NG Gemeente Townsview

DIE HERE, EK EN MY DANKOFFER

Ds. Christie van Zyl


Wanneer daar oor kerkgeld en dankoffers gepraat word, raak sommige mense gou-gou agterdogtig, want dit is mos iets wat aan jou sak kom raak en in die verlede was daar al soveel kontroversie oor. Maar wanneer 'n mens dankoffers reg verstaan, bring dit vrede in jou gemoed en lewer dit groei in jou verhouding met God.

Deur net na die woord dankoffer te kyk, kom ons agter dat die klem op dank val en dat die offer 'n gevolg van ons dank aan die Here is. God het nie net aan ons die lewe en 'n goeie aardse bestaan gegee nie, maar deur die versoeningswerk van Jesus ook nog die ewige lewe. Wanneer ons dit insien en die waarde daarvan probeer meet, ontlok dit niks anders as dank nie en dan word ons dankoffer maar een van die talle maniere waarop ons positief op God se seëninge reageer.

DIE WOORD VAN DIE HERE MOET ONS OOR DANKOFFERS LEI

Van die vroegste tye af het gelowige mense offers van dank aan God gebring. Ons vind dit reeds by Kain en Abel (Gen 4:2-5), Abraham (Gen 14:20 ; Heb 7:4), Jakob (Gen 28:22), die Israeliete (Lev 27:30-33 ; Num 18:21-24 ; Deut 14:22) en die konings van Israel (1 Sam 8:15). Die profete moes ook telkens die gemeente aanspoor en vermaan oor die tiendes wat hulle vir die tempeldiens moes bring (Mal 3:7-10). Saam met die bevel was daar gewoonlik ook die belofte van die Here se seën.

In die Nuwe Testament kom dit ook telkens aan die orde. By Matteus 23:23 wys Jesus die Fariseërs daarop dat hulle nie net moet gee nie, maar ook liefdevolle harte moet hê. Hy sê by Lukas 20:22-25 dat ons aan die regering moet betaal wat hom toekom en aan God wat Hóm toekom. Paulus behandel hierdie sensitiewe saak ook vanuit 'n liefdeshart. Omdat God se goedheid groot is, word ons aangespoor om ook goeie dinge te doen en dit tasbaar te maak in die vorm van ons dankoffers (2 Kor 8:4,6,7, 24 ; 9:12,15). Hy wys by 1 Kor 9 daarop dat daar 'n ooreenkoms moet wees tussen ons inkomste en ons dankoffers en by 2 Kor 9 dat gelowiges volop moet saai om volop te kan oes.

ONS IS RENTMEESTERS

Ons Vader in die hemel is Here oor alles en alles behoort in elk geval aan Hom (Ps 24:1, 50:9-13, Hag 2:8, Lev 25:23). Hy deel uit soos Hy wil (Eks 3:17, Deut 8:18). Te midde hiervan moet die gawe van mededeelsaamheid funksioneer (Hebr 13:16). In Kron 29:14 lees ons

"Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het."

Ons is dus niks anders nie as rentmeesters of bestuurders van die eiendom van God. Hy mag selfs alles van ons eis soos die keer toe Jesus aan die ryk jongman gesê het om alles wat hy het, te verkoop en die geld aan die armes te gee (Mark 10:21). Om te besef dat jy deur God vertrou word met die dinge wat eintlik aan Hom behoort, maak jou ook bewus van die enorme verantwoordelikheid wat dit meebring en dat jy nie anders kan as om dit te doen in ooreenstemming met sy Woord nie.

OU VERBOND  - NUWE VERBOND

In die Ou Testament is verskillende gawes as godsdienstige handelinge beskou. Dit was bydraes wat in natura of kontant na die heiligdom gebring is (Deut 12:5,6,11-14, Lev 27:30-33, Mal 3:10). Dit was telkens 'n weerspieëling van algehele oorgawe, dankbaarheid en mededeelsaamheid wat uit die hart van die vroom mens gekom het (1 Kron 29:9).

Hierdie beginsel het nie in die Nuwe Testament verander nie. Tog merk ons 'n groter klem op vryheid, vrymoedigheid en mededeelsaamheid. Dit is ook 'n persoonlike saak tussen die Christen en sy Heer (Mat 6:1-4). Dit moet volgens jou vermoë geskied (2 Kor 8:12), maar moet ruim en oorvloedig wees (2 Kor 9:6). Dit moet ons oorgawe aan Christus bevestig (2 Kor 8:5) en uit 'n blymoedige hart kom (2 Kor 8:2).

WAT VAN DIE TIENDE ?

Onder die ou verbond is benewens die tiende van jou inkomste ook nog brand-, spys-, reuk-, sond- en skuldoffers vereis. Christus het egter nuwe betekenis aan die wet van Moses gegee toe Hy die volmaakte Offer geword het (Ef 2:15, Kol 2:14, Heb 9:10).

Dit beteken egter nie dat die mense van die Nuwe Testament nie dankoffers gegee het nie. Al verskil is, dat die gelowiges nou nie meer uit dwang nie, maar vrywillig (2 Kor 8:4), blymoedig (2 Kor 9:7), mildelik (2 Kor 8:2), uit liefde (2 Kor 8:7) en uit dankbaarheid (2 Kor 9:5) gee. Die voorbeeld van Christus wat self arm geword het om ons ryk te maak, behoort ons motivering te wees. (Ef 5:1,2 ; 2 Kor 8:3,9). Ons gee aan die Here van dit wat ons van Hom ontvang het.

Ps 116:12 sê dit raak :  

"Hoe kan ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my ?"

Hoewel ons nie meer wetties gebind is aan 'n tiende nie, bly dit steeds 'n bybelse en nuttige riglyn om die waarde van jou dankoffer te bepaal. Veral wanneer jy in ag neem dat die Here die ander nege tiendes aan jou eie goeddunke toevertrou met die belofte dat indien jy mildelik bydra, Hy verderaan vir jou sal seën.

BO-AAN ONS BEGROTING

"Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn." - Spreuke 3:9,10.

Die eerste item op ons begroting behoort ons dankoffer te wees. Dit weerspieël die gesindheid van ons hart, die kwaliteit van ons dankoffer en die prioriteit wat ons daaraan toeken in die lig van al ons ander uitgawes en verpligtinge. Spreuke 28:27 sluit aan by die belofte van Spreuke 3 : "Gee en vir julle sal gegee word."

Baie gelowiges getuig daarvan dat indien hulle hul bydrae eerste stel, hulle genoeg oor het om ook al hul ander verpligtinge met gemak na te kom.

EK IS MEDE VERANTWOORDELIK

Lidmaatskap van 'n kerk en gemeente maak my mede verantwoordelik vir die welsyn van daardie gemeente. Mede lidmate is my broers en susters en ons is op mekaar aangewese (Hand 43:2). Dus het die gemeente nie net aanspraak op my aktiewe deelname aan gemeentesake nie, maar ook op my geldelike bydraes ten einde die gemeente finansieel instand te

hou. Terselftertyd word daar uitvoering gegee aan ons geestelike welwese en behoeftes. Wanneer dit aangespreek word, kan daar ook na ander uitgereik word en hoe heerlik is dit nie !

Gemeentelede het via die kerkraad inspraak in die insameling en besteding van kerkgeld. Dit moet altyd deur alle partye gerespekteer word. Die kerkraad dra dus 'n groot verantwoordelikheid wanneer daar met gemeentefondse gehandel word en die gemeente moet die kerkraad en finansiële kommissie vertrou.

Die gemeente het onder andere die volgende verpligtinge :

s         Vergoeding van amptenare : leraars, skriba, kassier, orrelis, koster, werkers

s         Instandhouding van eiendomme, versekering, sekuriteit, belasting en dienste

s         Administrasie : kantoor uitgawes, telefoon, toerusting, drukwerk, geestelike leesstof, ens

s         Gemeente projekte : barmhartigheidsorg, allimenstasie, jeugwerk, bejaardes, sending, toekennings, ens

s         Sinodale en rings aanslag wat breë kerklike werk befonds : ouetehuise, kinderhuise, maatskaplike dienste, sending projekte, administrasie, ens.

Die kerk van Christus is nie vreemd aan die wêreld nie, maar deel daarvan. Dit is ook onderhewig aan finansiële laste en uitgawes waaraan voldoen moet word, inflasie en styging van kostes.

Nodige middele kom uit die harte en hande van die lidmate van die kerk wat op hulle beurt weer deel in die mildelike versorging deur hul hemelse Vader.

Dankoffers is dus nie 'n pligpleging nie, maar eerder 'n saak van dankbaarheid, offervaardigheid en eer aan God.

Ds Christie van Zyl

NG Gemeente Townsview