NED.
GEREF. KERK
Townsview
Paastyd
2010
Liewe
Gemeente
Lydenstyd
strek vanaf Aswoensdag (17 Februarie) tot en met Stil Saterdag (3
April). Aswoensdag is die
sewende Woensdag voor Paasfees. Lydenstyd
duur veertig weeksdae en dié getal dui op die tydperk wat Jesus in die woestyn
deurgebring het waar Hy deur Satan versoek is.
Die Sondae in Lydenstyd vorm nie deel van hierdie veertig dae nie
aangesien elke Sondag 'n viering van die opstanding van Jesus is en dus 'n klein
Paasfees op sigself. Die hoogtepunt
van Lydenstyd is die Groot Lydensweek. Hierdie
week begin op Palmsondag (die Sondag voor Paassondag) en eindig met Stil
Saterdag.
Die
program in ons gemeente om hierdie belangrikste tyd in die kerklike jaar deur te
bring, is soos volg:
Op
Sondag 21 Maart is daar om 18:30 ’n erediens genaamd Paasherinnering. Ons reël hierdie gedramatiseerde erediens aangesien
heelparty lidmate met Paasnaweek uitstedig is.
Dit sal ook Nagmaal insluit en handel rondom dit wat ons met Goeie Vrydag
en Paasfees herdenk. Na die
erediens gaan ons gesellig verkeer in die saal.
Hierdie
erediens is vir die hele gemeente en nie net vir diegene wat Paasnaweek
uitstedig sal wees nie. U is
natuurlik ook altyd welkom om vriende saam te nooi.
Met
Palmsondag (28 Maart) se erediens om 09:00 herdenk ons die Sondag toe
Jesus op die rug van ’n donkie Jerusalem binne gery het en die mense palmtakke
gewaai en klere voor Hom op die pad oopgegooi het.
Bring asb. palmtakke saam na hierdie erediens.
Dit is ook die laaste Sondag voor ons Sy kruisiging herdenk.
Dan
volg ’n reeks meditatiewe dienste gedurende die Groot Lydensweek wat strek
vanaf Maandag 29 Maart tot Donderdag 1 April elke aand om 19:00 in die
kerk vir ± 30 minute. Ons dink
dag-vir-dag na oor wat tydens daardie onheilspellende week in Jesus se lewe
gebeur het voordat Hy gekruisig is. Dit
sal die vorm aanneem van gepaste gewyde musiek, voorlesings en bediening van die
Nagmaal in ’n stil en gewyde atmosfeer.
Goeie
Vrydag (2 April) is ons erediens om 08:00 met Nagmaal.
Na die erediens gaan ons ’n kruis plant op ’n koppie in ons omgewing.
Die plek is toeganklik met ’n voertuig.
3
April (stil Saterdag), wanneer ons daaraan dink dat Jesus in die graf was, bring
ons elkeen op ons eie in stilte en gewydheid deur en in afwagting op die fees
van die opstanding die volgende dag.
Paasfeesoggend
(4 April) ontmoet ons mekaar voor sonop by hierdie kruis vir ’n
opstandingsbiduur. Bring asb. ’n
warmfles met koffie en bekers saam. (Die
presiese tyd sal tydens die erediens op Goeie Vrydag bekend gemaak word.)
Om 09:00 is ons Paasfees-erediens soos gewoonlik.
Bring asb. enige wit blomme saam vir ’n seremonie tydens die erediens.
Daarna kuier ons saam in die saal om die vreugde van die opstanding
verder te vier. Elkeen bring asb.
’n bordjie eetgoed saam vir die geselligheid na die erediens.
Op
18 April – die derde Sondag in Paastyd - word die erediens om 09:00
ingerig as ’n Paassangdiens.
Ons
vertrou dat u hierin sal kan deel en dat die moeite wat ons doen daartoe sal
bydrae dat Paasfees – die belangrikste fees in ’n christen se lewe - vir u
’n spesiale belewenis sal wees.
Geseënde
Paastyd