BYBELLEES
7
– 12 Desember 2009
Die
vrede wat Jesus bring
Afgelope Sondag was dit 2e
Advent: “Vrede”.
Hierdie week lees ons met die oog op 3e Advent:
Vreugde. Dit gaan dan oor Luk
2:25-35.
DAG 1:
Luk 1:54-55
Dink na:
Die Here vergeet nooit sy beloftes nie. Hy
hou woord. Hy het aan Abraham
belowe dat Hy hom en sy nageslag sal seën en dat hulle tot ’n seën sal wees
vir die wêreld. Dit doen Hy
deurdat die Verlosser van die wêreld uit Abraham se nageslag gebore is.
Gebed:
Hemelse Vader, dankie dat U U woord hou en dat ons op U kan vertrou.
Dankie, dat U my verlos het, dat U my die ewige lewe gee – verniet -
omdat U my liefhet en die hele wêreld so liefhet.
DAG
2: Lees Lukas 2:27-32
Dink na:
Simeon is dankbaar dat hy God se verlossing vir die wêreld gesien het.
Ons sien hierdie verlossing elke keer as ons die kruis sien of daaraan
dink, elke keer as ons in die Bybel lees dat ons verlos is.
Gebed:
Here, dankie vir my verlossing. Dankie,
dat U die Lig in my lewe is. Laat
ek soos U na die mense om my kyk sodat ek U lig raaksien.
DAG
3: Lees Lukas 2:33-35
Dink na:
Dis moeilik om so daarna te kyk. Kerstyd
is ’n tyd van geluk en vrede, maar Simeon praat van val en opstanding en van
’n swaard deur Maria se siel. Het hy dit dalk verkeerd?
Nee, wie Jesus volg kan ook hartseer en leed verwag.
Gebed:
Hemelse Vader, gee dat my gesindheid teenoor die Kind van Betlehem so sal wees
dat ek in gehoorsaamheid aan en in navolging van Hom sal lewe – kom wat wil.
DAG
4: Lees Lukas 14:25-27
Dink na: Ons dink soms ons dra ons “kruis” wanneer ons
siek is of een of ander ramp ons tref, maar dis iets anders.
Kruisdra beteken om jouself in die tweede plek te stel.
As volgeling van Jesus moet ek ook mense vergewe wat my benadeel soos
Jesus sy moordenaars aan die kruis vergewe het.
Dis wat familie van Jesus doen. Is
jy so familie van Jesus?
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U dit vir my moontlik maak om my eie belange tweede te
stel. Vergewe my dat ek so
selfsugtig is. Laat my lewe
prakties wys dat U die eerste plek in my lewe inneem.
DAG 5: Lees
Lukas 12:49-53
Dink na:
Dit is seker ’n fout. Die
Vredevors kan nie twis bring nie. Dit
pas net nie. Nee, dis reg.
Jesus se vrede is nie maar net vrede-ter-wille-van-vrede waar sommige
stilbly en toegee en ander hul sin kry nie.
Mense wat hul wil op ander afdruk, sondig.
Dan is daar nie vrede nie. Hierdie
vrede lê buite ons, daarin dat God se wil geskied.
Eers dán is daar vrede.
Gebed:
Here, gee dat ek nooit my eie sin sal soek en op ander mense sal afdruk nie,
maar saam soek na U wil sodat U koninkryk kom en ons die vrede wat God gee
ervaar.