BYBELLEES

30 Augustus - 5 September 2009

 

 

DAG 1:  Lees Gen 25:34 & 27:18-22

Dink na: Esau het so min gedink van die voorreg wat die Here aan hom gegee het (om die oudste seun te wees) dat hy dit verruil vir ‘n pot lensiesop.  Hy was verkeerd om dit te doen. 

Jakob, en sy ma (Rebekka), het net so min respek vir die Here as Esau.  Hulle belieg iemand wat oud en blind is – en dit nogal sy pa en haar man!

Tog is Jakob een van die stamvaders van God se volk, die kerk.  Daar is dan sekerlik vir ons ook hoop dat die Here ons kan gebruik in Sy kerk...

Gebed: Hemelse Vader, vergewe ons dat ons ook soms so ondankbaar is en ander kere dalk weer agterbaks en skelm.  Dankie dat U ons lei op die eerlike pad sonder kinkels en draaie van oneerlikheid.

 

DAG 2:  Lees Gen 27:41-45 & 33:1-4, 10-11

Dink na: In Gen 25 lees ons hoe Jakob Esau se eersgeboortereg (bekorah) van hom af wegneem en in Gen 27 neem Jakob sy seën (berakah) van Esau af.  Maar God het ingegryp – so lees ons in Gen 33 - en hierdie twee haters van mekaar, versoen. 

God kan hopelose menseverhoudinge herstel.

Gebed: Here, dankie dat U hopelose verhoudings tussen mense heel maak.  In ons land is soveel hopelose en gebroke verhoudinge.  Begin by my om dit heel te maak.

 

DAG 3:  Lees Gen 27:46-28:5

Dink na: Rebekka kla oor Esau se vrouens en sê vir Isak dat Jakob nie dieselfde fout moet maak nie.  Maar sy jok, want sy soek eintlik net ‘n rede om Jakob weg te stuur sodat Esau hom nie kan doodmaak nie.  Rebekka vertel ‘n mooi storie, maar eintlik lieg sy. 

Gebed: Hemelse Vader, ek wil nie van leuens lewe nie.  Ek wil eerlik wees – selfs al maak dit seer.  Bewaar my van leuens.

 

DAG 4:  Lees Gen 28:6-9

Dink na: Toe Esau (Isak se “witbroodjie”) die indruk kry dat sy pa nie van sy vrouens hou nie (omdat Jakob weggestuur is om ‘n ander vrou te kry as een van die Kanaäniete tussen wie hulle bly) gaan neem hy nog ‘n vrou om te probeer om sy pa se guns te wen.  Of was dit dalk omdat hy hardekwas was en sy ma wou wys hy hou nie van haar nie?

Gebed: Hemelse Vader, bewaar my daarvan dat ek mense sal probeer seermaak omdat ek nie hou van wat hulle sê nie.  Dit bring tog net nog meer hartseer en ek wil so graag my naaste liefhê soos myself.

 

DAG 5:  Lees Gen 28:10-15

Dink na: Agter Jakob lê ‘n verlede van voortrekkery, bedrog, jaloesie, haat en liegstories.  Hy is ‘n mens wat ontrou is en die Here teleurstel om elke hoek en draai.  Maar, die Here bly getrou aan sy beloftes. Hy kan nie ontrou wees nie.  Hy laat ons NOOIT in die steek nie.

Gebed: Here, baie dankie dat U nie soos ons maak nie.  Dankie dat ons op U kan vertrou omdat U getrou bly al is ons ook hoe ontrou...

 

DAG 6:  Lees Gen 28:16-22

Dink na:  Soms verander die Here die plek waar ons in groot moeilikheid is na ‘n poort na die hemel.  Jou moeilikheid kan ‘n voorportaal na die hemel wees.  Jy is dalk nou by Bet-el: die Here is op hierdie plek.  God bou soms ‘n pragtige tempel uit ‘n hoop bourommel van ons lewe.

Gebed: Vader, dankie dat my probleme ‘n tempel kan word.  Maak my oë en ore oop sodat ek U kan raaksien – selfs in my moeilike tye.

 

  1A_Panel