|
|
|
NG
Gemeente Townsview DIE
HERE, EK EN MY
DANKOFFER Ds. Christie van Zyl |
|
|
|
Wanneer
daar oor kerkgeld en dankoffers gepraat word, raak sommige mense gou-gou
agterdogtig, want dit is mos iets wat aan jou sak kom raak en in die
verlede was daar al soveel kontroversie oor. Maar wanneer 'n mens
dankoffers reg verstaan, bring dit vrede in jou gemoed en lewer dit groei
in jou verhouding met God. Deur
net na die woord dankoffer te kyk, kom ons agter dat die
klem op dank val en dat die offer 'n gevolg van ons dank aan
die Here is. God het nie net aan ons die lewe en 'n goeie aardse bestaan
gegee nie, maar deur die versoeningswerk van Jesus ook nog die ewige lewe.
Wanneer ons dit insien en die waarde daarvan probeer meet, ontlok dit niks
anders as dank nie en dan word ons dankoffer maar een van die talle
maniere waarop ons positief op God se seëninge reageer. DIE
WOORD VAN DIE HERE MOET ONS OOR DANKOFFERS LEI Van
die vroegste tye af het gelowige mense offers van dank aan God gebring.
Ons vind dit reeds by Kain en Abel (Gen 4:2-5), Abraham (Gen
14:20 ; Heb 7:4), Jakob (Gen 28:22), die Israeliete (Lev
27:30-33 ; Num 18:21-24 ; Deut 14:22) en die konings van Israel (1
Sam 8:15). Die profete moes ook telkens die gemeente aanspoor en
vermaan oor die tiendes wat hulle vir die tempeldiens moes bring (Mal
3:7-10). Saam met die bevel was daar gewoonlik ook die belofte
van die Here se seën. ONS
IS RENTMEESTERS Ons
Vader in die hemel is Here oor alles en alles behoort in elk geval aan Hom
(Ps 24:1, 50:9-13, Hag 2:8, Lev 25:23). Hy deel uit soos Hy wil (Eks 3:17,
Deut 8:18). Te midde hiervan moet die gawe van mededeelsaamheid
funksioneer (Hebr 13:16). In Kron 29:14 lees ons "Alles
kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het." Ons
is dus niks anders nie as rentmeesters of bestuurders van die eiendom van
God. Hy mag selfs alles van ons eis soos die keer toe Jesus aan die ryk
jongman gesê het om alles wat hy het, te verkoop en die geld aan die
armes te gee (Mark 10:21). Om te besef dat jy deur God vertrou word met
die dinge wat eintlik aan Hom behoort, maak jou ook bewus van die enorme
verantwoordelikheid wat dit meebring en dat jy nie anders kan as om dit te
doen in ooreenstemming met sy Woord nie. OU
VERBOND - NUWE VERBOND In
die Ou Testament is verskillende gawes as godsdienstige handelinge beskou.
Dit was bydraes wat in natura of kontant na die heiligdom gebring is (Deut
12:5,6,11-14, Lev 27:30-33, Mal 3:10). Dit was telkens 'n weerspieëling
van algehele oorgawe, dankbaarheid en mededeelsaamheid wat uit die hart
van die vroom mens gekom het (1 Kron 29:9). Hierdie
beginsel het nie in die Nuwe Testament verander nie. Tog merk ons 'n
groter klem op vryheid, vrymoedigheid en mededeelsaamheid. Dit is
ook 'n persoonlike saak tussen die Christen en sy Heer (Mat 6:1-4).
Dit moet volgens jou vermoë geskied (2 Kor 8:12), maar moet ruim
en oorvloedig wees (2 Kor 9:6). Dit moet ons oorgawe aan
Christus bevestig (2 Kor 8:5) en uit 'n blymoedige hart kom (2 Kor
8:2). WAT
VAN DIE TIENDE ? Onder
die ou verbond is benewens die tiende van jou inkomste ook nog brand-,
spys-, reuk-, sond- en skuldoffers vereis. Christus het egter nuwe
betekenis aan die wet van Moses gegee toe Hy die volmaakte Offer geword
het (Ef 2:15, Kol 2:14, Heb 9:10). Dit
beteken egter nie dat die mense van die Nuwe Testament nie dankoffers
gegee het nie. Al verskil is, dat die gelowiges nou nie meer uit dwang
nie, maar vrywillig (2 Kor 8:4), blymoedig (2 Kor 9:7), mildelik
(2 Kor 8:2), uit liefde (2 Kor 8:7) en uit dankbaarheid (2
Kor 9:5) gee. Die voorbeeld van Christus wat self arm geword het om ons
ryk te maak, behoort ons motivering te wees. (Ef 5:1,2 ; 2 Kor 8:3,9). Ons
gee aan die Here van dit wat ons van Hom ontvang het. Ps
116:12 sê dit raak : "Hoe
kan ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my ?" Hoewel
ons nie meer wetties gebind is aan 'n tiende nie, bly dit steeds 'n
bybelse en nuttige riglyn om die waarde van jou dankoffer te bepaal. Veral
wanneer jy in ag neem dat die Here die ander nege tiendes aan jou eie
goeddunke toevertrou met die belofte dat indien jy mildelik bydra, Hy
verderaan vir jou sal seën. BO-AAN
ONS BEGROTING "Vereer
die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes,
dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn."
-
Spreuke 3:9,10. Die
eerste item op ons begroting behoort ons dankoffer te wees. Dit weerspieël
die gesindheid van ons hart, die kwaliteit van ons dankoffer en die
prioriteit wat ons daaraan toeken in die lig van al ons ander uitgawes en
verpligtinge. Spreuke 28:27 sluit aan by die belofte van Spreuke 3 : "Gee
en vir julle sal gegee word." Baie
gelowiges getuig daarvan dat indien hulle hul bydrae eerste stel, hulle
genoeg oor het om ook al hul ander verpligtinge met gemak na te kom. EK
IS MEDE VERANTWOORDELIK Lidmaatskap van 'n kerk en
gemeente maak my mede verantwoordelik vir die welsyn van daardie gemeente.
Mede lidmate is my broers en susters en ons is op mekaar aangewese (Hand
43:2). Dus het die gemeente nie net aanspraak op my aktiewe deelname aan
gemeentesake nie, maar ook op my geldelike bydraes ten einde die gemeente
finansieel instand te hou. Terselftertyd word
daar uitvoering gegee aan ons geestelike welwese en behoeftes. Wanneer dit
aangespreek
word, kan daar ook na ander uitgereik word en hoe heerlik is dit nie ! Gemeentelede
het via die kerkraad inspraak in die insameling en besteding van kerkgeld.
Dit moet altyd deur alle partye gerespekteer word. Die kerkraad dra dus 'n
groot verantwoordelikheid wanneer daar met gemeentefondse gehandel word en
die gemeente moet die kerkraad en finansiële kommissie vertrou. Die
gemeente het onder andere die volgende verpligtinge : s
Vergoeding
van amptenare : leraars, skriba, kassier, orrelis, koster, werkers s
Instandhouding
van eiendomme, versekering, sekuriteit, belasting en dienste s
Administrasie
: kantoor uitgawes, telefoon, toerusting, drukwerk, geestelike leesstof,
ens s
Gemeente
projekte : barmhartigheidsorg, allimenstasie, jeugwerk, bejaardes,
sending, toekennings, ens s
Sinodale
en rings aanslag wat breë kerklike werk befonds : ouetehuise, kinderhuise,
maatskaplike dienste, sending projekte, administrasie, ens. Die
kerk van Christus is nie vreemd aan die wêreld nie, maar deel daarvan.
Dit is ook onderhewig aan finansiële laste en uitgawes waaraan voldoen
moet word, inflasie en styging van kostes. Nodige
middele kom uit die harte en hande van die lidmate van die kerk wat op
hulle beurt weer deel in die mildelike versorging deur hul hemelse Vader. Dankoffers
is dus nie 'n pligpleging nie, maar eerder 'n saak van dankbaarheid,
offervaardigheid en eer aan God. Ds
Christie van Zyl NG
Gemeente Townsview |
|
|
|
|