BYBELLEES

1 – 15 Augustus 2009

 

 

DAG 1:  Lees Gen 12:1-2

Dink na: Dis waar ons begin het – die Here roep Abram om weg te trek van sy land en sy familie af.  Het hy dit gedoen presies soos die Here hom gesê het?  Lees vers 4-5.  As dit die Here se opdrag was om weg te trek van sy mense af, wat maak sy broerskind Lot dan saam met hom?

Gebed: Here, gee dat ons goed sal luister en 100% toegewyd en gehoorsaam aan U sal leef.  Dankie, Heilige Gees, dat U ons lei.

 

DAG 2:  Lees Gen 13:1-7

Dink na: Hier kry ons dit – ‘n gestryery ontstaan tussen Abram se veewagters en Lot se s’n, want Lot moes eintlik nie saamgegaan het nie.  So kry ons soms ook moeilikheid omdat ons nie luister nie.

Gebed: Hemelse Vader, bewaar ons daarvan dat ons die lewe vir onsself moeilik maak omdat ons nie aan U gehoorsaam is nie.

 

DAG 3:  Lees Gen 15:2-5

Dink na: Abram kry moeilik om te glo dat die Here sy belofte sal hou.  Abram gee moed op, maar die Here gee nie moed op met Abram nie.  Hy gaan wys hom die sterre en herhaal sy belofte.

Gebed: Troue Here van my lewe, baie dankie dat U nie moed opgee met my as ek so aan U twyfel nie.

 

DAG 4:  Lees Gen 16:1-2; 15-16

Dink na: Die “gelowige” Abram maak toe maar sy eie plan saam met sy vrou, Sarai, want hulle kan nou eenmaal nie meer wag nie.  Dis immers al 11 jaar gelede dat die Here aan Abram ‘n kind belowe het en niks gebeur nie. 

Gebed: Ai, Here, ons wag so moeilik.  Ons is soms so haastig en dink dan U het vergeet.  Help ons om op U te wag – al vat dit langer as wat ons gedink het.

 

DAG 5:  Lees Gen 18:1-2; 10-14

Dink na: Hierdie keer stuur die Here drie manne om met Abraham en Sara te praat.  Vir mense lyk dinge soms onmoontlik, maar vir die Here is niks onmoontlik nie.

Gebed: Here, bewaar ons daarvan dat ons ooit “klein” oor U sal dink – selfs al verstaan ons nie.

 

DAG 6:  Lees Gen 21:1-5

Dink na: Abraham was al 100 jaar oud toe Isak gebore is – die Here kom sy beloftes na, al moes hulle 25 jaar wag.

Gebed: Dankie dat U U beloftes nakom.  Dankie dat U getrou bly.  Dankie dat U ons nooit vergeet of in die steek laat nie.

 

DAG 7:  Lees Gen 22:1-8

Dink na: Abraham het seker gedink die Here is nie ernstig nie.  Gelukkig vra die Here nie vandag aan ouers om hul kinders te offer nie.  Ouers doen dit ongelukkig soms self deur hul kinders op te offer vir geld en goed, want soms gee ouers meer tyd en aandag daaraan as aan hul kinders.  Hoe is dit met julle gesin?

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir ‘n gesin.  Bewaar ons daarvan dat ons meer aandag sal gee aan allerhande ander dinge en dan mekaar afskeep.

 

DAG 8:  Lees Gen 22:9-14

Dink na: Abraham het tot ‘n wonderlike insig gekom waarmee hy sy seun se vraag kon antwoord – die Here voorsien.  Hoe help julle as gesin dat ander mense kan ervaar dat die Here voorsien, want Hy wil dit deur ons doen?

Gebed: Hemelse Vader dankie dat U voorsien.  Ons is so dankbaar vir alles waarin U vir ons voorsien.  Dankie dat U ons so bederf, want ons besef dat ons nie verdien dat U so aan ons voorsien nie.

DAG 6:  Lees Gen 24:50-61

Dink na: Laban sien ook in dat God die slaaf gelei het en dat die Here besig is om Sy plan uit te voer.  Selfs Rebekka stem in om saam met hierdie vreemde man te gaan, want die Here is aan die werk.

Gebed: Here, bewaar ons daarvan dat ons ooit in die pad sal staan van U werk.  Gee dat ons U altyd sal eer en gehoorsaam volg.

 

DAG 7:  Lees Gen 24:62-67

Dink na: Dis duidelik dat Isak ook raakgesien het dat die Here aan hom ‘n vrou voorsien het.  Hy het met haar getrou en haar liefgehad. 

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U ook aan ons geluk en vreugde op aarde gee.

1A_Panel