BYBELLEES

25 - 31 Oktober 2009

Oorsig: Konings (Dawid)

 

 

DAG 1:  Lees Ps 105:5-10

Dink na: Ons het Nagmaal gevier waardeur ons op ‘n spesiale manier herinner is aan wat ons hier lees – dat die Here getrou bly.  So seker as wat ons die wyn en brood geproe het, so seker sal die Here sy Woord hou.  Die Nagmaal herinner ons aan die verbond – die vaste toesegging dat die Here ons God sal bly en ons sal seën.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ons in die erediens kon proe dat U getrou bly.  Mag dit ons ook aanmoedig en inspireer om aan U getrou te bly.

DAG 2:  Lees Ps 18:1-3

Dink na: Interessant is dat ons hierdie psalm net so kry in 2 Sam 22.  Lied 508 in ons liedboek skryf baie mooi oor wat ons hier lees.  Julle kan dit saamsing of lees as gebed.

DAG 3:  Lees Ps 18:7-14

Dink na: Dawid was in groot moeilikheid.  Dit word hier beskryf as ‘’n donderstorm.  Hy het tot die Here geroep om hulp en die Here het hom verhoor en gehelp.  Vertel mekaar van hoe die Here julle al gered het in noodsituasies.  Soos dit nou op die paaie gaan met al die verleggings en die onverskillige bestuurders is elke keer wat ons ry amper ‘n noodsituasie waaruit die Here ons verlos wanner ons veilig ons bestemming bereik.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U ons veilige bewaar.  Ons was ook al in die nood of het so magteloos gevoel soos teen ’n donderstorm, en dan het U uitkoms gebring.  Baie dankie!

DAG 4:  Lees Ps 18:29-34

Dink na: Miskien onthou ons dit beter soos dit in die Ou Vertaling staan: “... met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur.”  Laat my dink aan die dapper muis.  Die groot verskil is dat die dapper muis tog bang was vir ‘n valletjie, kat, ens.  Dawid sien vir enigiets kans, want die Here is met hom.  Dit beteken nie dit gaan altyd goed nie, maar met die Here by my kan ek kans sien vir wat ook al na my kant toe kom.

Gebed: Almagtige Here, ons is soms bang,  Dankie, dat U altyd by ons is.  U is soos ’n pa wat sy kind aan die hand lei in die donker.  Dankie, dat U dat U altyd by ons is.

 DAG 5:  Lees Ps 18:47-51

Dink na: Terug by die rots van Lied 508.  Op Hom kan ons vertrou.  En Dawid erken dat dit die Here is wat hom die oorwinning gegee het.  Onthou, Dawid skryf die lied nadat hy terugkyk oor ’n tyd dat hy uit groot moeilikheid verlos is en skryf dan ’n lied waarin Hy die Here dank vir die verlossing.  Dit beteken nie dat dit altyd so goed sal gaan nie.  Die Here se kinders vra Hom om hulle te beskerm en dank Hom na die tyd vir beskerming.  As dit nie goed gaan nie, beteken dit nie die Here het Sy rug op ons gedraai nie.  Ons verdien nie dat dit met ons goed gaan nie. 

Gebed: Here, aan U al die eer vir ons gespaarde lewens en dat dit met ons goed gaan.  Ons kla soms maklik en kyk dan mis hoe goed U vir ons is.

  1A_Panel