BYBELLEES
1 - 7 November 2009
Gee Hom eer; bewys Hom dank
DAG 1: Lees Ps
18:1-3
Dink na:
Toe Dawid terugdink oor die moeilike tyd waardeur hy is, kan hy net een ding
doen: Hy loof en prys die Here wat hom so getrou gehelp het.
Hy gebruik beelde uit die wêreld van destyds om te beskryf hoe die Here
vir hom ’n skuilplek, veilige vesting en rots is.
Watter beelde van die wêreld waarin ons vandag leef kan ons gebruik om
dieselfde te sê?
Gebed:
Hemelse Vader, dankie dat ons by U veilig is.
Soms wonder ons daaroor en soms twyfel ons of ons veilig by U is.
Hou ons asseblief styf vas.
DAG
2: 2 Kron. 5:4-10
Dink na:
Dawid het al die boumateriaal bymekaar gemaak vir die bou van die tempel.
Salomo het dit gebou en nou gaan dit amptelik geopen word.
Die belangrikste, die ark as teken van God se teenwoordigheid, word met
groot seremonie ingedra. Binne-in
was die tekens dat die Here Homself aan hulle verbind het, die twee plat klippe
van die verbond.
Gebed:
Here, dankie dat U Uself ook aan my verbind het en dat U my naam ken.
DAG
3: Lees 2 Kron. 6:12-18
Dink na:
Vir die Israeliete was die tempel God se adres op aarde.
Ons verwys nou nog soms na die kerkgebou as “God se huis”, maar ons
moet altyd onthou wat Salomo gebid het in vers 18.
Gebed:
Hoe wonderbaar is U Naam oor die hele aarde.
Ander gode bly in tempels, maar die hemel is nie eens groot genoeg vir U
nie. Ons aanbid U.
DAG
4: Lees 2 Kron. 7:4-6
Dink na:
Met groot dankbaarheid teenoor die Here is daar geoffer.
Dink terug aan 40 jaar gelede toe ons kerkgebou ingewy is.
Daar was seker ook groot dank en opgewondenheid.
En die gebou is opgerig met geld, offergawes, wat mense gegee het uit
dankbaarheid teenoor die Here vir Sy goedheid.
Eerskomende Sondag gee ons ook spesiale offergawes – 10de maand
dankoffers - om dankie te sê dat die Here ons so seën.
Gebed:
Hemelse Vader, hoe sal ons U ooit genoeg kan dankie sê vir al U liefde wat ons
ontvang? Ons is spesiaal dankbaar
omdat ons weet dat ons niks verdien van alles wat ons van U ontvang nie.
DAG 5: Lees
Gen.1:27, 2:7 & 1 Kor. 6:19-20
Dink na:
Met ons doop is ons daarvan verseker dat die Heilige Gees in ons woon.
Daar hoef nie eers iets te gebeur voordat die Gees in ons kom woon nie.
Hy doen, omdat God so sê. Daarom
verseker ons doop ons daarvan. In
Gen. 1 lees ons al dat ons God se verteenwoordigers is en in Gen. 2 lees ons dat
die Here die lewensasem in die kleibeeldjie geblaas het.
Ek en jy is God se “huis”.
Gebed:
Almagtige God, U
het my net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en my met aansien en eer
gekroon, U laat my heers oor die werk
van U hande, U het alles aan my onderwerp.
Dankie vir die groot voorreg.