BYBELLEES

21 - 26 September 2009

 

 

Ons, wat al groter is, onthou nog die Halleluja-lied: Bring my die ou-ou tyding, die tyding van Gods heil, van Jesus sondaarsliefde... sonder peil.

Dis waaroor dit gaan hierdie week: Die beste nuus wat hierdie ou wêreld nog ooit gehoor het.

Maar eers gaan haal ons net gou weer by Josef.

DAG 1:  Lees Heidelbergse Kategismus Sondag 10, Vraag en antw 28

Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).

(a) Rom 5:3; Jak 1:3; Ps 39:10; Job 1:21,22. (b) 1 Tess 5:18; Deut 8:10. (c) Ps 55:23; Rom 5:4. (d) Rom 8:38,39. (e) Job 1:12; 2:6; Spr 21:1; Hand 17:2.

Dink na:  In die hele Gen 37 lees ons nie een keer van die Here nie, maar dit beteken nie Hy is met vakansie nie.  Soms kan ons ook leer uit tye wat swaar en moeilik is – al sien of voel dit die Here het ons vergeet.

Gebed: Hemelse Vader, leer ons om in teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar te wees.  Dankie dat niks of niemand ooit tussen U en ons kan staan nie en dat U ons nooit sal vergeet nie.

DAG 2:  Lees Rom 3:9-18

Dink na: Dis nie lekker om dit te lees nie, veral as jy onthou jy lees hier van jouself, nie van ander slegte mense nie.  

Gebed: Hemelse Vader, al wat ons nou kan vra is: Heer, wees ons genadig.  Dankie dat U genadig is en vergewe!

DAG 3:  Lees Rom 3:21-26

Dink na: God gee verlossing aan almal, sonder onderskeid.  Glo dit, dis ook van jou waar.  Ons glo nie sodat Hy ons kan verlos nie, maar OMDAT Hy ons verlos het.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U nie party mense voortrek nie.  Dankie dat U so goed is vir ons. Dis te goed om waar te wees, omdat U so goed is.  Ons loof U daarvoor.

DAG 4:  Lees Titus 3:3-7

Dink na: God verseker ons in sy Ou en Nuwe Testament dat Hy aan ons die ewige lewe gee.  Hy bied dit nie aan nie, Hy géé dit.  ‘n Testament is nie ‘n aanbod nie, ‘n testament verseker jou van jou erfporsie.  Glo maar God se testament.

Gebed: Dankie Vader, vir ons erfporsie.  Dis so ‘n groot geskenk.  Dankie dat U dit vir ons gee, verniet.

DAG 5:  Lees 1 Pet 1:17-21

Dink na: Iemand het baie hard gewerk en duur betaal vir ons erfporsie en dit is Jesus Christus.  Hy het die hoogste prys betaal – met sy lewe.  Gebed: Here Jesus, dankie dat U die duurste prys betaal het vir ons erfporsie.  Hoe sal ons U ooit genoeg kan dankie sê?

DAG 6:  Lees 1 Kor 5:17-21

Dink na: Deur Christus is die WÊRELD met God versoen, bymekaar uitgebring.  Ongelukkig glo nie almal in hierdie wêreld dit nie.  Daarom is dit ons voorreg om dit te vertel en te smeek, namens Christus: Aanvaar dit, glo dit, want Christus het dit ook vir jou gedoen.

Gebed: Here, gee dat ons getrou hierdie goeie nuus met almal om ons sal deel, selfs te smeek as dit nodig is.  

 

  1A_Panel