BYBELLEES

13 - 19 September 2009

 

 

DAG 1:  :  Lees Gen 33:18-20

Dink na:  Jakob het heelwat bakens in sy lewe gehad.  Hier bou hy weer ‘n baken nadat die Here die vyandigheid tussen hom en sy broer, Esau, opgelos het.  Waar Jakob ookal sou gaan in die toekoms het hy genoeg bakens gehad om hom te herinner aan die Here se uitkoms in die verlede sodat hy nie moed verloor nie.  Het julle sulke bakens?

Gebed: Here, baie dankie vir die doop en Nagmaal, bakens wat ons herinner dat U ons altyd help – veral as ons dreig om moedeloos te raak.

DAG 2: Lees Gen 35:9-19

Dink na: Die Here verander Jakob se naam na Israel wat beteken: God worstel.  Jakob het met God geworstel by die Jabbokrivier.  Hierdie ontmoeting met God (by Pniel=gesig van God) het ‘n groot verandering in sy lewe gebring.  Amper soos Paulus op pad na Damaskus.  Daarna het hy Esau met groot vreugde ontmoet.

Gebed: Here, dankie dat U ons elke dag ontmoet, maar veral Sondae in die erediens.  Gee dat hierdie ontmoetings met U ons lewens positief sal verander.

DAG 3:  Lees Gen 37:1-4

Dink na: Ons kan sommer aanvoel hier kom weer moeilikheid.  Josef vertel lelike stories van sy broers by sy pa.  Hy is sy pa se oogappel, want hy is die seun van Jakob se lieflingvrou, Ragel.  Hy word voorgetrek en dit bring net moeilikheid.  Hoe maak mens as jy voel jou broer of suster word voorgetrek?

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U nie party mense voortrek nie.  Dankie dat U ons almal ewe veel liefhet.  Gee dat ons ook soos U sal liefhê.

DAG 4:  Lees Gen 37:5-11

Dink na: Die drome het sy broers net nog meer kwaad gemaak vir Josef.  Selfs sy pa was verontwaardig daaroor, maar het tog daaraan bly dink, want hy het gewonder of die Here nie dalk iets bedoel daarmee nie.  Dis nodig dat ons eers mooi luister en dink voor ons - sommer vinnig - wat iemand sê afskiet as ‘n klomp nonsens of ons daarvoor vererg.

Gebed: Here, bewaar ons daarvan om sommer maklik te oordeel en wat mense sê af te lag as nonsens.  Maak ons geduldig om te luister en eers mooi te dink voor ons praat.

DAG 5:  Lees Gen 37:12-20

Dink na: Ai, dit klink amper weer soos Esau wat sy broer, Jakob, wil doodmaak.  Hierdie keer is dit omdat die broers nie kan glo dat die Josef se drome eintlik ‘n openbaring van God is nie.

Gebed: Hemelse Here, ons hou ook partykeer nie van wat iemand sê nie en dan pleeg ons karaktermoord deur lelike stories oor die persoon te vertel.  Vergewe ons asseblief!

DAG 6:  Lees Gen 37:21-28

Dink na: Ruben, die ouboet, en Juda maak planne om Josef se lewe te red.  Ruben beplan om hom te red en Juda wil hom verkoop as slaaf om sy lewe te spaar.  Om planne te maak om jou naaste te red, is nie God (en sy kinders) se manier nie.  God staan self in (die kruis) – dis liefde.

Gebed: Hemelse Vader, leer ons wat is die verskil tussen simpatie en liefde en lei ons om lief te hê soos dit hoort by U kinders.

DAG 7:  Lees Gen 37:29-36

Dink na: Wat ‘n hartseer storie.  Hoe kan kinders dit aan hul pa doen?  Dis verskriklik wreed en ongevoelig.  Maar hul pa, Jakob, was ook nie onskuldig nie.  Hy het Josef voorgetrek bo sy ander kinders en dit is waar die moeilikheid begin het. 

Die laaste vers gee ons al so ‘n bietjie hoop.  Josef gaan dalk nie so sleg af wees nie.

Gebed: Here, bewaar ons daarvan dat ons so ongevoelig sal wees.  Help ons om, ook as dit sleg gaan met ons, nuwe geleenthede raak te sien.

 

 

  1A_Panel