BYBELLEES

21 - 26 September 2009

 

 

DAG 1:  Lees die Heidelbergse Kategismus, Sondag 23

Vraag 60: Hoe is jy regverdig voor God?

Antwoord: Slegs deur 'n ware geloof in Jesus Christus (a); so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie (b) en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is (c), God nogtans (d) aan my sonder enige verdienste van my kant (e), uit louter genade (f) die volkome genoegdoening (g), geregtigheid en heiligheid van Christus skenk (h). Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het (i). Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met 'n gelowige hart (j) aanneem.

(a)Rom 3:21, 22, 24; 5:1, 2; Gal 2:16; Ef 2:8, 9; Fil 3:9. (b) Rom 3:9. (c) Rom 7:23. (d) Rom 4:4; 2 Kor 5:19. (e) Tit 3:5; Deut 9:6; Eseg 36:22. (f) Rom 3:24; Ef 2:8. (g) 1 Joh 2:2. (h) 1 Joh 2:1. (i) 2 Kor 5:21. (j) Rom 3:22; Joh 3:18.

Mooi gesê deur ons kerkvaders.

DAG 2:  Lees 2 Kor 5:17-21 [Hierdie was ook laasweek een van die Skrifgedeeltes, maar ek dit verkeerd aangegee as 1 Kor 5 – jammer.]

Dink na: Een van die Engelse woorde vir versoen is atonement: at-one-ment, om wat uitmekaar was weer bymekaar te bring.  As gevolg van ons sonde het daar ‘n kloof tussen ons en God gekom.  Christus het, van God se kant af, die kloof oorbrug, na ons toe gekom.  Nou is God-met-ons – Immanuel.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U ons met God versoen het sodat ons die ewige lewe ontvang het.

DAG 3:  Lees Matt 6:1-8

Dink na: Jesus praat sommer oor ‘n hele paar sake voor Hy aan sy kerk ‘n gebed gee.  Hy is soos ‘n goeie pa wat weet wat sy kinders nodig het, want Hy ken ons en ons omstandighede.  So, dis ‘n nonsens-storie dat jy vir die Here als moet vertel anders gaan Hy nie gee wat nodig is nie.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U ons so goed ken dat U weet wat ons nodig het.  Dankie dat U nie vir ons kwaad word as ons in U ore neul oor iets omdat ons bang is U vergeet ons nie.

DAG 4:  Lees Matt 6:9-13

Dink na: ‘n Gebed wat nie gaan om wat ons wil hê nie, ons Vader weet mos wat ons nodig het.  Nee, dit gaan oor God se koninkryk, want die gebed is deel van die Bergrede van Matt 6-9 wat die grondwet van die kerk is.  En gebed is nie om iets “vir die Here te gee nie”, maar om aan te meld vir diens.  As jy bid (byvoorbeeld) vir die koms van God se koninkryk, meld jy aan om daarvoor te werk.

Gebed: Here, laat ons altyd onthou dat ons belangrikste verantwoordelikheid op aarde is om ons te beywer vir die koms van U koninkryk.  Ek meld aan vir diens...

DAG 5:  Lees Matt 6:14-23

Dink na: Om te vergewe is ‘n baie belangrike saak – so belangrik dat dit hier so sterk gestel word asof die Here ons net sal vergewe as ons ander mense vergewe.  Met ander woorde: Jy het nie ‘n keuse nie, jy MOET ALTYD vergewe, want die Here het jou vergewe.

Gebed: Here Jesus, dis so moeilik om te vergewe.  Dankie dat U osn vergewe.  Bewaar ons daarvan dat ons redes sal soek om nie te vergewe nie, want dis sleg vir U koninkryk en vir my as ek nei vergewe nie.

 

  1A_Panel