BYBELLEES

16 – 22 Augustus 2009

 

 

DAG 1:  Lees Gen 22:5-8

Dink na: Ons weet wat gebeur het, so dis maklik om nou te sê ons weet die Here het voorsien.  Dis ‘n ander storie as jy nie weet wat gaan gebeur nie en om dan nog te kan sê en glo dat die Here sal voorsien.  Hoe voorsien die Here vir julle as gesin?  Was daar dalk al ‘n tyd in jou/julle lewe dat jy/julle nie geweet het waarheen nou nie en toe het die Here uitkoms gebring?  Miskien sit jy/julle nou in ‘n situasie wat sonder uitkoms lyk. 

Gebed: Hemelse Vader, baie dankie vir die uitkoms wat U gebring het.  Die grootste uitkoms wat U gebring het was toe Jesus gekom het om ons te verlos.  Baie dankie Jesus!  Ons bid vir mense wat in ‘n situasie is waar hulle nie uitkoms sien nie.  Sal U asseblief vir hulle ook voorsien?

 

DAG 2:  Lees Gen 24:2-8

Dink na: Uiteindelik het Abraham geleer om die Here te vertrou.  As die vrou nie wil saamkom nie – laat dit aan die Here oor, sê hy vir die slaaf. 

Hier sien ons hoe dit in daardie tyd gewerk het met vrou-vat.  Jou pa het vir jou ‘n vrou gereël, jy kon nie self kies nie. 

Isak se vrou mag nie ‘n Kanaäniet wees nie - dis die mense tussen wie Abraham-hulle nou woon.  Die verskil tussen die Kanaäniete (heidene) en Abraham se nageslag (gelowiges) moet altyd duidelik wees.  Daarom mag Isak nie met ‘n Kanaänitiese meisie trou en so met hulle meng nie.

Gebed: Here, mag dit ook altyd in ons lewe duidelik wees dat ons in U glo en net aan U alleen gehoorsaam is.

 

DAG 3:  Lees Gen 24:10-15

Dink na: Die slaaf loop bid-bid om die opdrag van sy meester, Abraham, te gaan uitvoer.  Hoe sal hy nou weet wie die regte vrou vir Isak is as die Here haar nie aanwys nie?  Die Here lei ons op verskillende maniere, ook om lewensmaats te ontmoet.  Hoe het julle mekaar ontmoet? Gebed: Here, baie dankie dat U ons op verskillende manier lei.  Maak ons ore en oë en harte oop dat ons mooi sal luister en kyk om U raak te sien en gehoorsaam te volg.

 

DAG 4:  Lees Gen 24:17-22

Dink na: Hierdie slaaf se mond het seker oopgehang van verbasing, want hier gebeur alles net soos hy die Here gevra het.  Die Here lei hom en antwoord sy gebed presies soos hy gevra het.  Die meisie wat die Here voorsien is mooi, bereid om te help en nog verlangs familie ook. 

Gebed: Hemelse Vader, dit is so lekker as U ‘n gebed verhoor net soos ons vra – en sommer gou ook soos hier.  Help ons asseblief geduldig wees as U nie so gou antwoord nie.

 

DAG 5:  Lees Gen 24:26-32

Dink na: Die slaaf sien raak dat die Here hom lei en voorsien en hy dank God daarvoor.  Kyk net hoe gasvry en vriendelik is Laban met hierdie vreemde man, Abraham se slaaf. 

Gebed: Almagtige God, baie dankie dat U ons lei en voorsien.  Help ons om te onthou om U altyd te dank daarvoor.

 

DAG 6:  Lees Gen 24:50-61

Dink na: Laban sien ook in dat God die slaaf gelei het en dat die Here besig is om Sy plan uit te voer.  Selfs Rebekka stem in om saam met hierdie vreemde man te gaan, want die Here is aan die werk.

Gebed: Here, bewaar ons daarvan dat ons ooit in die pad sal staan van U werk.  Gee dat ons U altyd sal eer en gehoorsaam volg.

 

DAG 7:  Lees Gen 24:62-67

Dink na: Dis duidelik dat Isak ook raakgesien het dat die Here aan hom ‘n vrou voorsien het.  Hy het met haar getrou en haar liefgehad. 

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U ook aan ons geluk en vreugde op aarde gee.

1A_Panel