie sterwe nie, maar hulle liggame sal ook verander word en met onsterflikheid beklee word.

Miskien sal hierdie paar kort opmerkings 'n bietjie meer lig werp op die groot misterie van dit wat nog in die toekoms lê. Wees egter oortuig daarvan dat Hy wat die Weg, die Waarheid en die Lewe is, Jesus Christus die weg tot saligheid en nuwe lewe vir al sy kinders gebaan het.

Hy het die dood oorwin.

Ds Christie van Zyl

NG Gemeente Townsview